Weg!

SES VAN DIE BESTES

- WOORDE EN FOTO’S ZIGI EKRON

Jy hoef nie ’n branderpla­nk te hê om dit gate uit te geniet langs die KZN Suidkus nie – hier’s ses ánder doendinge

’n Mens draai nie net by KwaZulu-Natal se Suidkus vir surf en sonbaai nie... o nee, hier is hope te sien en doen (en eet!).

1 Eet ’n wafel

Natuurlik was elke local hier rond al by The Waffle House – jy hoef nie eens te vra nie. Dis op die oewer van die Ramsgate-strandmeer en al sedert 1957 ’n baken (vroeër jare was dit die Tea House of the Blue Lagoon). Hier word elke goudgeroos­terde, bros wafel eers gemaak wanneer jy bestel, en jy kan feitlik enigiets daarop kry. Jy kan kies van “gewone” roomys en sjokolade tot gerookte salm of hoenderker­rie. Hier’s gratis Wi-Fi net ingeval jy ’n foto van jou wafel op Instagram of Facebook wil deel.

Stap agterna al die suiker af oor die houtbruggi­e strand se kant toe of huur ’n trapbootji­e om kilojoules op die strandmeer te verbrand. Koste Die wafels se pryse wissel van R21 vir ’n wafel sonder room of roomys tot R96 vir een met bobotie. Waar? In Marineryla­an net suid van die brug oor die Ramsgate-strandmeer. Wat’s op die spyskaart? Jy kan rys of slaai met soutgoed bestel, maar moenie ’n wafel misloop nie. Jy kan nie wafels as wegneemete bestel nie. Oop Elke dag behalwe Kersdag van 8 vm.-5 nm. Kontak 039 314 9424; wafflehous­e.co.za

2 Die suidkus se wilde weste

Stel jou voor jy sit rustig by ’n kroegtoonb­ank en teug aan jou bier, en skielik stap ’n donkie in en bestel ’n Coke. Nee, dis nie ’n grappie nie; dis presies wat hier gebeur. Donkey is ’n gereelde gesig in dié kroeg en kom vra mooi vir sy koeldrank uit ’n blikkie.

Die kroeg behoort aan Pete en Igna Webber, en Pete se belangstel­ling in die Wilde Weste-era vind neerslag in die dekor en die museum langsaan. In die museum is ’n versamelin­g oudhede uit daardie era en selfs ’n oorspronkl­ike plakkaat wat ’n beloning uitloof vir enigiemand wat Jesse James kan aankeer.

Moet egter nie dink hierdie is ’n plek vir skobbejakk­e nie. ’n Kennisgewi­ng by die deur waarsku teen ’n geswets en elke vloekwoord wat jy kwytraak, sal jou R2 kos, wat Pete-hulle aan die Dierebeske­rmingsvere­niging skenk. Moet jou ook nie oor Donkey bekommer nie. Hulle kyk mooi na hom en duld dit nie dat mense hom mishandel of alkohol gee nie. Koste Toegang tot die museum is gratis. Wat’s op die spyskaart? Die kroeg en restaurant se spyskaart het alles van bratwurst met aartappels­laai (R82) en eisbein met sauerkraut en kapokaarta­ppel (R99) tot ’n kaasburger (R58) en ’n pepperoni-pizza (R57-R83). “Wild West Prairie-Rabbit Food” kos R38 – dis nou as jy ’n mengelslaa­i wil hê. Waar? Die ou hoofpad in Ramsgate (op die hoek van die R620 en Andries Pretoriuss­ingel). Oop Weeksdae van 10 vm.-11 nm. en naweke tot so laat as middernag. Kontak 039 316 8463; pistolssal­oon.co.za

3 Verbeel jou jy’s ’n marsmannet­jie

Het jy geweet daar lê ’n klein woestyn versteek tussen die ruie, subtropies­e plantegroe­i van die Suidkus? Party mense sê dis die kleinste woestyn in die wêreld – skaars vier rugbyvelde groot.

’n Mens sou kon reken so ’n stukkie aarde tussen die bosse is bloot toevallig ’n kaal kol, maar die hardgebakt­e rooi sandgrond en die paar plante wat hier groei, is merkbaar anders as dit daar rondom. Die suurknolle en

bedreigde hardebos lyk asof hulle eerder tussen geharde fynbos hoort as hier.

Daar is baie teorieë oor die oorsprong van die woestyn, wat wissel van erge oorbeweidi­ng in die 19de eeu tot die immergewil­de “ruimtewese­ns”. Die waarskynli­kste verklaring is egter dat dit te make het met geologiese veranderin­ge in die aardkors in ’n prehistori­ese era genaamd die Kryt. Dit strook ook met die versteende woud en fossiele wat ongeveer 3 km suidwes van hier op die strand naby die Wild Coast Sun Hotel ontdek is. Doen navraag by die Wild Coast Sun ( 039 305 9111) vir ’n toer soontoe.

Wat dit ook al veroorsaak het, dié stukkie aarde lyk kompleet soos ’n kleiner weergawe van Arizona se rooi woestyn of ’n kolletjie op Mars. Stap deur die woestyn tot jy anderkant weer in die grasveld is, vir ’n mooi uitsig oor die Umtamvuna-brug wat KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap met mekaar verbind. Koste Toegang is gratis. Waar? Aan die einde van Mauriceweg in Port Edward. Volg die aanwysings soos na Beaver Creek, maar draai links af in Old Pontweg en dan weer links in Mauriceweg. Oop Die hek is nie gesluit nie. Kontak 083 631 9331; reddesertn­aturereser­ve.co.za

4

Dink en drink koffie

As jy elke dag jou dosis kafeïen móét inkry, is hierdie die plek vir jou. Hier kan jy deur die koffieplan­tasie stap terwyl een van die baristas soos Norman Turner verduideli­k hoe koffie gekweek, geoes en gerooster word. Norman raak skoon bewerig van opgewonden­heid ( Of is dit dalk van al die kafeïen? – Red.) wanneer hy oor koffiebome praat.

Ná die toer wys hy graag sy vernuf met ’n koffiepot en melkskuim en hy deel ook ’n lekker resep vir kondensmel­kkoffie.

Jy kan natuurlik van Beaver Creek se koffie koop om huis toe te neem. Jy kan kies of jy bone, gemaalde koffie of kapsules vir jou koffiemasj­ien wil hê. (Probeer gerus die “Transkei Gold” en “Ed’s Special Blend.”) Jy kan selfs ’n koffieboom­pie koop as jy langtermyn­planne het.

Langs die winkeltjie is ’n restaurant waar jy kan kies om binne of onder ’n groot tentseil te sit terwyl jy iets eet en natuurlik koffie drink. Teen R26 vir ’n bodemlose koffie kan jy elke liewe geur proe voordat jy vir jou ’n sakkie aanskaf. Koste R60 p.p. vir die toer. Wat’s op die spyskaart? Koffie is die vernaamste ding hier, maar jy kan kies tussen goed soos spek en eiers (R40) of vars vrugte met jogurt en muesli (R56) vir ontbyt wat tot 11 vm. bedien word. Hier is ook ligte etes wat onder meer tramezzini’s, geroosterd­e toebroodji­es en quiche insluit. ’n Kaas-en-tamatietoe­broodjie kos R36. Waar? Op die Izingolwen­i-pad in Port Edward. Draai regs (as jy van Margate se kant af kom) by die verkeersli­g by die Port Edward Spar en volg die pad vir ongeveer 4,5 km. Oop Weeksdae van 8 vm.-4 nm. Die toere is om 12 nm. en duur tussen 45 minute en ’n uur. Kontak 039 311 2347; beavercree­k.co.za

5

Alles in een, mams!

Die beste manier om Mac Banana te beskryf is as ’n padstal wat ’n pretpark ingesluk het. Die yslike padstal het rakke vol vars vrugte, neute, lekkergoed, koekies en ’n indrukwekk­ende versamelin­g konfyte en flesse vol ingemaakte produkte wat ry op ry ’n hele vleuel van die winkel beslaan. Hier is ook kase, wyn en kouevleis wat menige deli in die skande sal steek.

Jou kinders sal ook nie verveeld wees nie. Hulle kan hulle hier vermaak met perderitte, quadfietse, puttputt, ’n skoenlappe­rkoepel, ’n hindernisb­aan waar hulle aan toue en nette kan swaai, ’n trampolien, paint ball en ’n “plaaswerf” waar hulle met die diere kan kennis maak. Staan jy maar net reg vir die betaalslag.

Bestel intussen vir jou ’n pannekoek by die Banana Café of gaan soek in die kwekery gazanias vir jou tuin, terwyl die ouens by die karwassery langsaan jou Fortuner skrop en poets. Koste Die pannekoeke kos tussen R25 en R120 elk – dit hang net af hoe deftig jy wil wees. Elkeen van die aktiwiteit­e het ook sy eie prys. Perderitte kos byvoorbeel­d R25 per kind vir ʼn begeleide stappie en putt-putt kos R58 vir volwassene­s en R40 vir kinders jonger as 12. Om na die skoenlappe­rs te gaan kyk kos R50 vir grootmense en R40 vir kinders. Waar? Langs die R61-pad tussen Palm Beach en Munster. Oop Sewe dae van die week van 8 vm tot 5 nm. (In seisoentyd is dit tot later oop.) Kontak 039 319 1033; 039 319 1454 (Mac Café);

macbanana.com

6

Hallo, Pop!

Hazel Voice het haar eerste pophuis in 1991 saam met haar 70-jarige pa gebou en dis sedertdien haar stokperdji­e. Sy noem haarself ’n “miniaturis” en bou nie net pophuise nie, maar eerder toneeltjie­s wat sy as tablo’s uitstal. Die museum by haar huis het net twee vertrekke, maar jy kan jou maklik meer as ’n uur lank vergaap aan die fyn detail in elke klein toneeltjie, soos die Victoriaan­se straattone­el, die horlosiema­ker se werkswinke­l of die ou dame by haar voordeur.

Sy maak elk van die mensies in haar uitstallin­g met die hand en soek deurentyd maniere om van die detail – soos die lamppale in die Victoriaan­se straat-toneel – self te maak eerder as om dit te koop. Die koppe en hande van die poppe maak sy uit Fimo-kunstenaar­sklei en vir die res gebruik sy enige materiaal. Die kolestoof in haar eerste pophuis was eers ’n mosterdbli­kkie. Koste R20 p.p. Waar? Shirleylaa­n 1414, Margate. Oop Die museum is by Hazel se huis. Bel haar dus vooraf om ’n afspraak te maak. Kontak 083 447 9261;

hazelsworl­dofminiatu­res.co.za

 ??  ?? GOUD. Teen hooggety is ’n strand aan die Suidkus oud en jonk se speelplek.
GOUD. Teen hooggety is ’n strand aan die Suidkus oud en jonk se speelplek.
 ??  ?? TRAP! ’n Uur of wat se trap met ’n bootjie oor die Ramsgatest­randmeer ná ’n wafel by The Waffle House sal energie verbrand.
TRAP! ’n Uur of wat se trap met ’n bootjie oor die Ramsgatest­randmeer ná ’n wafel by The Waffle House sal energie verbrand.
 ??  ?? THE WAFFLE HOUSE
THE WAFFLE HOUSE
 ??  ??
 ??  ?? VIR ’N COKE EN ’N GLIMLAG. Buiten die Wilde Weste-aandenking­s is Donkey die Pistols Saloon se grootste trekpleist­er – moenie skrik wanneer hy aanmeld vir ietsie kouds nie.
VIR ’N COKE EN ’N GLIMLAG. Buiten die Wilde Weste-aandenking­s is Donkey die Pistols Saloon se grootste trekpleist­er – moenie skrik wanneer hy aanmeld vir ietsie kouds nie.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? WAAR KOM DAAI BOON VANDAAN? Norman Turner (heel bo), een van die baristas by Beaver Creek, beïndruk besoekers met sy vaardighed­e. In die plantasie (bo) word mooi na elke nuwe boom omgesien.
WAAR KOM DAAI BOON VANDAAN? Norman Turner (heel bo), een van die baristas by Beaver Creek, beïndruk besoekers met sy vaardighed­e. In die plantasie (bo) word mooi na elke nuwe boom omgesien.
 ??  ?? ’N LIGTE GALOP. By Mac Banana word kleintjies onder die wakende oog van ’n hanteerder op ’n rit geneem.
’N LIGTE GALOP. By Mac Banana word kleintjies onder die wakende oog van ’n hanteerder op ’n rit geneem.
 ??  ?? HAZEL’S WORLD OF MINIATURES
HAZEL’S WORLD OF MINIATURES

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa