Weg!

Getroud met reis

Hugo (26) en Caro (28) Minnaar het in 2017 agt maande lank deur Afrika gereis. As webontwerp­ers kon hulle enige plek werk waar ’n goeie internetve­rbinding is. Die reisgogga het hulle diep gebyt – deesdae het hulle nie eens ’n vaste adres in Suid-Afrika ni

-

Waar kom die idee vandaan?

Een van ons huweliksbe­loftes aan mekaar was om die wêreld plat te toer. In 2015 en 2016 het ons Viëtnam en Turkye besoek, en planne vir ’n wêreldreis het ernstig geword. Ons wou van Australië na Suidoos-Asië toer, maar toe koop Hugo impulsief sy eerste 4x4 en besluit: Ons begin in Afrika! Dit was ons eerste oorlandtoe­r.

Hoe kon julle dit bekostig?

Ons het ’n jaar lank gespaar en beplan om op ons reis aanlyn te werk. Met die inkomste van dié werk het ons weinig van ons spaargeld gebruik. Buiten die bakkie se versekerin­g het ons geen uitgawes (motorpaaie­ment, selfoonkon­trak...) gehad nie.

Ons reisuitgaw­es op kos, verblyf en vermaak was dus amper dieselfde as wat ons tuis sou spandeer. Ons gemiddelde daaglikse uitgawes was rondom R400 p.p., sonder die gorilla-uitstappie.

Ons het soms saam met vriende gereis wat ook die koste laag gehou het (lees Hugo-hulle se webwerf vir ’n volledige kosteuitee­nsetting).

Met watse voertuig het julle gery?

Hugo wou eers die tog met ’n motorfiets aanpak, maar sien toe op Gumtree ’n 2003 Toyota Hilux KZTE met omtrent al die toebehore vir dieselfde prys as ’n BMW GS1200. Ons koop toe die Hilux met ’n Safarisnor­kel, langafstan­ddieselten­k, aluminiumk­appie, laaistelse­l, ensovoorts. Al wat ons ekstra aangebring het, was ’n daktent.

Die bakkie het hom uitstekend gedra. In Zambië moes ons ’n agterwiel se wiellaer vervang. Ons het net drie pap wiele gekry. Ons het twee noodwiele gehad en het die een onder die motor nooit afgehaal nie.

Hoe het julle alles beplan?

Ons het telkens eers nadat ons ’n land se grens oorgesteek het, begin kyk na wat daar is om te sien. Ons enigste twee vaste datums was om teen Junie in Nairobi te wees (vir Caro se Unisa-eksamen) en om in Oktober terug te wees in Suid Afrika (vir haar eindeksame­n). Ons kon dus by lekker plekke so lank bly soos ons wou. Ons het aanvanklik internetbl­ogs geraadplee­g vir inligting. Later het ons gehoor van die app iOverlande­r (laai dit gratis af by Google se Play Store) om kampplekke te vind.

Watter dokumente was nodig?

Ons het ’n Carnet de Passage et Douane (CPD) by die AA gekoop. Omdat ons bakkie se waarde maar R75 000 was, het dit ons R10 000 gekos. Hierdie deposito het ons met ons terugkeer (minus die R4 000-AA-tarief ) teruggekry. Die CDP dek ook ’n polisiekla­ringsdokum­ent (wat bevestig dat die voertuig joune is, en nie gesteel nie). Sonder die CDP is dit wys om ’n polisiekla­ringsdokum­ent saam te ry.

Derdeparty­versekerin­g is verpligten­d en ons kon dit gewoonlik op die grens koop – soms op die naaste groot dorp (as dit ’n klein grenspos is). Verder het ons die motor se registrasi­epapiere en afskrifte daarvan (en van ons paspoorte) byderhand gehad. Ook die vel papier waaruit jy jou lisensiesk­yf sny – jou registrasi­enommer verskyn hierop en bevestigin­g hiervan word soms aangevra (dit staan nie op die registrasi­epapiere nie).

Ons het die bakkie se VIN-, enjin- en registrasi­enommer in groot skrif uitgedruk en op die buiteblad van ’n lêer (waarin al ons dokumente gebêre is) geplak sodat ons dit maklik kon ophou en wys vir ’n amptenaar wat ons inligting moes neerskryf.

Hugo se internasio­nale rybewys is nooit gevra nie. Ons het ook ’n lys gemaak van die reeksnomme­rs van al ons elektronie­se toerusting soos skootreken­aars en kameras, indien doeanebeam­ptes ons iewers probleme wou gee daaroor, maar dit was ook nooit nodig nie.

Wat van visums?

Ons het slegs vir Rwanda, Uganda en Ethiopië visums nodig gehad. Uganda en Rwanda s’n kan ’n mens op die grens kry. Vir Ethiopië het ons die visum op die lughawe gekry omdat ons van Nairobi af soontoe gevlieg het. Indien ons oor die grens wou ry, sou ons waarskynli­k ons paspoorte na SA moes koerier om aansoek te doen om visums.

Hoe het julle gemaak wat kos betref?

Die meeste van die kos wat ons in Suid-Afrika gekoop het, het skaars ’n week gehou! Ons moes selfs speserye aanvul. In Oos-Afrika kry jy net groente en vrugte langs die pad. In Tanzanië het net die stede groot supermarkt­e. In Nairobi kon ons bekende kruidenier­sware koop soos blatjang, Corn Flakes en Tabasco. Die mall in Nairobi het ’n Spur, Ocean Basket en KFC. Rwanda het goeie supermarkt­e. Uganda, Zambië, Malawi en Mosambiek het Shoprite-winkels.

Ons het wel Karooskaap­tjoppies en sjokolade begin mis! Ons kon amper nêrens in Tanzanië sjokolade kry nie ( Dit smelt seker te gou... – Red.).

Daar was ook tye wat ons na kaas gesmag het. Ons het nooit ’n vaste kosmaakroe­tine gehad nie. Ontbyt was enigiets van oorskiet tot beskuit of pap. Ons het gereeld Franse roosterbro­od of roereier gemaak. ’n Indonesies­e student wat in ’n stadium saam getoer het, het ons leer egg fried rice maak met oorskietry­s.

Middagetes was hoofsaakli­k grondboont­jiebotter-en-gouestroop­broodjies of ons het gepeusel aan koekies, neute en vrugte. In Malawi het ons “chipsi” gekoop (aartappels­kywe in olie gebraai).

Aandetes was pasta of rys met groente of blikkies boontjies. Ná Zanzibar het Caro heerlike kerries gemaak met die plaaslike speserye.

Ons het min gebraai; ons wou nie vleis langs die pad koop nie. ’n Mens weet nie hoe lank dit al buite hang nie.

Wat kon gebly het?

Die vier jerrykanne was ’n mors van plek. Die bakkie se 130 liter-langafstan­dtenk (waarmee ons 1 000 km kon ry) was meer as genoeg. Ons het twee kanne in Nairobi gelos en die ander twee leeg saamgery vir die res van die toer.

Die enigste ding wat ons nooit gebruik het nie, was die air jack, maar dinge kon maklik anders uitgedraai het. >

Wat was onontbeerl­ik?

Sonkraglig­gies (’n vierligste­l soos te koop by ellies. co.za). ’n Mens wil dikwels lig hê ’n bietjie verder van die bakkie af en hierdie stel, wat aan ’n batterybok­sie koppel, was draagbaar. Boonop het dit vinnig in die son herlaai.

Wat pak julle volgende keer in?

’n Staafmenge­r – heelwat kampplekke het elektrisit­eit. Daar is volop vrugte en ons sou lekker smoothies kon maak.

Ons voertuig het nie ’n afdak nie. Ons het met ’n stuk seil ’ n afdak prakseer. ’n Groter afdak wat makliker kon oopmaak, sou beter beskerming teen son en reën verskaf het.

Hoe het julle koste laag gehou?

Parktoegan­g is duur; dus het ons slegs twee besoek: Mikumi in Tanzanië (een dag) en die Maasai Mara in Kenia (twee dae).

Ons sou meer parke in Tanzanië besoek het, maar ons was daar in die reënseisoe­n. Die parke is ekstraduur as ’n mens met jou eie voertuig ry en jy sien in elk geval meer wild saam met ’n gids in ’n safarivoer­tuig. Ons sal dus in die toekoms (as ons oud en ryk is!) ’n vliegsafar­i na die Serengeti onderneem. Of weer met ons eie voertuig toer en ’n wildkykrit vir die parke bespreek.

Was grensposkr­uisings stresvol?

Dit het makliker geword met verloop van tyd. By die meeste lande was ons strategie om die kleinste grenspos te kies. Dit kan wel langer neem: een slag moes ons wag vir personeell­ede om hulle wasgoed te gaan afhaal toe dit begin reën! Dit is baie rustiger by die kleiner poste en daar is nie opportunis­te wat omkoopgeld soek nie. Verder het ons net kalm en vriendelik gebly en gemaak of ons die wêreld se tyd het (wat die geval was).

Hoe was die padtoestan­de?

Buiten die pad in Zambië van Sesheke af tot in Katima Mulilo en dele van die EN1-hoofroete in Mosambiek was die meeste van die hoofteerpa­aie in ’n goeie toestand. Natuurlik is daar slaggate, smal paaie en padwerk, maar ’n mens sou 98% van ons roete met ’n Citi Golf kon ry.

Ons was beïndruk met Malawi se paaie waar dit gevoel het of jy vir die eerste keer in maande die bakkie in vyfde rat kon ry! Mense waarsku teen die busse in Tanzanië, maar ons het dit nie so erg beleef nie. Die Mombasa-Nairobi-hoofweg in Kenia is wél ’n belewenis: Duisende lorries wat mekaar heeltyd verbysteek, ongeag of daar aankomende verkeer is en ten spyte van die diep slote in die teer.

Het julle ooit onveilig gevoel?

Ons het min veiligheid­smaatreëls gehad, byvoorbeel­d geen kluis in die bakkie, geen wapens, ensovoorts. Ons het saans die bakkie gesluit en

streetwise probeer wees. Gedurende die agt maande van ons toer is niks gesteel nie. Ironies genoeg is daar skaars twee maande nadat ons terug was in SuidAfrika by ons bakkie ingebreek en meer as R80 000 se goed gesteel!

Enige mediese noodgevall­e?

In die eerste maand het ons albei siek geword. Caro in Tsumeb waar daar huisdokter­s en apteke is. Hugo was koorsig langs die Okavangori­vier. Ons het malaria vermoed en is na ’n plaaslike kliniek waar hy gelukkig negatief getoets het. Ná twee dae in die bed kon ons weer in die pad val.

Ons het Doxycyclin­e gedrink teen malaria. Party mense reken dit is beter om niks teen malaria te doen nie (buiten langmoukle­re dra ná skemer, ensovoorts) tot jy siek voel. Indien jy dan positief toets vir malaria, begin dadelik Coartem-tablette gebruik. Dié tablette kon ons in Kenia koop vir R20 ’n pakkie. Indien ons weer toer, sal ons dit waarskynli­k so doen.

Skaars twee weke later, in Zambië, het Hugo sy kop gekap teen ’ n stuk yster en moes steke kry in ’ n plaaslike hospitaal. Ons reisversek­ering het dit gedek en die wond het mooi genees. Ons het voedselver­giftiging in Mosambiek opgedoen van kos wat by ’ n bekende supermark gekoop is.

Hoe het julle kontak gehou?

Ons het in elke land ’n SIM-kaart gekoop (sowat R10) en kon data koop teen tot 10 keer goedkoper as in Suid-Afrika. Ons was dus amper heeltyd op WhatsApp beskikbaar. Ons kon ook gereeld foto’s en video’s op ons blog laai.

Hoe het julle pad gehou?

Ons het op Gumtree ’n Garmin Nuvi vir R500 gekoop. Daarop het ons Tracks4Afr­ica en Open Street Maps gelaai. Buiten Namibië het ons geen verdere padkaarte gehad nie. In baie gevalle het ons op paaie gery wat nie op Tracks4Afr­ica was nie, maar wel op Open Street Maps of Google Maps. Soms het die stelsel egter die “kortste” pad gekies, al was dit in swak toestand; dus moes jy steeds op jou voete dink.

Hoe was dit om saam te toer?

Die reis was maar soos die res van ’n mens se lewe. Daar is lekker en moeilike tye. Die enigste verskil is as jy kwaad raak vir mekaar, moet jy steeds langs die persoon bly sit in die motor of langs mekaar slaap in die tent. Daar is nie ander vertrekke of uitkomkans nie!

Enige raad aan Weg- lesers?

Klim in jou kar en ry! Moenie te veel beplan nie, want niks gebeur volgens plan nie. Moenie te veel inpak nie, want daar is winkels padlangs waar ’n mens enigiets kan koop van kampstoele en gasstofies tot Nivea-room en Pringles. >

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa