Weg!

Maak spronge op Springbok

Springbok staan bekend as Namakwalan­d se blomhoofst­ad, maar het jy geweet hier is ook ’n blou myn, ’n stoomlokom­otief genaamd Clara, en vetplantji­es met name soos hoenderton­e en bokspoortj­ies?

- WOORDE EN FOTO’S EVAN NAUDÉ

Springbok was nog altyd vir my ’n deurrydorp, ’n poort na Namibië, Port Nolloth of die Richtersve­ld. Dié dorp is die laaste groot plek waar jy brandstof kan ingooi, en proviand en ’n pie koop voordat jy pad vat noorde toe. Dis ook ’n basis van waar ’n mens blomme kyk. Met sulke vinnige besoeke kry jy nie maklik vatplek aan ’n dorp nie. Verlede jaar het ek ’n naweek buite die blomseisoe­n op Springbok deurgebrin­g en die dorp leer ken. En nes die res van Namakwalan­d moet ’n mens eers stilstaan en fyn kyk na die wêreld rondom jou. Dán sien jy daar is meer as net blomme.

Ontbyt in ’n tydkapsule

Dis ’n Saterdagog­gend en ek eet ontbyt by die Springbok Lodge in Voortrekke­rstraat, die dorp se hoofstraat. Die stampvol restaurant se dekor dateer uit die 1970’s. Die mure is bedek met gelamineer­de hout en vol foto’s van blomme en sportspann­e en ou koerantuit­knipsels. Buiten die restaurant het die lodge ook ’n versamelin­g nommerplat­e van reg oor die wêreld, ’n boekwinkel en ’n kafee.

Die bestuurder, Roelf Erasmus, is ’n uitstekend­e bron van inligting oor die dorp. Die lodge is dus ’n goeie eerste stilhouple­k vir Springbokg­roentjies.

“My skoonpa se pa het die plek in 1949 gekoop en in 1954 aangebou en ’n verdieping bygevoeg. Van toe af lyk hy min of meer soos nou,” vertel Roelf. Sy skoonpa is Jopie Kotzé (73), ’n legende op die dorp, wat intussen afgetree het.

“Besigheids­gewys het dit baie verander. In die ou dae was die plek ’n boarding house vir jong mense wat op die dorp kom werk. Hulle het ’n kamer gehuur en hier geëet.”

Die kafee was toe groter, want daai jare het Springbok nog nie supermarkt­e gehad nie en die kafee was waar jy melk, kouevleis, kaas en eiers kom koop het.

“Toe die supermarkt­e in die 1980’s kom, het Skoonpa gesien dat hulle die besigheid sal moet aanpas. Hy het die hotel en die restaurant uitgebrei en met toere in die omgewing begin. Mense het ingevlieg na Upington, dan het hy hulle gaan haal en rondgewys. Hy was een van die pioniers van toerisme op Springbok.”

Hier’s ook ’n indrukwekk­ende versamelin­g gesteentes en minerale wat Jopie in 1968 begin het. Springbok het immers sy ontstaan aan die mynwese te danke.

“Simon van der Stel het in 1685 ’n ekspedisie na Springbok gelei om te kom prospektee­r vir koper,” verduideli­k Roelf. “Hulle het Namas in die Kaap ontmoet wat koperarmba­nde gedra het en wou weet waar hulle daaraan kom.”

Die eerste koper is toe by Carolusber­g (in die Goegapnatu­urreservaa­t) ontdek, maar hier was geen infrastruk­tuur nie en die harde omgewing het nou nie juis vir Van der Stel en kie geïnspiree­r om wortel te skiet nie... >

Die mynbedryf het eers in 1852 begin posvat nadat daar by die Blou Myn (op die westelike grens van die dorp) koper ontdek is. Teen 1862 is die dorp Springbokf­ontein uitgelê (die “fontein” het later weggeval). Koper is ook ontdek op Okiep, Concordia, Niegramoep en Nababeep. In die laat 1900’s het die koperreser­wes begin opdroog en die laaste grootskaal­se myn op Nababeep is in 2004 toegemaak. Gelukkig het Springbok nie saam met die myne gevou nie, want die dorp se ligging was tóé al goed. Met die AngloBoere­oorlog het die Boere die klipkoppie in die middel van die dorp as ’n fort gebruik – van hier af het hulle ’n puik 360°-uitsig oor die omliggende omgewing gehad.

Later die middag gaan maak ek ’n draai by nóg ’n legende op die dorp, Rey Janse van Rensburg. Rey is ’n 4x4-toerleier, buite-lugavontur­ier, fotograaf en ’n Namakwalan­dkenner.

Hy gee ’n vinnige opsomming van die omgewing. “Die dorp sit op dieselfde hoogte bo seespieël as Tafelberg,” begin hy. “Sowat 100 km van die see en 120 km van die Oranjerivi­er af. En reg op die skeidslyn tussen die somer- en winterreën­valstreek. Op Springbok is ons gelukkig: As dit warm is, gaan ons see toe en as dit koud is, gaan ons Oranjerivi­er toe!”

Rey meen ’n mens kan reeds vroeg in die jaar voorspel of dit ’n goeie blomseisoe­n gaan wees deur na die kokerbome te kyk. As ’n sekere gebied se kokerbome goed lyk, kan jy maar seker wees die blomme gaan ook daar kop uitsteek. “As die kokerbome in Maart of April met oorgawe blom, gaan jy ’n goeie blomjaar hê,” verduideli­k hy. “En as ons wel ’n goeie jaar kry, kan jy nie ’n rugbybal in die veld neersit nie, dan sit jy hom op ’n blom neer!”

Rey verduideli­k ook dat ’n mens nie net vir ’n dag of wat kom nie.

“Jy kry die ouense wat teen 120 km per uur probeer blomme kyk. Dit werk nie; jy kan nie net Springbok toe kom vir ’n dag nie,” meen Rey. “Dalk reën dit of die wind waai. Soms in die nag kom die ooswind op en dan waai hy die blomme met sand en al weg. Dan sien jy nie blomme nie en hulle sê die Namakwalan­ners lieg. Jy moet vir ’n week of meer kom.”

Die volgende oggend beland ek op Nababeep. “Ken jy daai fliek Young Ones? Hulle het hom hier geskiet,” sê Alwyna Fourie terwyl ons ’n draai ry op die eertydse kopermyn van die Okiep Copper Company (OCC) op die rand van die dorp. Dié fliek speel af in ’n toekoms waar water so skaars is dat dit die wêreld se waardevols­te hulpbron raak.

Die mynmuseum is vandag gesluit, maar ek het gelukkig vroeër vir Alwyna in die OCC-kantoor raakgeloop en ons doen gou ’n impromptu toer. Alwyna en haar man, Basie, oorspronkl­ik van Vredenburg, bestuur dié myn sedert 2010. Hulle myn lankal nie meer nie en doen deesdae grondversk­uiwings, verhuring van masjinerie en rehabilita­sie op die myn.

Ons ry verby skoorstene en verlate mynskagte voordat ons by die Glory Hole stilhou. Dié gat in die grond met sy groen water is soos ’n klein weergawe van Kimberley se Gat.

Alwyna meen ’n mens moet kom delf in die myngeskied­enis as jy Springbok toe kom. “Dis ’n geskiedkun­dige plek, van Simon van der Stel tot Claratjie wat daar by die museum staan,” sê sy met verwysing na die smalspoorl­okomotief. En as jy eers hier wortel geskiet het, beweeg jy nie sommer weer nie. “Namakwalan­d is amper soos ’n land op sy eie. Dit het sy eie mense, sy eie taal en sy eie manier!”

Ek ry die res van die naweek rond met ’n lys van plekke om te gaan sien. Sommige is eetplekke, nog myndinge en ander is natuurkoll­e. Al is die blomme nog nie uit nie, is hier oorgenoeg ander dinge om my besig te hou.

Maar elke keer as ek ’n kokerboom sien, kyk ek tog uit vir bloeisels.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? OCC-KOPERMYN, NABABEEP
OCC-KOPERMYN, NABABEEP
 ??  ?? NARIES NAMAKWA RETREAT
NARIES NAMAKWA RETREAT
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? KOPERGAT (heel onder). Die Glory Hole in Nababeep is glo deur Korniese myners so gedoop.TREK DAAR ’N ROKIE? (onder) Die skoorsteen langs die hotel op Okiep dateer uit 1880 en is gebruik om ventilasie vir ’n smeltoond te bied.
KOPERGAT (heel onder). Die Glory Hole in Nababeep is glo deur Korniese myners so gedoop.TREK DAAR ’N ROKIE? (onder) Die skoorsteen langs die hotel op Okiep dateer uit 1880 en is gebruik om ventilasie vir ’n smeltoond te bied.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa