FOTOPORTEFEULJE
Die landskap fotograaf Hougaard Malan wil gou weer Patagonië in Suid-Amerika besoek. Kyk hier na sy foto’s van berge, gletsers en mere, en jy sal beslis wil saamgaan!
Patagonië is die stertkant van Suid-Amerika en word gedeel deur Argentinië en Chili – ’n landskap van berge, gletsers, die windverwaaide Pampas en strande deurspoel van koue seestrome. Dis amper 2 000 km verder suid as Kaapstad – die naaste vastelandmassa aan Antarktika – en vir die fotograaf Hougaard Malan is dit ’n gawe speelplek.
“Die sonsopkoms en -ondergang duur hier langer as ’n uur danksy die breedtegraad,” sê hy. “Die beukebome sorg vir een van die kleurrykste herfstonele ter wêreld en die watervalle, mere en riviere is almal helderblou danksy die gletserslik.”
Hougaard is een van Suid-Afrika se voorste landskapfotograwe. Wanneer hy aan ’t toer is en nie internasionale toekennings inryg nie, lei hy fototoere na bestemmings in Suider-Afrika en oorsee. Hy het tot dusver al twee groepe na Patagonië geneem en kan nie wag om weer terug te gaan nie: “Om op die oewer van die meer in die Torres del Paine- nasionale park in Chili te staan en op te kyk na al daai sneeubedekte grootsheid... Dit stroop jou kop van alle gedagtes en vul jou met ontsag.”
Noenontbyt
Guanaco’s is deel van die llama-familie en ’n ikoniese gesig in Chili se Torres del Paine- nasionale park. Húlle is dalk nie so fotogenies nie, maar die landskap rondom hulle wel. Guanaco’s word deur die inwonende pumas gejag. Dis nie ongewoon om soggens ’n karkas langs die pad te sien nie...
HOE? Nikon D800; 70-200 mm-lens; sluiterspoed 1/400ste van ’n sekonde; lensopening f7.1; ISO 200. >
Sout en son
Torres del Paine beteken “torings van blou” – dis die naam van die granietspitse wat ’n mens hier in die agtergrond sien. Die bekende uitsig oor die park is van die suide af (sien bl. 74-75), maar van daardie punt af kan ’n mens nie die torings sien nie. ’n Soutmeer met die naam Laguna Amarga aan die oostekant van die park gee egter ’n beter uitsig én die moontlikheid van ’n interessante voorgrond van gekraakte modder.
HOE? Nikon D800; 24-70 mm-lens; sluiterspoed 1/160ste van ’n sekonde; lensopening f13; ISO 200. >
Blou ys
Die Perito Moreno-gletser in die Los Glaciares- nasionale park in Argentinië is 5 km breed en minstens 100 m hoog. Dis moeilik om die grootte van die stroom ys te begryp – dit tref ’n mens eers as ’n stuk afbreek en in die water val.
Perito Moreno is die wêreld se grootste toeganklike gletser en hier is ’n netwerk van paadjies reg rondom wat ’n mens na verskeie uitkykpunte neem. Dis ’n gewilde trekpleister vir toeriste in dié geweste. “My raad is om te sorg dat jy vroegoggend of laatmiddag hier is – dan kan ’n mens die stilte geniet, en elke nou en dan die gekraak en gekreun hoor van miljoene ton ys wat by die vallei afbeweeg,” vertel Hougaard.
HOE? Nikon D800; 24-70 mm-lens; sluiterspoed 1/160ste van ’n sekonde; lensopening f13; ISO 100. >
Meer van drome
Lago Pehoé in die Torres del Paine- nasionale park is ongetwyfeld een van die mees fotogeniese plekke ter wêreld. Dit bied ’n byna simmetriese uitsig oor twee berggroepe – die Paine Grande aan die linkerkant en Cuernos del Paine (die “horings”) aan die regterkant. Fotograwe kan kies wat hulle as voorgrond wil gebruik – rotse, swart strande of verpotte beukebome.
Die hotel op die foto is Hosteria Pehoé – dit was ’n paar dekades gelede die eerste toerismekonsessie wat in die nasionale park toegestaan is. Daai bruggie is die enigste manier om by die hotel uit te kom. Die water is blou as gevolg van die gletserslik: rots wat tot poeier gemaal word deur die gewig van ’n gletser.
HOE? Nikon D800; 24-70 mm-lens; sluiterspoed 1/40ste van ’n sekonde; lensopening f11; ISO 100; met ’n driepoot.