STAP DIE EILAND PLAT
St. Helena is eintlik ’n groot berg en dus is hier legio staproetes. Die stuk of twintig Post Box-staproetes wissel in lengte van skaars 1,5 km (die Heart-shapedwatervalroete) tot 12 km (die Sugar Loaf-roete). Die terrein wissel van ruwe vulkaniese berghellings tot koel subtropiese wolkwoude. Die gewildste roete is die 3,8 km lange een wat jou tot bo-op St. Helena se hoogste spits, Diana 15 (823 m), neem. Dis nie ’n vermoeiende stap nie en op ’n mooi dag het jy uitsigte in alle rigtings.
Die voetpad slinger deur digte vlasbosse en verby mooi inheemse bergvarings, en neem jou ook oor twee ander spitse – Mount Actaeon en Cuckold’s Point. Op eersgenoemde staan ’n Norfolk-denneboom wat kaptein James Cook glo in die 1770’s hier geplant het. Dié bome groei baie hoog en reguit en het as bakens vir seevaarders gedien en ook gesorg dat daar langs hulle roetes dienlike hout vir herstelwerk aan maste beskikbaar is.
Die staproete tot by die Lot’s Wife Pondsgetypoele 16 (4,5 km) aan die suidekant van die eiland is ’n moet. Dis ’n op en af oor vulkaniese berghellings, met neste van brilmalgasse langs die pad. Rotsformasies waarvoor jy op die uitkyk kan wees, is die Donkie se Ore, Lot se Vrou en die Gorilla se Kop.
By die getypoele gekom, help dik toue jou om die laaste steiltes tot onder veilig af te klim en dan is dit tyd vir inplons! Die poele word deur ’n rotsrif van die oopsee afgesluit en branders breek kort-kort bo-oor. Moenie jou lyf Evel Knievel hou nie – bly aan die veilige kant. Die water is vol subtropiese vissies en só sout dat jy sonder moeite ronddryf. En kyk ook uit vir die Sally Lightfoots – dis enorme rooi krappe!
WAT NOG? Elke roete het ’n posbussie met ’n unieke stempel binne-in waarmee jy jou dag se stapavontuur in jou notaboekie kan verewig. >