Ursina Rusch
Wanneer die Kanadees Ursina Rusch nie besig is met proefbuise met renoster-DNS nie, vlieg sy in ’n helikopter op soek na dié bedreigde diere. Ontmoet die projekkoördineerder van die Wêreldnatuurfonds ( WWF) se renosterbewaringsprojek.
Van waar die liefde vir die buitelewe? My ouers bestuur ’n jag-en-visvanglodge in Kanada. Ek het grootgeword met die natuur op ons voorstoep. As kinders het ons elke somer in die meer geroei en geswem – en in die winter het ons in die bos geski en sneeumobiel gery. Die perdrygogga het my reeds kleintyd gebyt – ek het gereeld die wildernis op ’n perd se rug ingevaar.
Hoe beland ’n Kanadees in Suid-Afrika? Toevallig. Ek het voorgraads biologie gestudeer en wou nog altyd my meesterstudie oorsee voortsit. ’n Vriendin het die Universiteit van Stellenbosch aanbeveel. Ek het baie tuis gevoel hier terwyl ek ’n student was en toe ek ná my meesterstudie ’n pos as omgewingsimpak-assesseerder in Kaapstad kry, was die besluit om te bly maklik!
Hoe het jou loopbaanpaadjie sedertdien geloop? Ek het ná die Kaapstad-pos by ’n wildreservaat in KwaZulu-Natal begin werk. Ek was betrokke by die bestuur van wild, soos om die diere te tel, weer bekend te stel en te monitor. Daarna is ek by die Black Rhino Range Expansion Project (BRREP) aangestel.
Wat is die doel van die projek? Die voortplanting van swartrenosters word deur hulle bevolkingsdigtheid beperk. Namate ’n bevolking groei en hulpbronne soos water, kos en beskikbare plek minder word (die dravermoë dus bereik word), sal die diere hulle voortplantingstempo verlaag – koeie sal minder gereeld kalwers dra. Dis wat in provinsiale reservate in KwaZulu-Natal gebeur het en BRREP is gestig om dié probleem te probeer oplos.
Ons verwyder die “oortollige” diere en stel hulle iewers anders bekend – in nuwe beskermde gebiede waar swartrenosters voorheen voorgekom het.
Wat behels jou werk? Die kern van my werk is projek- en databestuur, maar ek bring ook heelwat tyd deur om die genetika van die diere te bestudeer. Omdat daar so min swartrenosters oor is, moet ons ons bes doen om genetiese diversiteit in die bevolkings te behou sodat daar nie inteling is nie. Ons neem DNS-monsters sodat ons kan seker maak die nuwe bevolkings wat ons vestig, het ’n goeie genetiese diversiteit.
Wat is die beste deel van jou werk? Beslis om renosters te vang en in hulle nuwe blyplek vry te laat. Die dae is lank en uitputtend, maar lonend. Ons berei lank voor vir hierdie paar kort weke en dis lekker om te sien hoe ’n span passievolle mense saamwerk.
En dis opwindend. Die renosters word uit ’n helikopter verdoof, en dan per helikopter of met voertuie na hulle nuwe tuiste vervoer. En die moeilikste deel? Om daai gevreesde oproep van ’n projekgebied te kry wat sê ’n renoster is gestroop.
Alles moontlik word gedoen om die BRREP-projekgebiede teen stropers te beveilig, maar ongelukkig ontglip die stropers tog soms die wildbewaarders.
Watter ander bewaringskwessies lê jou na aan die hart? Aasvoëls speel ’n baie belangrike rol in ekostelsels, maar hulle stryd kry min aandag in vergelyking met dié van renosters en karnivore. Die voëls keer dat siektes versprei deur op karkasse te aas – hulle spysverteringstelsel kan allerlei gevaarlike siektes afbreek.
Ongelukkig is al sewe van Suid-Afrika se aasvoëlspesies óf bedreig óf kritiek bedreig, meestal as gevolg van die mens.
Mense kan gerus betrokke raak by Wildlife ACT ( wildlifeact.com) en die Trust vir Bedreigde Natuurlewe ( ewt.org.za) en hulle uitstekende werk ondersteun.
As my skip inkom... gaan ek terug universiteit toe om ’n veearts vir wilde diere te word.
Vir ’n ontspannende vakansie... gaan ek Kanada toe in die herfs. Dis die mooiste tyd van die jaar: Die dae is nog warm en die blare aan die bome verander na skakerings van geel, oranje en rooi.
My droombestemming is... Marokko, as gevolg van sy lang geskiedenis van oerbeskawings (ek is ’n geskiedenisliefhebber!), en verskeidenheid landskappe, van die Sahara-woestyn tot die Atlasgebergte – dit sal wonderlik wees om dit met ’n 4x4 of motorfiets te verken.