Weg!

Helde van die Kgalagadi

-

Ons was op die Duinepad tussen die Mata Mata- en Nossobrusk­amp in die Kgalagadi-oorgrenspa­rk toe ons ’n slag hoor. Parkreëls ten spyt spring ons uit asof daar ’n bom in die bakkie is. Ek gaan staan soos ’n reuse-meerkat op die bakkie om te sien of daar leeus aankom. My dierbare man, George, wat minder as niks van meganiese goeters af weet, seil flink onder die bakkie in om te probeer uitpluis hoekom sy haar so wangedra.

Die regteragte­rwiel wys in ’n heel ander rigting as al die ander en is stewig teen die bak vas. Dié bakkie ry nêrens heen nie. Ons klim terug en vra vir die mense wat verbyry om die kantoor in te lig. Ons speel vyf uur lank kaart. Al diere wat verbykom, is ’n enkele muis en ’n klompie voëls.

Uiteindeli­k sien ons ’n stofwolkie in die pad aankom. Willem Strauss (links op die foto) en Jannie Bok, ons helde in ’n Sanparke-bakkie. “Dis ’n bladveer wat gebreek het. Gebeur baie hier,” sê Willem. Binne ’n uur maak hulle die band stewig genoeg reg met bloudraad, houtbalke, toue en dinge sodat ons die 60 km tot by Nossob kan ry.

Dit was naweek en die telefoonon­tvangs is maar skraps. Ons kon dus eers twee dae later onderdele bestel uit Upington, en dan neem dit drie dae om op Nossob aan te kom.

’n Paar dae later, op pad huis toe, kry ons vir Willem langs die pad met die trekker waarmee hulle die pad skraap. Hy’s gestrand met ’n pap band. Hierdie keer het ons ’n kompressor en goeters om die gat te stop. Wat ’n voorreg om ons held te kon help.

BETH FERREIRA, Kaapstad

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa