’n Buitengewone eilandvakansie
’n Eilandvakansie is iets waaroor die meeste van ons droom. Maar ’n mens raak gou uitgekuier met suikerwit strande wat jy immers by die huis ook kry. Hoe klink ’n régte eiland? Een wat ver weg en nog halfwild lê en wag?
St. Helena se betowering lê nie in die voor die hand liggende mooi nie. Inteendeel, wanneer ’n mens dié vulkaniese eiland die eerste keer gewaar, skrik jy effe. Waar’s die ménse? En die strande vol sonbaaiers? St. Helena is op soveel maniere anders as dít wat ons van ’n eilandbestemming verwag. Hier’s nie rye dekstoele en kelners wat mengeldrankies aandra nie. Ook nie bikinilywe wat op waterponies rondrits, of calypso-klanke in die agtergrond nie. Dis juis dié andersheid, haar rou aantreklikheid, wat jou oorrompel.
Vyf eeue lank het die Portugese, die Engelse Oos-Indiese Kompanje, die Britse Koninklike Vloot, en ook die Nederlanders tougetrek oor wie s’n die eiland nou eintlik is. In die vroeë 1800’s was hier ’n Chinese werkerskorps en ná die afskaffing van slawehandel in die 1850’s is 24 000 slawe uit Afrika, Madagaskar, Maleisië en Indië hier “vrygelaat”. En die eiland het eers in 1899 ’n telegraafkonneksie met Londen gekry. Dié mengelmoes van invloede maak St. Helena ’n plek soos geen ander op aarde.
Begin solank vir ’n vliegkaartjie spaar, want St. Helena, soos sy nou daar lê, is nog vol karakter. Maar wie weet hoe die opbloei in toerisme haar in die toekoms gaan verander met dié dat ’n mens nou soontoe kan vlieg?
Die beste tyd om te gaan, is nóú – met hierdie aksieplan in jou koffer. >
Kuier by Napoleon
Heelwat bekendes het oor die jare heen op St. Helena vertoef, onder andere die befaamde kaptein James Cook, die sterrekundige Edmond Halley, Charles Darwin en Napoleon Bonaparte – waarskynlik die bekendste banneling ooit.
Met sy aankoms op St. Helena het Napoleon twee maande in ’n huisie bo Jamestown genaamd Briar’s Pavilion gewoon (tien jaar vantevore was dit die woning van die einste Hertog van Wellington wat Napoleon by Waterloo so op sy baadjie gegee het), waarna hy na Longwood House 1 verskuif is en tot sy dood op 5 Mei 1821 gewoon het.
Wanneer ’n mens deur die spoggerige plek vol deftige meubels, kristalkandelare en vergulde muurpapier dwaal, is dit moeilik om jou te verbeel dat dié huis destyds klam en muwwerig was – iets waaroor Napoleon glo gereeld gekla het. Dít en talle ander staaltjies vertel ’n oudiotoer jou: Hier staan die generaal se veldbed, en hier sy meter diep loodbad in ’n houtraam; só het sy swierige handtekening gelyk, en by hierdie einste aardbol het hy seker baie aande, met ’n glasie Klein Constantia in die hand, staan en wonder wat Louis XVIII, nou aan die stuur van sake in Frankryk, aanvang. Koste Toegang tot Longwood House en Brair’s Pavilion is R255 p.p. en die oudiotoer R35. ’n Deeglike toer neem sowat 2 uur. Jy kan egter jou kaartjie hou en ’n paar dae later terugkeer as jou tyd min is. Oop Longwood House Ma.-Vr. van 11 vm. tot 1 nm. Briar’s Pavilion Wo. en Vr. van 10 vm.-11 vm. dat die graf, soos enige ander, met die afgestorwene se naam én van gemerk word, terwyl die Franse slegs die koninklike voornaam, “Napoleon”, op die steen wou hê. Niemand wou besgee nie. Napoleon is wel in viér doodskiste (die een binne-in die volgende) begrawe – een van tin, een van lood en twee van mahoniehout.
Van die parkeerplek af is dit sowat 500 m se stap tot by die terras waarvandaan jy die graf kan besigtig.
Proe ’n skeutjie vuurwater
St. Helena se onbewerkte berghellings (oftewel “Crown Waste”) staan oortrek van turksvybosse. Dis moeilik om die vrugte te pluk, maar dis presies wat Paul en Sally Hickling ’n paar jaar gelede saam met ’n klomp vriende gedoen het. Hulle het ’n allemintige 15 ton turksvye geoes en gestook. Die eindproduk? ’n Heerlike drankie genaamd Tungi Spirit (die plaaslike woord vir turksvy). Die Hicklings maak by die St. Helena-distilleerdery 3 ook ’n eersteklas jenewer, ’n Midnight Mist (koffielikeur) en ’n rum genaamd White Lion – genoem na die Witte Leeuw-wrak wat in Jamesbaai lê. Enige Saint (dis hoe die inwoners hulleself noem) sal vir jou verduidelik: op hierdie eiland word ’n rum-en-Coke ’n “shipwreck” genoem!
