NAMIBIË, 1964
Ferdi Schoeman van Pretoria vertel: In die somer van 1964 het ek as honneurstudent twee weke lank meer as 5 000 km deur die destydse Suidwes-Afrika gery in ’n Ford Taunus-minibus. Ek en drie ander voorgraadse studente van die Universiteit van Oranje-Vrystaat se departement botanie is saam met ons professor, dr. E.M. van Zinderen Bakker, op ’n navorsingsreis. Die doel was om goeie plekke te kry vir grondnavorsing, asook botaniese monsters vir die departement se herbarium.
Ons roete het van Bloemfontein af oor Prieska na die Augrabieswaterval geloop. Ek onthou die intense hitte en hoe die warm sand jou kaal voete byna verskroei het.
Ons het oral in tente gekamp – meestal langs die pad of in die woestyn. Ons professor het geglo uie sal ons gesond hou en ons het báie etes bestaande uit brood, rou uie en tamaties geëet.
Van daar af is ons deur Upington, oor die grens na Karasburg, die Visriviercanyon, Keetmanshoop, Windhoek, Waterberg, Uis, Usakos, Swakopmund, Walvisbaai, die Kuisebwoestyn-navorsingstasie, terug Windhoek toe deur die Khomas Hochland en terug huis toe.
Ons is onder meer na die warmwaterbron by Gross Barmen, sowat 25 km wes van Okahandja. Soos ’n mens op die foto (foto bo) kan sien, was dit ’n rustige plek met palmbome. Toe ek ’n paar dekades later daar kom, het ek net die ou palmbome herken: Dit was nou ’n gewilde oord met binnenshuise en buiteswembaddens, chalets, kampplekke en ’n restaurant.
’n Ander stilhouplek op die reis was die Spitzkoppe, en op pad soontoe moes ons die minibus uit die sand grawe (onder) – nie lekker in die Februariehitte nie.
Van die ander hoogtepunte langs die pad was die Hardapdam (toe nog relatief nuut), die warmwaterbron by Rehoboth, die Windhoekmuseum, die versteende woud naby Welwitschia en rotskuns by Brandberg. Vir die deel in die Namib-park het ’n 4x4 van die SWA Museum saamgery om ons by te staan met petrol en op die sanderige terrein.
Die reis het ’n liefde vir die woestyn en ander halfwoestyngebiede soos die Karoo en Namakwaland by my gevestig.