Nog een vir jou lysie
Ek het nog nooit ’n begeerte gehad om St. Helena te besoek nie. Dis meestal Napoleon se skuld. In my geskiedenisboeke het hy so gekla oor die kos, die wyn, die rotte en veral die nat koue wat hy gedurende sy ballingskap daar moes verduur, dat dit nie na ’n lekker plek geklink het nie. Teen die tyd dat ons geskiedenisonnie van Napoleon na die Anglo-Boereoorlog beweeg het, en ek uitgevind het die Britte het boonop honderde Boerekrygers daar as gevangenes aangehou, het die plek voor my geestesoog nog minder bekoring ingehou. Dié halfvergete eilandjie in die middel van die Suid-Atlantiese Oseaan het daarna heeltemal van my radar af verdwyn.
Dit het sowat agt jaar gelede verander nadat Andrea Weiss per skip na St. Helena gereis en ek haar storie in Weg gelees het. Dié eiland is ’n boeiende plek vol interessante mense. Dit het ’n subtropiese klimaat en soel water vol seelewe en ’n ongerepte landskap. Sophia van Taak het onlangs na die eiland se nuwe lughawe gevlieg, en haar storie in hierdie uitgawe bevestig die bekoorlikheid van die plek.
Dit blyk die kordate Franse keiser het met meer as ’n baguette onder die arm gekla. Die eiland se tesourier het in 1820 – ’n jaar voor Napoleon se dood – rekord gehou van die banneling en sy gevolg se daaglikse kostoelae: 31 bottels Kaapse wyn, 10 bottels klaret, drie bottels appelbier, drie bottels moutbier, ’n bottel sjampanje, 50 pond se bees- en kalfvleis, 50 pond se skaap- of varkvleis, 68 pond se brood, 42 eiers plus ’n braaivark en 29 voëls elke week. Daar was ook ’n bykomende maandelikse dranktoelae van 12 bottels cognac en nog 22 bottels wyn. G’n wonder Napoleon het op 51-jarige ouderdom reeds die emmer geskop nie. Hy’ t te lekker gekuier op St. Helena!
Ek kan nou nie wag om die eiland op my eie lysie te merk nie. En wanneer ek dit doen, gaan ek Sophia se gids in die hand hê.
En bonne santé.