Groet die Boere
Buite ’n kerkie in die Knollcombes-distrik staan twee gedenknaalde. Langs die een wapper ’n verbleikte Vierkleur; langs die ander die vlag van die voormalige Republiek van die Oranje-Vrystaat. Hier, teen ’n skuinste in ’n smal valleitjie, lê die Boere-grafte 4 van die meerderheid krygsgevangenes wat op St. Helena gesterf het.
Die eerste Boere – onder wie genl. Piet Cronjé en sy vrou, Hester – het op 12 April 1900 aangekom, en oor die volgende jaar sou nog ’n paar skepe vol prisoniers volg totdat die Boerebevolking op sowat 4 500 sou staan. Hulle is in twee konsentrasiekampe – Deadwood Plain in die ooste en Broadbottom in die weste – gehuisves. Sommige is toegelaat om op boere se plasies te
werk, hout te kap, slote vir pype te grawe, restourasie- en bouwerk te doen; ander het weens die vermoeiende seereis, ’n ongebalanseerde dieet en ’n tekort aan vars water siek geraak en siektes soos ingewandskoors, tuberkulose en ’n vitamien B1-tekort (wat tot beri-beri lei) het vir sowat 180 sterfgevalle gesorg.
Die sowat 300 seuns het darem skoolonderrig ontvang, die Boere se handwerk (houtsneewerk, pype, kieries, borsspelde, swepe, speelgoed...) is uitgestal – alles gemaak met “toerusting” soos ’n gewone tafelmes en ’n ou sambreel se speke. Daar was selfs kafeetjies, ’n bakkery en ’n Afrikaanse koerantjie in die kampe. En af en toe is ’n sportdag gehou, met krieketwedstryde tussen Boer en Brit.
Die nagenoeg 40 000 briewe wat maandeliks na Engeland, Suid-Afrika en ander lande versend is ten spyt, was die mense op St. Helena só afgesonder dat, toe ’n telegram op 1 Junie 1902 uiteindelik aankondig dat die oorlog verby is, albei partye maar hulle oorwinning gevier het. Daarna het die krygsgevangenes stuk-stuk teen wil en dank hulle trou aan die koning gesweer en ’n eed onderteken om huis toe te kan gaan. Slegs sewe boere het geweier, maar hulle is per skip terug Kaap toe om daar verhoor te word. Vyf het op die eiland agtergebly en met plaaslike meisies getrou.
In ’n openbare brief van die krygsgevangenes aan die mense van St. Helena staan geskryf: We find it impossible to leave St. Helena unless we contribute our share of thankfulness to His Majesty’s Officers... for what they have done to make us take courage to fight the future. ... the conclusion has been made that the prisoners of war have been squarely and gentlemanly treated... Their general attitude towords us prisoners of war will always be recounted with pleasure – an attitude at once firm and manly and worthy of admiration – and why? Because “politeness” was evinced in all their actions and doings.”
Parkeer by die houthek en stap in – daar is nie omdraaiplek aan die einde van die tweespoor nie en ná ’n bietjie reën gaan jou huurmotor in die modder sukkel.
Kiek vir Jonathan
Kom stap rond op die goewerneurswoning, Plantation House 5 , se grondverdieping, met sy massiewe eetkamerstel, mooi biblioteek en galerye van al die vorige goewerneurs, sowel as lede van die koninklike gesin wat kom besoek aflê het. Daarna kry jy vir sowat ’n halfuur toegang tot die grasperk waar die oudste Aldabra-skilpad ter wêreld, Jonathan, en ’n paar van sy trawante ’n luilekker bestaan voer. Trouens, Jonathan is die oudste landdier ter wêreld!
Jonathan is na raming nou 186 jaar oud en is in 1882 van die Seychelle af hierheen gebring. Jy gaan hom uitken aan die katarakte op sy regteroog. Die uur lange toer vind plaas op weekdae van 8 vm. tot 4 nm. (Bespreek vooraf by die toerismekantoor.) >
Leer ken koffie
Die eerste Arabica-koffieboompies het al in 1732 uit Jemen saam met die Engelse Oos-Indiese Kompanjie op St. Helena aangekom. Napoleon het glo die koffie as “die enigste goeie ding omtrent St. Helena” beskou.
St. Helena het ’n paar klein plantasies van die Green Tipped Bourbon-soort en ’n mens kan Bill en Jill Bolton se Rosemary Gate-plantasie 6 besoek. Bill vertel begeesterd hoe koffie gemaak word – van waar sy 1 800 bome in Februarie die eerste van twee keer in die jaar bot, tot hoe 2½ ton bessies met die hand geoes word.
Dis kostelik om toe te kyk hoe Bill langs die koffierooster staan en luister vir die eerste boon om soos ’n springmielie oop te kraak. En dan, op die tweede kraak, is die saak reg en die koffiebone se kleur en geur perfek.
