KLASSIEKE AFRIKAANS
Weg stof ’n klassieke Afrikaanse boek af.
Spieserye
deur Jan Spies Tafelberg, 1988
Met ’n storie is dit so: Soms as jy die grootste leuen vertel, kom jy die naaste aan die waarheid, want jy lieg hom oop. En as jy die waarheid vertel, praat jy die wesenheid partykeer toe. Want in die werklikheid sien ons nie altyd die waarheid nie. Jy moet hom eers lieg of swaai tot jy ’n spleet kry waar jy kan inkyk.
Aan die woord is Jan Spies (1936-1996), die legendariese Namibiese storieverteller, dosent, letterkundige, boer, radio- en televisiepersoonlikheid en koerantredakteur.
Die meeste mense sal hom onthou vir die TV-program Spies en Plessie wat hy saam met wyle P.G. du Plessis in die tagtigerjare aangebied het. En natuurlik vir daardie Cremora-advertensie...
Hoewel ’n mens na Jan Spies se vertelstem móét luister – gelukkig is daar talle video’s op YouTube – is sy storiebundels ’n groot deel van sy kosbare en genotvolle nalatenskap.
Ek het onlangs in ’n tweedehandswinkel in Johannesburg op Spieserye afgekom. Dis ’n Jan Spies-omnibus met al vier sy bundels saam: Pilatus tot molshoop, Poort deur die koue, Profeet met kondensmelk en Pille vir servette. Die boek sluit sy trefferstories soos “Engel met ’n Ford,”“Pape se plan,”“’n Vriend in nood” en “Waaksaam op die vlug” in.
Hy begin “Engel met ’n Ford” op ’n filosofiese noot:
’n Mens sou miskien dink snaaksigheid is afhanklik van lewe – van mense, varke, donkies en sulke goed. Maar dit is nie so nie. Dis net van die mens afhanklik, want as dié nie daar was om dit waar te neem nie, sou dit so goed as nooit gebeur het nie. Die mens moet by wees of niks is snaaks, mooi, lelik, goed of sleg nie. En daarom het daar al tussen die mens en die motorkar net soveel interessantheid afgespeel as wanneer die mens en die donkie mekaar misverstaan.
In die koshuisstorie “Koek tot by die kuite” het Jan die volgende waarneming oor koshuisgangers se eetgewoontes:
As daar op hierdie aarde één ding is met ’n behoorlike eetlus, dan is dit by ’n jongetjiesmens – enigeen van so nege tot sewentien. En as hy daarby nog in die koshuis is, dan verskil hy nie veel van ’n sprinkaan nie. Dis so goed of hy ook ’n reguit derm het waardeur die kos vinnig beweeg van die een kant af na die ander een toe.
Hy was ook bekend vir sy donkiestories, en in “Lastige geheue” raak hy sommer vroeg ’n diep wysheid kwyt:
“Jong ’n donkie is baie nes ’n mens.” So vertel oom Willie Smith van Maltahöhe se wêreld eendag vir my. “Die goed wat jy wil hê wat hy moet weet, dié vergeet hy vinniger as wat jy hom dit geleer kry, maar dit wat hy self uitgevinne en wat hy vir homself geleer het, en wat jy sou wens hy daadlik vergeet, dié onthou hy of hy daarmee gebore is. Jy kry dit eenvoudig nie uit sy harspan uit nie. Hy vreet al lank genadebrood, dan is sy geheue nog pure jong donkie s’n, smaak dit vir my.”