Uit Oerwoud En Vlakte
deur Sangiro Tafelberg, 1921
Wyd en stil lê die wildernis onder die betowerende kleuregloed van ’n tropiese sonsondergang. ’n Sagte purperrooi, wat allengs verdiep tot ’n donker ametis, kleur die bosryke kruine van die Koueberge en oorvloei die wye vlaktes wat rondom lê. Ligte miswolkies, wat telkens van onder af teen die berg opkruip, vang die aandskyn op en verander vir ’n oomblik in fyn, deursigtige gordyne, waaragter die berg donker gloei, om dan weer oopgeskeur en meegesleep te word deur die koue wind wat elke nag hierdie eensame toppe oorswewe.
Die legendariese boek Uit Oerwoud EnVlakte (1921) deur Andries Albertus Pienaar (1894-1979), wat onder die skuilnaam Sangiro geskryf het, begin op hierdie atmosferiese noot.
Hierdie was sy eerste boek. In ’n stadium het slegs die destydse Bybelvertaling meer eksemplare as Uit Oerwoud EnVlakte verkoop. Sangiro sou later jare twee keer met die Hertzogprys bekroon word.
In die kort inleiding skryf hy: “In die volgende dieresketse speel die verbeelding geen rol nie. Die skrywer het getrag om die lewe en gewoontes van wilde diere, soos hy dié in vele jare leer ken het, eenvoudig weer te gee. Ook onder die wilde diere bestaan daar ’n soort van geesteslewe, wat die opmerksame waarnemer telkens weer met verwondering vervul; vir hom word dit naderhand moontlik om die diere se gewaarwordinge uit hulle uiterlike beweginge te verstaan.”
Die boek se subtitel is Sketse uit die Oos-Afrikaanse dierewêreld en Sangiro put uit ervarings in Tanzanië (destyds Tanganjika), waar hy saam met sy ouers naby Kilimandjaro gewoon het.
Sangiro was ’n baanbrekerskrywer. Die literator J.C. Kannemeyer skryf die volgende in Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur: “Sangiro se werk verteenwoordig die eerste voorbeelde in Afrikaans waarin die dier nie slegs as ‘n voorwerp vir die jag gesien word nie, maar waarin hy in so ’n mate ’n persoonlikheid word dat die leser homself met die dier in sy grootse stryd teen die mens kan vereenselwig.”
Hier is ’n gepaste voorbeeld uit die boek: Die jong mannetjie het taamlik onverskillig toegekyk toe die vier leeus hulle teenoor mekaar stel: om die besit van die renoster sou hy nie vanaand veg nie. Ofskoon hy reeds erg honger het, het hy nie meer gedoen as snuffel aan die renoster nie; en nou is hy al weer by sy dooie wyfie, wat nog onbeskadig van aasvoëls daar lê. Die pogings van die môre word herhaal en nog eens herhaal, tot hy eindelik geheel moedeloos hom weer naas haar met ’n langgerekte steun neervly; ’n klaende geluid, byna soos ’n menslike snik, ontsnap sy bors telkens en eindig met tussenpose in ’n lang sug of kreun.