Sakkies bone sowel as gemaalde koffie is by die Boltons se koffiewinkel (foto links) in die hawe te koop. Buiten Harrods in Londen is dit die enigste plek ter wêreld waar jy dié koffie kan aanskaf. Koste ’n Koffietoer is R170 p.p. Reël joune by die toerismekantoor.
Tuur uit High Knoll-fort
Met al haar hoogtes en see-uitsigte is die hele St. Helena oortrek met mooi sonsondergangkolle. Maar min is meer dramaties as die High Knoll-fort 7 .
In die ou dae was hierdie mure gestip met kanonne wat enige naderende skeepskaptein twee keer sou laat dink. Boerekrygsgevangenes wat erge oortredings begaan het, is ook vir tye hier toegesluit. Deesdae staan die fort egter oop en jy kan die mosoortrekte donker hoekies te voet verken en dan teen skemeraand op die bors-werings gaan sit en kyk hoe die son in die SuidAtlantiese Oseaan verdwyn.
Laat oom Basil vertel...
Basil George is die kleinseun van een van die Boere wat agtergebly het, Alfred Smith (dalk oorspronklik “Smit”). Op ’n voetslaantoer 8 deur die hawe en van die dorp se oudste geboue vertel Basil jou hoe die eiland 15 miljoen jaar gelede deur ’n reeks vulkaniese uitbarstings gevorm is, en hoe die Portugese admiraal João da Nova dit reeds in 1502 ontdek en dekades lank ’n geheim gehou het, totdat die Nederlanders en die Engelse vloot ook kom aanklop het.
Terwyl ’n mens van die een geskiedkundige gebou na die volgende drentel, brei hy uit oor die eiland se ekonomiese agteruitgang oor die eeue heen, hoe die welvaart sedert die 1970’s weer stadig maar seker begin herstel het, maar dat St. Helena se probleme steeds legio is: Hier’s nie ’n arbeidsmark (werksgeleenthede is grotendeels beperk tot opvoedkundige, mediese en staatsposte) of eiendomsontwikkelaars nie. En as die jong mense eers ná skool in Suid-Afrika of Engeland gaan studeer het... waarom sal hulle hierheen wil terugkeer?
Dan spring sy storie weer terug na die walvisjagters van die 1800’s, hoe die dorp rondom die ou paradegronde uitgelê is, en dat hierdie katedraal waarin ons nou staan, uit 1774 dateer en dus die oudste Anglikaanse kerk in die Suidelike Halfrond is.
Basil het ’n passie vir sy plek. Wat jy in ’n paar uur by hom wysraak, is soveel meer as wat enige boek of stapel brosjures jou kan vertel. Koste ’n Toer is R170 p.p. en sluit ’n koppie koffie en ’n versnapering in. Die toerismekantoor reël vir jou die afspraak met Basil.
Koek en tee by die Consulate
Die Consulate Hotel 9 se koloniale sjarme voer ’n mens ’n eeu of wat terug na ’n tyd toe “high tea” nog ’n instelling was. As ’n bietjie reënweer jou planne in die wiele ry, is die koffiesitkamer ’n welkome plek om die ure te verwyl.
Kom kry jou sit op die veranda, of sak weg in ’n gemaklike stoel en verwonder jou aan die groot versameling skilderye en sketse van Napoleon teen die mure. Bestel ’n beker warmsjokolade (sowat R20) en ’n snytjie koek (sowat R35; hier’s gewoonlik wortelkoek, sjokoladefudgekoek, skons, ’n quiche en selfs melktert!).
Soms tokkel iemand die Baby Grand se klawers, soms sien jy iemand wegdommel en – as jy gelukkig is – kom die boer Peter Mott en sy eendkuiken, Donald (foto onder), ’n draai maak!
Klim Jacob’s Ladder
Dié trap gaan by jou bly spook totdat jy dit geklim het. Jacob’s Ladder 10 is van 1829 tot 1871 as ’n sweefspoorweg tussen die dorp aan sy onderpunt en die fort aan die bopunt gebruik. Swaargelaaide karretjies is teen 40° op ’n stel ysterstawe hier uitgesleep deur drie stomme donkies wat aan die bopunt heeldag om ’n spil moes stap.
Deesdae is die spoor en dwarslêers weg en slegs groot kliptrappe het oorgebly. Maar Jacob’s Ladder is ’n moet, en as ’n mens die 699 trappe (!) baasgeraak het, het jy rede om daarmee te spog. Glo my, die Saints kyk met nuwe respek na jou!
WAT NOG Die museum 11 (aan die onderpunt van Jacob’s Ladder) is op weekdae oop van 10 vm. tot 4 nm. en op Saterdae sluit dit om 12 nm. Jy kan ure hier deurbring tussen uitstallings van skeepswrakke, Boeregeskiedenis en die vlasbedryf. Vra die personeel ook uit na die lewe van Dinuzulu, die Zoeloe-koning wat van 1890 tot 1897 hier ’n banneling was. >