DORP VAN DIE MAAND
Die hoofpaaie van die Groot-Karoo vorm ’n strikdas, met Williston mooi in die knoop. Dis dus ’n dorp vir tenk volmaak, iets eet en draai loop. Maar vertoef ’n dag of wat en voel hoe jy – net soos die boorlinge én gros inkommers – lief raak vir dié plek.
’n Mens raak gou lief vir Williston as jy ’n dag of wat hier vertoef, skryf Sophia van Taak oor dié dorp in die Groot-Karoo
DORPLANGS (kloksgewys van links bo). ’n Slaghuis met ’n sifdeur boesem mos sommer vertroue in; Dis vleisskaapwêreld, maar selfs dorpers moet geskeer word; Solank die enjin nog loop, is die saak reg; Elsa van Schalkwyk en die parate Tokkelos; Bouwerk aan dié mooi klipkerk het in 1912 begin en die horlosie sowel as die eikehoutbanke is nog die oorspronklike wat uit Nederland ingevoer is; Dié ooitjie is presies op gewig vir haar ouderdom.
Hier bo van die koppie af lê die landskap oop soos ’n kaart: links, om die Singkoppe, kom die Carnarvonpad in; van oorkant die dorp af die Fraserburgpad. Doer loop een van Calvinia af, en die een aan die voet van die koppie, dis die Brandvleipad.
Die son se eerste strale streel saggies oor die kerktoring en hier langs my flikker die groot neonkruis ’n paar keer, en doof dan uit. ’n Vragmotor dreun uit die noorde nader – die voorloper van ’n hele stroom wat vandag sal verbykom. Williston se hoenderhane word wakker, en in die koshuis se eetsaal gaan die ligte aan. Dit herinner my: ontbyt.
Aan tafel by Die Ark-restaurant wil Sam, die African Grey-papegaai, net nie my koffiebeker uitlos nie. Dié restaurant en gastehuis doen sy naam gestand – hier’s óral diere: “Honde, visse, katte, budjies en ook my skoonma,” grap die eienaar Pieter Naudé. Hy en sy vrou, Elmarie, is kunstenaars wat hulle hier kom vestig het en daarmee saam ook ’n helder kleurspatsel op Williston afgedruk het.
Elmarie stap in en kom wys die inhoud van ’n bondel kombers – Die Ark is nou ook ’n krimpvarkie ryker. Sam is egter net ’n kuiergas. Sy behoort aan ds. Mulder Oosthuizen wat vir ’n paar dae Kaap toe is. Dié koffiedrinkery is glo ’n ou laai. Maar in die paar dae wat sy in die Naudé’s se Doppieskroeg sit en ginnegaap het, het Sam nuwe woorde geleer wat sy liewer nie in die pastorie moet herhaal nie!
’n Mens hoor hoe “inkommers” sukkel om by hulle plattelandse gemeenskappe in te skakel. Maar met dié dat Die Ark een van Williston se prominentste bakens geword het, is Pieterhulle lankal deel van die dorp. Die woorde op sy T-hemp steek die draak met die “ons en hulle”mentaliteit: 100% opregte inkomeling. Ek gaan nêrens – nes jou oupagrootjie.
Selfs in ’n streek so oud soos die HardemansKaroo met families wat al geslagte lank hier boer, het almal tog lank gelede van elders aangeland. Deesdae loop dié trek Karoo toe al hoe dikker – vir sielerus en stilte, maar ook die strak skoonheid wat jy nêrens anders kry nie.
Dalk dié dat mense hier kom flieks maak – soos die onlangse Susters wat op Williston verfilm is. Heelwat van die inwoners was byspelers en Die Ark, die strate en ander bakens op die dorp is op die silwerdoek te sien. Elsa van Schalkwyk se gastehuis, die Williston B&B, ook. Dis oorkant die kerk.
Dít vertel sy my later die oggend op haar koel stoep. “Dit was wíntertyd! En daardie een mannetjie moes in die middel van die nag ’n bok hier uit my agterplaas kom steel. Man, het ek hom jammer gekry! Hy was kaalbolyf terwyl die ryp wit lê!”
Elsa is Williston se bewaarder van stories. Sy kan jou vertel van die gemeentegeskiedenis, die droogtes en dié of dáái plaas. Terwyl ons oorstap kerk toe om die nuwe labirint in die tuin te gaan stap, leer ek van die korbeelhuise in die distrik en die handgekerfde grafstene in ou plaaskerkhoffies. Ongelukkig is die paaie soontoe sleg en party stene kort aandag. Maar in die museum (Elsa kan vir jou oopsluit) is voorbeelde van die vakman Cornelius de Waal (1863-1947) se werk. Dit het glo máánde gevat om so ’n steen met die hand te kerf.
Elsa vertel ook van die vervalle Britse blokhuis (“Pasop net vir die pofadder!”) op die rand van die dorp en die Joodse gesinne wat al vort is. “Een van die Jode wat hier gewoon het, Leonard Oddes, het dit so mooi gestel: ‘When you cross the Zak River and you come into Williston, then you are bitten by a gogga and when this gogga has bitten you, you remain there.’ ”
Só het die Karoo haar ook dekades gelede as bloedjong inkomeling-onderwyseres aangegryp. Sy’ t “ingetrou” en hier is sy tot vandag toe nog.
Tyd vir skaap praat
Williston is ’n egte boeredorp, vol jag- en plaasbakkies. In die hoofstraat staan ’n bakkie vol dorpers met ’n sleepwa ook vol skaap aangehaak. Die bestuurder kom haastig van die kafeetjie oorkant die straat aan, ’n glasbotteltjie Coke in elke hand. Dis Phillie Jacobs, ’n boer en veebemarker van Carnarvon.
Ons gesels ’n bietjie skaap en veldtoestande. Hoeveel vee hou jy deesdae uit om die droogte te probeer oorleef en hoeveel stuur jy voerkraal toe? En die droogtehulp? Ja, daar ís hulp, maar dit bly ’n druppel aan die emmer.
Phillie se Cokes raak warm en hy moet aanstoot. Ek kry ook koers.
Die Karusaf-slaghuis in Lutzstraat het nog ’n sifdeur; dis iets wat my dadelik laat tuis voel. Só ook die gul ontvangs van Loekie le Roux en Liezel Hodgson. Binne val dit my by hoe hierdie Karoo-mense oor vleis dink: Jy sou verwag dat die “Petite Pack” uit ’n paar tjoppies en ’n krul wors bestaan, dálk ’n sosatie daarby. Nee: Dis ’n ontbeende blad, twee kruisskywe, twee rugstringtjops, ’n pak schnitzels én agt kort sosaties! (Tans op spesiale aanbod van R425.)
Die Khoisan-woord vir ’n dorre streek is “karusa”. Sit daarby die “saf,” soos wat die mense hier rond na ’n sagte vleisie verwys, en jy het die perfekte naam vir skaapvleis uit die Williston-distrik! En dis landwyd gewild, sê Liezel: Williston hou elke Oktober saam met die Paarl se Strooidakkerk >
ONTMOET DIE MENSE (kloksgewys van links bo). Die versnittingsassistent Allison Meerka, die blokman Abraham Koopman en die bestuurder Liezel Hodgson sorg dat die Karusaf-slaghuis se koelkaste altyd vol bly; Pamplona van die Groot-Karoo; Francy en Peter Schoeman in Langbaken se plaaskombuis; Adrian Koopman in die skeerhuis op Blesfontein; Nico Hodgson by van die rotsgravures op sy plaas Grootfontein; Dié twee perde probeer onthou wanneer laas hulle ’n groenigheidjie gevreet het. basaar en ry dan sowat tien ton vleis Boland toe. “Ons praat van sowat 26 000 sosaties alleen. Die tannies van die ouetehuis kom help ryg!”
Net oorkant die straat, by die Okki Deli, kreun die koelkas onder nóg lamsvleisverrassings. Die eienaar, Ockert Marais, se familie boer in die distrik en daar’s niks wat jy hom van skaapvleis kan vertel nie. Buiten snitte lamsvleis verskaf die deli ook frikkadelle en wors. Maar Ockert se spesialiteit is salami, cabanossi en patties – alles van skaapvleis!
Nee kyk, jy ry met ’n leë koelboks Williston toe – dis nou maar wors.
Ek groet vir Ockert en mik vir die plaas Rietfontein, waar Roelie le Roux my ’n paar dinge van dorpers leer.
Roelie bestuur die ATKA-stoet, en terwyl ons deur die kampies loop, kan selfs my ongeoefende oog sien dis móói diere, skoudiere. Ja-nee, sy een ram, Boerpot, is immers verlede jaar by die Wes-Kaapse Dorperkampioenskapsbyeenkoms as die wenner aangewys.
By ’n skouskaap gaan dit oor vorm en voorkoms: “Kyk maar na hierdie ram se toplyn,” verduidelik Roelie geesdriftig. “Sien, dis reguit van agter die nek tot op die punt van die stert. En die kruisvorm – ’n skerp 90˚-hoek by die boud. Daardie oorkantste ooitjie weer – haar vroulike vorm is belangrik, ’n fyner nek en kop.”
Boere se geselskap is altyd leersaam, dikwels ook vermaaklik. En jy kan geld wed op die teenwoordigheid van ’n wakker skaaphond – Roelie s’n heet Toska en sy bránd om iets aan te keer. Roelie is vol lof vir dié eg-Suid-Afrikaanse skaapkruising se vrugbaarheid, sy sterk bou en oorlewingsdrang. “Op die plaas waar ek voor ATKA geboer het, het ’n oom eendag vir my gesê: ‘ ’n Merino is so treurig, hy sal sewe dae agter ’n geelslang aanloop om doodgepik te word!’”
Daar word vandag skaap gewerk op Rietfontein en Roelie se kollega, Marnus Coreejes, kom handgee. Diere word aangejaag, uitgevang, geweeg, geskeer en gedous. Roelie hou sorgvuldig boek van alles.
’n Stoetboerdery is ’n presiese besigheid, geskoei op fyn syfers, g’n growwe afleidings nie. Maar toe ons later die middag in die veld staan en kyk hoe ’n ooi haar lammer wat pas aangekom het skoon lek, is dit nie ’n apatiese wetenskaplike wat hier langs my praat nie: “Weet jy, soms kom sit ek net hier tussen die diere. En dan kom druk-druk hulle so aan jou. Dit verander sommer ’n mens se gemoed.”
Camembert en korbeelhuise
Rondom Williston lê oral agterpaaie en ek vat een wat oos saam met die Sakrivier loop.
Die kragdrade glim soos verlepte spinnekopwebbe in die siedende son. Ek hou stil by ’n bakoortjie wat doodgery is. Die bende witborskraaie wat reeds vergader, hop ’n paar treë weg en hou my stip dop toe ek my vingerpunte onder die stowwerige hare instoot – die pelsie is nog snoesig.
Sowat 35 km buite die dorp draai ek in by Langbaken en ontmoet vir Peter en Francy Schoeman op die werf – ’n werf met ’n korbeelhuis en ook ’n span melkkoeie.
Die Willistoners het seker gedink Peter is van sy wysie af toe hy in 2010 uit die Overberg na die Schoeman-familiegrond terugtrek met ’n trok vol jerseys. Waar wil jy nou in dié wêreld met melk kom boer? Maar dit was toe meer om die halsbandjie as om die hondjie – Francy, tóé reeds vir jare aan ’t verfyn aan haar kaasmakery – sou slegs saamkom as Langbaken haar koeie ook huis gee.
En kyk nou net: ’n Paar maande gelede is hulle camembert by die SA Suiwelkampioenskapsbyeenkoms as ’n kampioen gekroon én hulle Karoo Crumble het met ’n gesogte Qualitè-toekenning weggerol! Ons kuier om die kombuistafel. Tussen die koffiebekers staan ’n kaasbord met die einste uitskieterkaas en ek sny kort-kort nog ’n plakkie. Dis te heerlik – iets tussen ’n cheddar en ’n gruyère.
Francy gaan wys my haar kaasfabriek en ek ontmoet ook ’n paar van die jerseys. Dan beduie Peter hoe om met die Bakenklip-pad langs van húlle korbeelhuis af tot by ’n volgende een, doer op Arbeidersfontein, te ry.
Daar is bra min van hierdie konstruksies in Suid-Afrika oor, maar hier rondom Williston, Fraserburg en Carnarvon, af Beaufort-Wes se kant toe en in die Roggeveldberg suid van Calvinia, staan nog enkeles – eienaardige byekorfvormige huisies wat die eerste trekboere hierlangs met slegs gestapelde plat klippe (hier was g’n hout vir rame of balke nie) gebou het. Arbeidersfontein se witgeverfde huisie staan sommer teen die grondpad (GPS S31.24573 E21.25751). Maar ek vertoef nie lank nie – op Grootfontein, Kareeberg se kant toe, wag Nico Hodgson om my ’n ánder oudheid te gaan wys.
Op Grootfontein is nog ’n korbeelhuis en Nico sluit gou vir my oop. Die Hodgsons boer al sedert die 1890’s hier en hy het in hierdie huisie grootgeword. >
Osfontein Hier in die Carnarvon-distrik staan nóg ’n gerestoureerde korbeelhuis vir jou en wag. Hier’s slaapplek vir vyf (1 dubbel- en 3 enkelbeddens). Die stoof en yskas is elektries, maar saans steek jy die kersie aan en kyk hoe die skaduwees teen die ruwe klipmure dans. Waar? Sowat 40 km suid van Carnarvon, langs die R63 na Loxton. Koste Vanaf R900 p.n. vir 2 mense. Kontak 072 310 7979;
osfontein@webmail.co.za
Dan ry ons veld toe, al langs ’n jakkalsproefdraad af. Nico sê die heining se elektriese stroom het hóm al lekker geklits, maar dit hou steeds nog nie al die ongediertes uit nie. “En die dásse! Hulle verniel jou veld – sewe dasse vreet soveel soos een skaap.”
Die droogte. Dis boere se opstaan en gaan slaap. Nico het ’n interessante teorie: “Dis daardie sikloon by Madagaskar wat ons lug so droogsuig.” Maar voor ek kan uitvra, trap hy rem langs ’n groot dolerietknoets – een van veertien hier rond oortrek met gravures. Anders as rotskuns wat teen klipwande geverf is, is hierdie uit die rots se bolaag gekerf.
Ek sukkel om dit te plaas. Rotsgravures, soos dié by Twyfelfontein in Namibië, is duisende jare oud. Maar dié is van vroue met klokrokke, ’n huisie met ’n skoorsteen, volstruise en perdekarre… Kyk, hier staan selfs iets geskryf!
“Ja,” beaam Nico. “Dit sê Niklas iemand, zoon van Willemien. Die res kan ek nie uitmaak nie.”
Voor die Hodgson-familie het hier in die 1850’s Basters geboer – twee broers, Cornelis en Adriaan van Wyk. En as ’n mens so na die uitbeeldings kyk, lyk dit of die gravures uit dié era kan dateer. (Terug op kantoor sou ek afkom op die tesis van Vuyiswa Lupuwana van die Universiteit van Kaapstad. Haar navorsing kon heelwat van die uitbeeldings in daardie era plaas: die gewelhuise stem ooreen met Williston-dorpshuise van die 1880’s; die wye rokke strook met die 1850’s se krinolien- hoepelonderrokke en die perdekar is baie spesifiek die “Cape Spring Wagonette” – ’n tuig wat tydens die Kimberley-diamantstormloop gereeld hierlangs verbygekom het.)
Maar wie was die kunstenaars? Skaapwagters wat ledige ure in die veld moes verwyl? Mense wat hulle eie leefstyl wou verewig? Of ander wat maar dalk net van sulke huise, perdekarre en volstruisplase kon droom?
Oor dié dinge gis ek en Nico terwyl ons aanry na die aangrensende plaas, Leeuwkrans. In die droë loop van die Beeswaterrivier wag ’n meer bekende dokument: rotskuns.
Die lae kransie is oortrek met geometriese patrone: sirkels, parallelle strepe en kruisies soos vandag se hutsmerk. Wat sou dít beteken?
Nico vertel dis die sketse van die Griekwa-hokmeisies – jong maagde wie se “voorbereidingskool” hier was. Hoe hulle onder toesig van ’n ouma hulle gesigte met rooi klei ingesmeer en deur rituele hulle vrouwees betree het – alles onder die waaksame oë van die waterslang.
Wil jy nou meer. Van dit alles sou ek niks geweet het as ek net deur Williston gery het nie.
Met sonsondergang trek ek langs ’n grondpad af – dié keer by ’n windpomp. Sy kop tol verbete, die krip is byna volgeloop.
Die skemer kom padlangs aan, die veraf geblêr van ’n skaaplam drentel agterna, en opeens verstaan ek hoe Roelie in die stil geselskap van sy dorpers voel. Dié Karoo-gogga byt nie seer nie.