MENSE SE LENSE
Hier is vandeesmaand se treffendste foto’s van dieremaniere en mooi buitelugtonele.
’n Grondpad ná die reën, ’n oorvloed kosmos en ’n Karoolangstertjie aan die Weskus... is jou foto dié maand ons wenfoto?
MICHAEL KOLBÉ
@mkphotographysa Canon 5D Mk. III Canon 70-200 mm-lens
MICHAEL VERTEL: Dit was ’n bloedige warm dag in Namibië se Etosha- nasionale park en daarom het hierdie olifant ’n bietjie “sonskerm” aangesit. Ek het ’n hele spul foto’s van die olifant geneem, maar hierdie een het uitgestaan.
Die wit stof en droë dorings staan in kontras met die blou lug – dit lyk amper surrealisties. My verstellings was: lensopening f6.3, sluiterspoed 1/1 600ste van ’n sekonde en ISO 160.
Hoewel ek hou van die reël van derdes, het ek in dié geval die voorwerp in die middel van die raam verkies.
TOAST SÊ: Dis goed om van tyd tot tyd doelbewus fotografie se “reëls” te breek. Ek is geneig om met Michael saam te stem: Dis asof die sentrale komposisie die olifant ’n meer onmiddellike teenwoordigheid gee. Jy kan hom nie ignoreer nie: Hier staan hy nou soos ’n standbeeld in die veld.
Wanneer jy ’n aksiefoto neem, is dit in elk geval belangriker om seker te maak dat jy die perfekte (kritieke) oomblik vasvang – in dié geval is dit die slurp wat die grondjies die lug in gooi. Dis gewoonlik makliker om met vinnigbewegende aksie jou fokuspunt in die middel te hou – dit maak die outofokus se joppie heelwat makliker.
Maak altyd eers seker jy kry jou foto. As jy later meer tyd het, kan jy met verskillende komposisies eksperimenteer. Wie weet, dalk het jy ’n geduldige olifantmodel...
Die strak kleurpalet is treffend. As dit nie vir die blou lug was nie, sou die foto soos ’n swart-wit foto gelyk het.
Dié strakheid word verder aangehelp deur die teksture: die skerp, hoekigheid van die doringtakke en die fyn, duidelike groewe op die olifant se growwe vel. Dis asof jy hierdie teksture gaan vóél as jy oor die foto streel.
Goeie werk, Michael!
MARIUS NIEMANN
@marius10niemann Apple iPhone X
MARIUS SKRYF: Hierdie foto is geneem by Ulco, ’n myndorpie naby Barkly-Wes in die Noord-Kaap.
Ná die vorige nag se reën was dit koel en mistig (ons ken koelerigheid hier, maar nie mistigheid nie) en ek het op hierdie mooi prentjie afgekom op die Ulco-gholfbaan.
Ek het my selfoon by my gehad en gou gestop, uit my bakkie geklim en op my hurke gaan sit om ’n goeie perspektief te kry.
Ek is bevoorreg om elke dag buite te kan werk – ek is ’n kontrakteur by die myn se sportterrein en tuine.
TOAST SÊ: Soms is dit eenvoud wat ’n foto ’n wenner maak. Hier is net drie dinge wat saamwerk om Marius se foto hierdie maand se pryswenner te maak: Die tweespoorpad wat jou in ’n oogwink lei van die voorgrond na waar die prominente boom die foto anker, en dan die mistigheid.
Tussen die pad, die boom en die mistigheid is die enigste ander bepalende faktor Marius self, wat wakker genoeg was om hierdie as ’n fotogeleentheid raak te sien.
Die mistigheid verleen iets dromerigs aan die toneel – dit lyk nou amper soos ’n fliekplakkaat.
Dit wys jou ook dat jy nie Kruger of Kalahari toe hoef te ry om ’n wenfoto te neem nie: ’n Myndorp bied net soveel geleenthede; jy moet dit net kan sién! Boonop het jy nie die duurste toerusting nodig nie – jou selfoon is goed genoeg.
Geluk, Marius, jy wen ’n paar Wolverine-stewels. Jy kan hulle gaan inloop langs die gholfbaan. >
VIKKI BILLINGTON
Canon 1D Mk. II Canon 70-200 mm-lens
VIKKI SKRYF: Hierdie foto is net buite die kamphek by die Satararuskamp geneem. Die wildebeeste het rondgehol, en omdat dit windstil was, het die stof in die lug bly hang. My kameraverstellings was: lensopening f4, sluiterspoed 1/1 000ste van ’n sekonde en ISO 100, maar ek het met 2 stoppe onderbelig.
Ek is lief vir die Krugerwildtuin en probeer altyd om spesiale ligtoestande te gebruik – teen sonsondergang soek ek altyd vervaard na ’n dier wat nét op die regte plek deur die laaste lig beweeg.
Die Kruger is fantasties vir fotografie vanweë die verskeidenheid dierespesies wat ’ n mens kan afneem, asook die landskappe wat wissel van ruie rivieroewers tot berge en oop vlaktes.
TOAST SÊ: Stof is kitsdoepa vir enige foto: Dit kan ’n vaal toneel omtower tot iets dramaties, veral met die hulp van die regte lig, soos hier op Vikki se mooi foto.
Waarvan praat sy as sy sê dat sy die foto met twee stoppe onderbelig het? Fotograwe – veral diegene wat grootgeword het met filmfotografie – praat van eenhede lig as “stoppe”. Dié is te vinde op moderne kamera se “Exposure Compensation” ( ) – jy sal sien dat daar ’n middelpunt van “0” is, wat beteken dat jou beligting hier “korrek” sal wees. ( )
Maar dalk wil jy juis die kamera se ligmeter ignoreer en met opset die foto onderbelig.
Dis nodig wanneer jy – soos Vikki – ’n silhoeëteffek wil kry. Verstel nou jou “Exposure Compensation” na -1 (wat een “stop” donkerder sal wees) of selfs -2 vir ’n tweestopverskil (van die “korrekte” beligting).
In ander omstandighede kan jy weer oorbelig deur +1 of +2 te gebruik. Jou foto sal dan baie helderder vertoon.
Jy kan “Exposure Compensation” gebruik wanneer jy in die outomodus skiet, of in die gewilde “Aperture Priority”-modus (Av).
BELINDA VAN RENSBURG
@belinda_v_rensburg_photos Nikon D5100 Nikon 300 mm-lens
BELINDA SKRYF: Ek woon in Kaapstad, en ek en my man probeer elke jaar in Augustus of September die Weskus- nasionale park besoek. Dís wanneer die park wakker skrik ná die winterreën en die wonderwêreld van veldblomme byna oornag verskyn.
Ek was besig om tussen die blomme rond te kruip op soek na ’n foto toe ’n Karoolangstertjie naby my kom sit. My droom is om eendag ’n rooikat of bakoorjakkals tussen die park se blomvelde te kan afneem...
Ek en my man het albei vroeër jare vir Sanparke gewerk en ons het goeie herinneringe aan die Weskus- nasionale park.
Ons stop altyd eers by die Geelbek-restaurant en eet die heerlike tradisionele bobotie op die spyskaart. TOAST SÊ: As jy tussen die blomme rondkruip, kan allerhande oulike dinge jou kant toe kom – pasop net vir die pofadders!
Die meeste fotograwe sou dié outjie oorsien en eerder soek vir iets meer uitbundigs van kleur, soos ’n suikerbekkie. Maar Belinda is duidelik iemand wat ook klein bruin voëltjies geniet, en dít waardeer ek.
Selfs die vaalste voëltjie sal egter skitter as jy seker maak jy vang die sonlig in die oog, soos hier die geval is. Die fokus is ook perfek, en jy kan jouself verlustig in elke fyn veerdetail op hierdie spiekeries voëltjie.
Die voëltjie sit ook net reg, met die kop wat kant toe gedraai is sodat die fyn, skerp bekkie perfek in profiel is.
Die blertse kleur van die blomme – ook in die agtergrond, al is dit uit fokus – gee verdere balans aan die foto.
Baie dankie dat jy daar in die blomme gaan rondkruip het, Belinda!
GRANT HUTCHISON
Canon 5D SR Canon 11-24 mm-lens
GRANT VERTEL: Dié foto is by Umngazana in die Wildekus geneem, tussen 10 nm. en 12 nm. Ek het geweet die grot kyk na die suide en daarom sou dit ideaal wees vir dié soort foto waarin die beweging van die sterre deur die lug “trek”.
In Oktober 2017 was die toestande een aand perfek: ’n Wolklose nag met ’n halfmaan wat sou help om die strand te verlig.
Ek het 14 foto’s geneem – elk 10 minute lank – en toe ’n 15de skoot van 15 sekondes waartydens ek die grotmure met ’n flits verlig het. Deurentyd was my ISO op 100 en my lensopening op f7.1 (die lens was op 11 mm). Die 15 foto’s is toe later in Photoshop op mekaar gestapel om een foto te maak.
TOAST SÊ: ’n Tegniese foto soos hierdie verg voorafbeplanning én werk op jou rekenaar ná die tyd. Jy het natuurlik ook ander toerusting nodig, behalwe jou kamera en lens. Grant het ’n Sirui-driepoot met ’n Hähnel-afstandbeheer gebruik, en die ekstra lig is deur ’n Phottix LED-lig gemaak.
Indien jy wil leer hoe om foto’s soos dié te neem is die internet jou vriend, want Google en YouTubevideo’s sal jou wys hoe.
Daarna moet jy die regte plek soek. Hoe donkerder, hoe beter – want dan het jy minder ligbesoedeling en sal jou sterre mooier vertoon. Hoewel Grant met rede ’n bietjie maanlig wou gehad het, is donkermaan eintlik beter.
Die suidwaarts kyk is belangrik. Soek die Suiderpool (“South Celestial Pole”) en maak dit die middel van jou foto – die res van die sterre gaan rondom hierdie punt “draai” (dis mos die aarde wat draai) en jou die sirkeleffek gee soos op Grant se foto. Die Suidpool is nie dieselfde ding as die Suiderkruis nie. Lees by photopills.com/ definitive-guide-star-trails waar om dit op te spoor. >
MICHELLE LIEBENBERG
@michelle17l Nikon D3100 Nikon 55-200 mm-lens
MICHELLE VERTEL: Ek het hierdie foto op ons plaas naby Koster in Noordwes geneem.
Ons is bevoorreg om elke jaar mooi kosmosse op die plaas te sien. Die plaas is ’n goeie plek vir fotografie. Elke dag is ’n nuwe avontuur en daar is altyd iets om af te neem, van lammers tot mielielande.
Ek probeer om ’n voorwerp uit ongewone hoeke af te neem om sodoende die perfekte foto te kry.
TOAST SÊ: ’n Mens sou dink dat dit maklik is om ’n massa kosmosse soos dié af te neem, maar net soos met Namakwalandse blomtonele moet jy eers ’n bietjie dink oor wat jy wil doen, anders gaan jou foto nes ’n honderd ander mense s’n lyk.
Deur haar zoemlens in te span kon Michelle die blomme in die voorgrond én agtergrond uit fokus gooi. Jou aandag word nou gehou in ’n smal strook blomme rondom die éintlike fokuspunt, wat die hekpaal is.
Jy voel dus nie oorweldig deur die oorvloed blomme nie en jou oog het kans om te rus juis op dié wat in fokus is terwyl die uitfokus blomme steeds die idee van ’n groot aantal blomme weergee. Die hek en die hekpaal sorg ook dat die foto nie nét oor blomme (en pienk/pers en wit) gaan nie, maar ook oor ander kleure (die geroeste hekraam) en teksture (die hout).
Dis ’n weelde om toegang te hê tot ’n plaas waar jy na hartelus met jou fotografie kan eksperimenteer.
Geniet dit, Michelle!
KUNO STIELAU
Canon 1Dx Canon 800 mm-lens
KUNO VERTEL: Dit was my tweede keer in Botswana se Khutse-wildreservaat, maar die eerste keer sedert ek ’n bietjie meer ernstig begin foto’s neem het. Op dié betrokke oggend het ons laat – eers sowat 8 vm. – op ons wildrit vertrek.
Ek was eers onseker watter spesie voël hierdie is, maar kon dit later – danksy my foto – as ’n witvlerkkorhaan identifiseer.
Ek het gehou van hoe hy gekamoefleer is in die gras waarop die sagte oggendlig val.
TOAST SÊ: Dis dikwels ’n goeie idee om éérs seker te maak jy kry ’n skaflike foto van ’n voël en later rustig by die kamp te gaan sit met jou voëlboek en dan – deur middel van jou foto – uit te pluis presies wat dit was.
Ek hou van hoe Kuno se korhaan hier byna uit die niet verskyn, asof uit die hoed van ’n kulkunstenaar. Die voël se vere smelt so goed saam met die droë gras dat dit lyk soos iets wat binne ’n oomblik weer kan verdwyn.
Die gras reg rondom die voël laat dit ook amper lyk soos ’n geskenk wat oopgemaak word – met die mooie korhaan binne die geskenkpapier!
Kuno het als reg gedoen hier, met sy sluiterspoed vinnig op 1/1 000ste van ’n sekonde en ’n ISO van 800.
Die hoë ISO help dat jy ’n vinnige sluiterspoed kan handhaaf omdat dit die kamerasensor meer ligsensitief maak.
Die vinnige sluiterspoed is steeds nodig – al staan die korhaan stil – om kameraskud uit te skakel wat maklik kan lei tot blur in jou foto wanneer jy met ’n swaar zoemlens skiet.
Lekker, Kuno, mooi gekorrel!