Weg!

PIERRE SE BRIEF

-

Die voorreg om te kan reis is wonderlik, maar dit kan ook onmin in ’n huwelik veroorsaak. Ek’s lief vir ’n padkaart; daar’s nie ’n agterpad wat ek nie sal aanpak nie, maar ek vra nie nie vir aanwysings nie – ’n gevaarlike kombinasie. ’n Vrou wat al lank getroud is, kan ’n onding sien kom en dit vinnig in die bek ruk, veral wanneer haar man soos ’n nukkerige perd ’n windskeef rigting wil inslaan.

Ek en my vrou was egter pas getroud toe ons ’n eerste groot road trip van die Kaap af deur die ou Transkei tot by Umdloti in KwaZuluNat­al aangepak het. Sy’t nog nie alles van my geweet toe ons ’n opslaanwoo­nwa (eintlik net ’n dubbelbed op wiele) aan ons Toyota Conquest gehaak en die N2 gevat het nie.

Ek het my beteuel op die lang pad noordoosku­s toe. Ons het by die groot dorpe gekamp en by die hoofpaaie gehou. Maar die week by Umdloti het my oorgenoeg tyd gegee om my kaartboek te bestudeer. Vir daai ewigdurend­e en uitmergele­nde stuk N2 deur die Transkei op pad terug Kaap toe was ek niks lus nie.

Ek het my planne in die stillighei­d beraam terwyl Ronel onder die sambreel op die strand lê en dut het.

Met die terugreis het ons by die Wimpy op Kokstad gestop vir middagete. Ek het my kaartboek ontplooi. “Kyk, Bok. Hier’s ’n splinternu­we teerpad na Matatiele. Van daar af kan ons Maclear toe, dan die dag daarna Hogsback toe. Dis baie mooier. En korter. En rustiger as die verdomde N2 met al sy beeste en taxi’s,” het ek gesê. “Is jy seker?” het sy gevra. “Ja, kom ons vat die scenic route.” Dit was die dae toe my woorde nog vir die evangelie aangehoor is. Die R56 na Matatiele was skouspelag­tig. ’n Donderstor­m het in die verte teen die spitse begin broei. Gladde teer al die pad met geen ander voertuie in sig nie. “Ek skat die pad is een van die besbewaard­e geheime in Suid-Afrika,” het ek fyn gespog (asof ek hom ontdek het). Ronel het geglimlag en die Juluka- tape omgedraai. “Beneath a copper sky. We are the scatterlin­gs of Africa,” het ons saam met Johnny Clegg gesing.

En toe, by Matatiele, eindig die teer met ’n stomp en harde slag en word ’n donkiepad. Die Drakensber­g troon bo ons regtervens­ter uit, links na onder val die groen vlaktes van die Transkei die verte in. Bo ons verlig die blitse ons strak gesigte soos ons en ons woonwa’tjie stadig die onbekende inbons. Johnny is lankal stil. My vrou ook.

Vier uur en twee pap wiele later (een op die Conquest en een op die woonwa) kom ons nat en bedremmeld in die donker by MacClear se kampterrei­n aan. Later die aand, met die donderweer wat nog steeds bo ons rammel, probeer ek vrede maak. “Sjoe, dit was nou vir jou ’n avontuur, of hoe? Was dit nie pragtig nie, Bok? Bokkie…?”

Nou – 25 jaar later – het ek lekker gelees aan Zigi se storie op bl. 102 oor daai einste pad (lank nie meer ’n donkiepad nie ). Ek brand om dit weer te ry, en my kaartboek sê daar’s ’n mooi agterpad van Matatiele af via die Mariazell-sendingsta­sie na Mount Fletcher. Nou moet ek net vir Ronel oortuig...

Groete.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa