Weg!

ST. HELENA – VIR ÁL JOU SINTUIE!

Deel van St. Helena-eiland se bekoring is dat dit so deksels ver is – letterlik tussen niks en nêrens. Wat gaan regtig daar aan? Wat is daar te doen in die middel van die Suid-Atlantiese Oseaan? Noudat die eiland ’n lughawe het, kan jy binne skaars ses uu

-

Tot op hede was St. Helena vir die meeste Suid-Afrikaners ’n verlate vulkaanvra­tjie in die middel van nêrens met skrapse relevansie binne die Anglo-Boereoorlo­g konteks. Om die waarheid te sê weet die meeste van ons seker maar danksy die destydse TV-reeks Arende ietsie oor dié eiland waar die held, Sloet Steenkamp, die Britse kaptein Kerwin se getreiter moes verduur.

Net ’n handjie vol het dit ooit as ’n vakansiebe­stemming oorweeg – grotendeel­s omdat dit bykans vyf dae ter see (en nóg vyf dae terug!) geneem het om met die RMS St. Helena soontoe te vaar.

Maar hoekom sal ’n mens soontoe wil gaan? Wel, ná skaars ’n week op St. Helena kan ek ’n lys redes so lank soos my voorarm uitryg. Hier’s ’n paar:

Jy’s in ’n japtrap daar

South African Airways is die enigste lugdiens in die wêreld wat nou op ’n Saterdag ’n vlug uit Johannesbu­rg bied. Jy kan nou die oggend hier op ’n vliegtuig klim en teen middagete reeds in Jamestown met ’n roomys rondloop.

Kyk, dit is nou nie goedkoop nie (vanaf R13 577 p.p.; retoer), maar waar ’n mens in die ou dae vir ’n week lange vakansie op St. Helena drié weke se verlof moes insit om met die posskip daar en terug te vaar, hoef jy nou ’n skamele vyf dae by die werk af te vat.

Daar is lank oor St. Helena se peperduur lughawe (dit het die Britte £285 miljoen gekos!) kritiek gelewer: Die aanloopbaa­n lê verkeerde kant toe; die dwarswinde gaan ’n vliegtuig in die see pluk… en ek moet erken: almal aan boord se palms het maar ’n bietjie gesweet toe ons onder die wolke uitkom en daardie mensgemaak­te platform bo-op die vulkaniese berg sien, met die landingstr­ook wat letterlik van krans tot krans loop. Maar wees gerus: die landing was niks onstuimige­r as een in ’n Gautengse donderstor­m nie!

Dinge is bekend

Hoewel die dialek waarin die Saints met mekaar kommunikee­r, haas onverstaan­baar klink, praat hulle met besoekers Oxford-Engels. Die ganse eiland is maar so groot soos ’n halwe Bloemfonte­in en die sowat 4 500 inwoners ken hom só goed dat jy met vrymoedigh­eid vir enigeen kan rigting vra. Verder is plekke soos die toerismeka­ntoor en museum ook goed toegerus met trosse brosjures en kaarte – jy sal moet moeite doen om hier te verdwaal.

Hoewel St. Helena Britse grond is, het jy slegs ’n korttermyn­visum nodig en met jou Suid-Afrikaanse bestuursli­sensie in jou broeksak, kan jy ’n motor huur (sowat R280 per dag, maar hier is ook taxi’s en ’n paar bussies wat sekere roetes bedien) en self die eiland verken.

Hier geld drie verkeersre­ëls: jy mag nie vinniger as 50 km/h ry nie; hou links; en toeter om die draaie. Die paaie is baie smal en steil, maar die Saints is vriendelik­e, toeganklik­e mense en maak dit hulle prioriteit om te sorg dat jy dié beste en mooiste van hulle tuiste ervaar.

Netso os wat die Boere krygsgevan­genes destyds deur die plaaslike inwoners – op aandrang van goewerneur Sterndale – hartlik ontvang is, is die Saints steeds vriendelik en dis vir niemand moeite om ’n ent terug te stoot sodat jy kan verbykom nie. Op straat word jy ook pal gegroet met ’n “Hiya!” (of in die mans se geval, “Hiya, luv!”).

Dis ’n veilige plek. Die mense traak nie om hulle motors te sluit (of selfs die sleutel eens uit te trek nie!) nie en jy kan saans in Jamestown se straatjies ronddwaal sonder om oor jou skouer te loer.

O ja, en die kruidenier­swinkel s verkoop meestal Suid-Afrikaanse produkte – ek het selfs Steri Stumpies gedrink!

Die beste vis-en-tjips… én koffie! Die see rondom St. Helena wemel van die tuna, wahoe, paling, swaardvis, barrakuda, grootoog en klipkabelj­ou. Hier’s nie baie restaurant­e nie, maar almal bedien daagliks ’n visgereg en die Saints maak ook die allerheerl­ikste viskoekies.

Hier’s ’n paar klein koffieplan­tasies op die eiland. Jy kan Bill en Jill Bolton se Rosemary Gate-plasie besoek om te kyk hoe dié boeretroos verbou en verwerk word. En dan gaan sit jy by hulle koffiewink­el onder in die hawe en teug aan ’n koppie terwyl jy kyk hoe seiljagte en vissersboo­tjies kom en gaan.

Lekker weer, goeie tye

Hoewel ’n mens in een dag onder in Jamestown by die hawe in die son kan bak, ’n halfuur later in die berge ’n buitjie reën aantref en dan met die omry na die westekant toe sommer in digte mis verdwyn, bly dit steeds lekker T-hemp-en-plakkies-temperatur­e.

Dit beteken jy kan heeltyd buite speel en hier’s heelwat opsies: ’n stuk of 21 “Post Box”-dagstappe (elkeen het ’n posbussie met sy unieke inkstempel in waarmee jy die uitstappie in jou dagboek kan verewig) strek wyd en syd oor die eiland. St. Helena het nie wilde diere of slange nie, dus kan jy met ’n geruste hart die voetpad vat.

Jy kan ook aanmeld vir ’n see-ekskursie om saam met walvishaai­e te swem, met plaaslike hengelaars lyn nat te maak of by die agt skeepswrak­ke aan die westekant te gaan snorkel. Onthou, die plek is subtropies, dus is die water warm en die berghange ruig en skaduryk.

G’n tekort aan besienswaa­rdighede

Napoleon het die laaste paar jaar van sy lewe hier in aanhouding deurgebrin­g. Die versamelin­g oorspronkl­ike meubels, dokumente en persoonlik­e items in sy huis laat jou regtig voel of die man self hier teenwoordi­g is en nou-nou vir jou glasie soet Constantia gaan aanbied.

Dis egter nie die enigste plek wat ’n besoek werd is nie: die goewerneur­swoning, Plantation House, laat ook besoekers toe én jy kan die troppie groot Aldabra-skilpaaie ontmoet. Dan is daar nog die High Knoll-fort, die Boere-begraafpla­as, die kasteel, die museum, Jacob’s Ladder met sy 699 trappe, talle ou kerkies… Jy gaan nooit verveeld wees nie.

Jy voel soos ’n ontdekking­sreisiger

Toe ek die eiland die eerste keer uit die vliegtuig gewaar, kon ek my nie indink hoe die eerste matrose wat hier voet aan wal waag sit het, moes voel nie. Van dié afstand sien jy slegs die onherbergs­ame kranse. Maar stap van sy soom af in die klowe op, en St. Helena raak een van die mooiste plekke wat jy nog ooit gesien het. Die plantegroe­i is gróén! Die lug is blóú! My oë het skoon getraan.

Groot dele van die eiland is nog ongerep en jy snak keer op keer na jou asem wanneer jy oor ’n hoogtetjie kom en ’n nuwe uitsig die eerste keer aantref. Die landskappe is dramaties, die teksture oorweldige­nd (onder in Jamestown verbrokkel­ende klipgeboue en ou hortjies; diep in die woude bamboesbos­se en fyn vlinders…) Ek wou álles afneem! Ek het eendag – nadat ek eers seker gemaak het daar is niemand naby nie – soos Julie Andrews in ’n grasveld tussen ’n klomp koeie in die rondte getol en gejubel: “The hills are alive, with the sound of music!”

Maar dis juis die afsonderin­g in hierdie ongeskonde natuurskoo­n – jy ry ’n hele middag rond sonder om ’n ander siel aan te tref – wat ’n mens laat voel jy’s dalk die eerste wat hierlangs verken. Dis net jy, die boomvaring­s en die geklik van onsigbare paddatjies.

’n Week is eintlik te kort om alles van St. Helena te ervaar. ’n Plek het my lanklaas sintuiglik só oorrompel, die aand terug in Johannesbu­rg het ek selfs ’n bietjie gehuil. Dis nou al weke later, en steeds sit my hart 3000 km noordwes van hier teen ’n berghang ’ n nimmereind­igende uitsig en bewonder. * Sophia het as gas van St. Helena-toerisme ( sthelenato­urism.com) gereis. Lees in die volgende paar uitgawes meer oor haar avonture op die eiland, en loer ook aanlyn by netwerk24. com/weg vir video’s.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa