HENRIETTE BIESENBACH
Canon 6D Mk. II Canon 16-35 mm-lens
HENRIETTE VERTEL: Ek het dié outjie op my daaglikse stappie in Fernkloof buite Hermanus gewaar.
Gelukkig het hy sy eie weerkaatsing in my lens gesien en sommer flink nader gestap.
Fernkloof is wonderlik vir fotografie omdat daar soveel veilige staproetes is. Die fotogeleenthede strek van ’n uitsig oor die see met die wyehoeklens tot suikervoëls en suikerbekkies met die telefotolens en dan die fynbosblommetjies met die makrolens. Voorwaar ’n voorreg om hier te bly – kom kuier gerus!
TOAST SÊ: Dit lyk my ons sal moet kom kuier, Henriette! Hermanus is mooi wêreld, maar dit bied soveel meer as net ’n interessante kuslyn.
Die berge agter die dorp – waar Fernkloof lê – is die inwoners se speelplek.
Dit is g’n maklik om ’n goeie skilpadfoto te neem nie. Jy het gewillige knieë en sterk heupe nodig, want jy moet óf op jou knieë gaan of sommer plat op jou maag lê. Dis belangrik om die skilpad uit ’n lae hoek af te neem – probeer op oogvlak met hom kom. Dis die enigste manier hoe jy die kop en nek persoonlikheid kan gee.
As jy staan, is die kanse goed dat jy die kop direk van bo af neem en dus nie oogkontak kan maak nie.
Jy verloor ook die driedimensionaliteit van die skillie se huishobbel. Van bo af lyk die dop “plat”, maar op grondvlak troon dit uit bo voetsoolvlak tot iets imposants.
Olie daai skarniere en gaan kuier doer onder vir ’n skilpad.