Weg!

O Die Caprivi

As jy vasgekeer is in ’n donderstor­m in die Caprivi, is dit ’n goeie tyd om oor internasio­nale grense te wonder, skryf Toast Coetzer.

-

‘Grenslyne tussen lande kan uiters arbitrêr wees. Maar eintlik – as jy die wêreld uit ’n effens ander hoek bekyk – maak dit min saak.’

ns het die reën hoor kom. ’n Deursigtig­e grys gordyn het oorkant die Okavangori­vier verskyn en vinnig die groot jakkalsbes­sies daar versluier, toe die riete in die vlak water, en toe het dit in ons rigting beweeg. Die klank is gemaak deur die druppels wat op blare val, op die grond ook, maar veral op die rivier. Dit het geklink soos ’n fyn applous wat ’n crescendo bereik, en dan konstant word soos die soort geluid waarvan jy later vergeet: ’n Lister-enjin wat in ’n buitekamer dreun.

Dit was reeds skemer en ons groep was om die kampvuur vir aandete, wat ons nog nie begin skep het nie. Almal het kampstoele opgevou en laat spaander: Party het in die ablusieblo­k gaan skuil, ander in hulle tent of voertuig.

Ek het reeds my reënjas aangehad, en het net die kappie oor my kop gesit en onder ’n kierieklap­per beskutting gekry.

In my hand was ’n beker koffie met Amarula. Ek het die bottel Amarula 1 000 km suid hiervandaa­n gekoop in Serowe, Botswana, by ’n Spar Tops waar die Tswana-bestuurder se voornaam De Klerk was.

Dit was ’n paar dae gelede, en sedertdien het ons toergroep suid van die Makgadikga­dipanne verbygerei­s, die Botetirivi­er gevolg na Maun, en daarvandaa­n langs die Okavangopy­psteel gevorder tot hier by Ngepi Camp in Namibië.

Druppels het nou op my begin val – die bui was te hewig en die kierieklap­per se blaredak nie so dig as wat ek gehoop het nie. Ek het roerloos bly staan, en my probeer verbeel ek’s ’n boomstomp wat op die vloedvlakt­e van die Okavango staan.

Ek het begin dink aan die rivier wat skaars tien meter van my af verbystroo­m. Hoe daar nou steeds onverpoos watervoëls soos rietduiker­s, slanghalsv­oëls en reiers huis toe vlieg, laag oor die water, op pad na hulle oornagtuis­tes in rietkoloni­es.

Die spulletjie seekoeie hier naby – altyd nat – het seker nou met groot plesier uit die water geloer. Dalk is dit seekoeie se idee van ’n paradys: onderlyf in die water, reën van bo.

Die visarend – só het ek gesien net voor die reën gekom het – was reeds op sy hoë slaaptak op die oorkantste oewer. Het hy met toe oë die reën sit en verduur, of het hy getuur na waar ons mopaniehou­tvuurtjie steeds met hand hoë oranje vlamme gebrand het?

Onder die bome waar die visarend gesit het, lê militêre ruïnes, die oorblyfsel­s van 32 Bataljon se Buffalo-basis. Ook daar het die reën geval, en oor die grafte van nou meestal onbekende mense ’n entjie stroomaf – van die laaste sigbare tekens van ’n vervloë oorlog.

Die geskiedeni­s het ’n manier om soos ’n stroper oor ’n landskap te beweeg, het ek gedink daar onder die kierieklap­per. Jy moet net jou kop so ’n bietjie skuins draai om sy merke en letsels te sien lê.

Hierdie deel van Namibië was vroeër bekend as die Caprivistr­ook, genoem na die Duitse kanselier – al was hy self nooit hier nie – Leo von Caprivi. In 1890 het Duitsland hierdie dun landvinger ontvang van Brittanje in ruil vir Zanzibar (Duitsland het ook ’n klein Noordsee-eiland genaamd Heligoland ontvang – iets wat in die Eerste Wêreldoorl­og van groot strategies­e belang was).

Duitsland se droom was om sy kolonie hier (die ou Suidwes) met sy kolonie in Oos-Afrika (Tanzanië) te verbind. Die Caprivistr­ook het hulle toegang gegee tot die Zambesiriv­ier, 350 km oos van hier. Dís min of meer waar die planne vir die Duitsers se koloniale droom opgeraak het.

Grenslyne tussen lande kan uiters arbitrêr wees. Maar eintlik – as jy die wêreld uit ’n effens ander hoek bekyk – maak dit min saak. Vat nou maar die Okavangori­vier – dit stop nie by die Botswanagr­ens nie. Nee, dit stroom onverpoosd suidwaarts totdat dit uitwaaier oor die Kalaharisa­nd om die Okavangode­lta te word.

Stroomop van hier dien die Okavango vir sowat 350 km as grens tussen Angola en Namibië, en verdwyn dan na die noorde, waar dit iewers in die Angolese hoogland ontspring. Die reën wat dáár val, maak die rivier wat hier naby my verbyloop, vol. Reën slaan nie ag op landsgrens­e nie. Dit val hierdie kant daarvan, én daardie kant, nes dit wil. Ons dink ons het weerpatron­e opgefoeter, maar die mens het steeds geen beheer oor wáár dit val nie.

My reënjas is oud en het begin lek. ’n Straaltjie water het deur my een sak begin loop al teen my binnebeen af tot in my velskoen. Dit was tyd om beter skuiling te gaan soek. Ek’t my Amarulakof­fie gesluk en kampkroeg se kant toe begin draf.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa