Hou bene, hou!
Vra jy enigiemand wat ’n jagluiperd se bekendste eienskap, of sy “claim to fame” is, sal hulle waarskynlik dadelik antwoord: sy spoed. Ja, dié dier is inderdaad die Usain Bolt van die soogdierwêreld.
Hulle kan tot 110 km/h hardloop – maar net oor korter afstande van tot 400 m. Dit is danksy die dier se ideale bou: lang bene; ’n diep borskas (met ’n vergrote hart en longe om meer suurstof in te neem en na die spiere te pomp); klein, vaartbelynde kop; en ’n lang stert wat help met balans.
Hierdie uiterste spoed kom egter nie sonder nadele nie. Ná ’n suksesvolle jagtog is die jagluiperd stokflou en het hy ’n hele paar minute nodig om sy asem terug te kry. In dié tyd is hy weerloos teen ander roofdiere soos hiënas, leeus, luiperds en selfs die onindrukwekkende bruinhiëna wat sy kos kan steel.
Mense glo dis juis hoekom ’n jagluiperd meestal bedags jag, wanneer ander roofdiere onaktief is. Selfs wanneer ’n jagluiperd rus, is hy paraat: Hulle het die interessante gewoonte om hulle kop regop te hou wanneer hulle slaap – om gouer bewus te wees van ’n ander roofdier wat naby is.
Jagluiperds is naas leeus die mees sosiale Afrika-katsoort. Mannetjies vorm dikwels koalisies en dis nie ongewoon om twee of drie mannetjies saam te sien nie. Wyfies bly weer alleenlopend en word net in paartyd, of wanneer sy welpies het, saam met ander jagluiperds gesien.
Terloops, een van die dinge wat my die meeste frustreer in my werk as gids, is die onvermoë – of blatante weiering – van sekere gaste om ’n onderskeid te tref tussen ’n luiperd en ’n jagluiperd! Dis asof party mense dink net omdat hulle al twee kolle het, behoort hulle tot dieselfde generiese groep.
Maak seker jy ken die verskil. Hier is drie wenke: Luiperds se kolle is rosetvormig, terwyl jagluiperds soliede ronde of ovaalvormige kolle het. Jagluiperds het ’n swart “traanspoor” by die oë, wat luiperds nie het nie. En luiperds is stewiger en sterker gebou.