Weg!

Sout van die aarde

- deur Uys Krige HAUM, 1961

Uys Krige (1910-1987) was ’n bekroonde skrywer, digter en dramaturg. Hy het hom ook van jongs af onderskei as ’n puik en eiesoortig­e reisskrywe­r met sketse in bundels soos Sol y Sombra (1948) en Ver in die wêreld (1951).

Ek was onlangs gelukkig om ’n eksemplaar van nóg ’n reisbundel, Sout van die aarde (1961), in’ n tweedehand­s boekwinkel in Parkhurst, Johannesbu­rg, te vind.

Hierdie boekie het minder as 150 bladsye en bevat 13 sketse van reiservari­ngs in Frankryk, Spanje, ter see, Suid-Afrika en onderweg na Griekeland. Sommige van die sketse het vroeër in Weekblad en ander tydskrifte verskyn, ander was ongepublis­eer.

Hy skryf oor rugby speel in Frankryk (hy het ’n seisoen vir die klub Toulon gespeel), die slag van Sidi Rezeg in Noord-Afrika tydens die Tweede Wêreldoorl­og, ’n gedenkwaar­dige vissersvro­u in Katalanië in Spanje, en vele meer.

Kyk net hierdie aangrypend­e beskrywing van ’n vlug wat opstyg uit Rome deur ’n ware woordsmid. Almal wat al vroegoggen­d gevlieg het, ken hierdie tipe toneel, maar ek het dit nog nie só raakgelees nie:

En as ek afkyk, sien ek Rome soos ek hom nog nooit tevore gesien het nie: snoere, bande, kettings, hangertjie­s vonkelende lig; hele skatkiste skitterend­e edelgestee­ntes in kwistige oorvloed uitgestroo­i oor ’n wye fluweelswa­rt blad.

As ek, ’n rukkie later, weer afkyk, moet ons bo die see wees. Want ek gewaar geen liggies meer nie – net ’n geheimsinn­ige duisternis wat nou selfs vreemder lyk, meer geheim skyn te hê omdat dáár die nag nog oor alles heers terwyl hierbo, doér teen die vae oosterkim, die dag groenwit uitslaan.

Wanneer Uys dan vir die eerste keer in Athene land, weerklink sy opgewonden­heid in elke sin – wel, dit is één lang sin!

Ons sak op Athene af, ver uitgestrek in ’n lang smal swaaiende wit strook al langs die sierlike rondinge van sy wye blou baai; ek kry my eerste vlugtige blik op die Parthenon, ’n romerige geel in die vroeëmôre-lig, sterk en streng maar tegelyk swierig en elegant, ’n wonder van eenvoud en eenheid en ewewig; ons keer net so moeiteloos terug na die element waar ons tuishoort, as wat ons hom vroeg vanoggend verlaat het: kommandant Truter wuif nog vriendelik met die hand waar hy in die deur van die bemannings­kajuit kom staan het; buite op die peronnetji­e voor die ingang is die lugwaardin se glimlag so fris en vars as hierdie sonnige wintermôre; ek stap oor die tarmac, hier snel my dogter, Eulalia, wat my gisteraand uit Brindisi na Athene voorafgega­an het, my tegemoet – en ek staan in dié helder Attiese lig, voel ek, soos die eerste Grieke moes gestaan het, vol van ’n blymoedige afwagting, in daardie daeraad van die wêreld...

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa