Weg!

Van die Kaap na Uganda

Ben en Iza Kriel (albei 60) toer al sedert 1995 deur Afrika. In Junie en Julie 2017 het hulle tot in Uganda gery!

-

Waarom nóg ’n lang toer?

Ons was reeds in al ons buurlande, Angola en Tanzanië (ook by die Serengeti en Ngorongoro). Dit was nog op ons bucket list om ons “familie” te besoek – die berggorill­as in Uganda! En om Nylbaars te vang by die Murchisonw­aterval.

Juniemaand is ’ n stiller tyd op die plaas in Robertson en ons seun, Kobus, kon die leisels hou. Ons verkies om in ’ n konvooi van net drie voertuie te toer, want jy beweeg vinniger en jy kan gewoonlik drie voertuie op een kampplek parkeer – én ses mense se vleis pas presies op ons rooster!

Ben se broer, Jacques Kriel, en sy vrou, Johanna (ook van Robertson) en vriende Francois en Isabel Marais (van Worcester) het saam getoer. Ons het al baie saam gereis en verstaan mekaar dus goed.

Hoe beplan julle?

Ons begin lank voor die tyd en gebruik nooit ’n reisgids nie, maar Google help baie! Ons oudste seun, Pieter-Ben, het in 2010 saam met vier vriende in ’n stokou Land Cruiser van Londen na Kaapstad gery, en hy het ook nuttige inligting gedeel.

Met Google Maps kon ek die afstande en geraamde reistyd bepaal. In Tanzanië kan jy nie vinnig vorder nie, want vir groot afstande ry jy deur beboude gebiede waar die spoedperk tussen 50 km/h en 80 km/h wissel. En die verkeerspo­lisie wag om elke hoek en draai (begroot vir boetes!).

Ons beplan ons roete, maar bespreek byna niks vooraf nie. Ons moes wel die berggorill­apermitte bespreek, asook die visvangeks­kursie by die Murchison-waterval. Die permitte het ons aanlyn betaal by Uganda Wildlife ( ugandawild­life.org) en dit toe by hulle kantore in Kampala gaan optel. Ons moes dus rofweg op ’n skedule bly.

Wat was julle roete?

Ons het die mees direkte roete deur Botswana en Zambië (die Great Northern-pad) gevolg tot by Kapishya Hot Springs noord van Mpika in Zambië.

Daarna het ons die hoofpad na Tanzanië gevolg tot by Iringa, waar ons noord gedraai het in die rigting van Dodoma, en toe verder noord tot by Arusha. Van Robertson tot Arusha het ons net nege dae gevat!

Van dié punt af was alles nuut en het ons dit rustiger gevat, maar die ry was hárd. Ons is toe na Nairobi, Kenia, en het ook die wildebeesm­igrasie in die Maasai Mara- nasionale reservaat gaan kyk. Volgende was Uganda, waar ons onder meer ’n ballonvlug oor die Queen Elizabeth- nasionale park onderneem het om ons 60ste verjaarsda­e te vier!

Toe was dit tyd vir die gorillas! Ons het permitte gekry vir Rushaga, wat in die suidelike deel van die Bwindi- nasionale park lê. Aangesien ons die mees senior stappers was, het hulle ons ingedeel om na die naaste gorillafam­ilie te stap. Binne twee uur was ons by hulle. Ons sal nog lank daardie eerste geluide en die oogkontak onthou!

Rwanda was die grootste verrassing van die toer. Daar lê geen vullis rond nie! In Kigali het ons die Genocide Memorial besoek en besef hoe ’n land weer herstel kan word. Van Kigali af is ons by Rusumo oor die grens, terug na Tanzanië waar ons al langs die Tanganjika­meer suidwaarts gery het en toe Zambië by die klein Kasesya-grenspos binnegaan het. Presies ’n maand nadat ons laas daar was, was ons terug by Kapishya Hot Springs.

Met die terugreis het ons noord van Lusaka wes gedraai na die Kafue- nasionale park. Daarna is ons Namibië binne by Katima Mulilo en het deur Namibië terug Suid-Afrika toe gery.

Waarmee het julle gery?

Ons ry ’n 2005 Toyota Land Cruiser 2.4 Diesel Pickup. Die ander voertuie was ’n 1996 Land Cruiser 80-reeks stasiewa en ’n 2017 Ford Ranger-dubbelkaju­it.

Ons Cruiser se kap is ingerig deur JW Swart van Infanta Trailers ( infantatra­ilers.co.za): kombuisie, klerekas, Honiball-daktent, ensovoorts. Die groot voordeel van só ’n ingerigte kappie is dat – behalwe vir jou stoele – jy niks hoef af te pak wanneer jy by jou kampplek kom nie. Jy bly dus skoon en kan vinnig begin kos maak, water kook of gaan slaap. Binne minute kan jy weer oppak en verder ry. Die Cruiser het ’n ekstra langafstan­ddieselten­k: in totaal

kan ons dus 210 liter diesel ingooi. Ons ry ook 80 liter drinkwater saam.

Ons het ’n wenas en ’n hoogligdom­krag vir noodgevall­e. Ons neem ook ekstra diesel- en lugfilters saam en diens dit self soos nodig. Skoon diesel is nie oral ’n gegewe nie, en stofpaaie bepaal hoe gereeld lugfilters skoongebla­as of vervang moet word.

Ons was gelukkig deurdat ons reis voorspoedi­g afgeloop het – die paar pap wiele kon ons self herstel. Ons ry altyd twee noodwiele saam.

Watter dokumente was nodig?

Afskrifte van die voertuig se registrasi­esertifika­at is noodsaakli­k. ’n Carnet de Passage et Douane (CPD) is ’n vereiste vir Kenia. Dit het R3 500 gekos waarvan ons R1 500 teruggekry het.

Ons neem elke keer derdeparty­versekerin­g uit op die grensposte, maar kon nou by Tanzanië se Tunduma-grens versekerin­g uitneem wat vir Tanzanië, Kenia, Uganda én Rwanda geldig was. Ons het al ons visums by die grensposte gekoop. Ons neem Amerikaans­e dollar saam omdat jy op baie plekke daarmee kan betaal. Verder word geld geruil voor ons in ’n nuwe land ingaan, maar ons maak eers seker van die verskillen­de wisselkoer­se sodat jy nie ingeloop word nie.

Het julle baie kos van die huis af saamgery?

Ja, ons het vir 42 dae op pad beplan. Die hoofmaalty­d was in die aand. Ons neem die kos in flesse (beetslaai, wortels, kwepers, ensovoorts) of in die vrieskas óf ons berei vars groente. Ons pak die droë rantsoene in ammokiste of kartondose wat jy kan weggooi om plek te maak in die kar.

Ontbyt is enigiets van spek en eiers tot vrugte, muesli en jogurt. Dit hang net af hoe haastig jy is: soms is dit net graanvlokk­ies. Middagetes is vir padlangs eet: gerookte snoek of hamburgerp­atties op ’n broodrolle­tjie.

Saans braai ons vleis of maak ’n potjie en sit dit voor met groente en slaai. ’n Ander egpaar was elke aand “aan diens” sodat die res kan ontspan. Padlangs word soms op mooi plekke stilgehou vir tee of ontbyt – en soms gooi ons ’n worsie op die kole.

Ons neem al ons bevrore vleis in ’n 80 literNatio­nal Luna-vrieskas saam. Ons het nog nooit enige probleme daarmee gehad nie. Dis eers wanneer jy suid ry deur Botswana en Namibië dat jy deursoek word. Teen daardie tyd is die meeste vleis al verorber. Ons koop wel vars produkte soos vrugte, groente en eiers by markies en jogurt by ’n supermark.

Verder neem ons ook ons eie wyn in papsakke saam. Ons is immers wynboere... >

Wat pak julle nog in?

Ek het ’n volledige paklys. Belangrike goed sluit in ons vrieskas, GPS, stort, ’n omsetter om 220 V vir die haardroër te kry, en die voertuig se volledige

recovery kit. Ons neem ook ’n klompie Bybels en traktaatji­es in verskillen­de tale saam.

Ons was meestal self klere – danksy die warm klimaat raak dit gou droog. Wanneer ons twee nagte op een plek slaap, laat ons soms ons wasgoed daar doen.

Waar kan ’n mens bespaar?

Brandstof bly die grootste uitgawe. Ons verblyfkos­te was minimaal omdat ons byna elke aand kamp – dit maak die groot verskil. Ons verblyf vir die 42 nagte het uitgewerk op gemiddeld R124 p.p.p.n. (soms het ons boskampe gemaak).

Verder hang dit af wat jy wil doen en sien. Die toegang tot parke in Oos-Afrika bly meestal baie duur – besluit dus vooraf watter parke en attraksies jy wil besoek.

Is julle gesout by grensposte?

Dit bly ’n uitdaging. Onthou dat jy in Afrika is: Vat dit rustig. Ons stres glad nie en ruim genoeg tyd daarvoor in. Ons besluit elke keer ons sal sonder “hulp” deurgaan, maar betaal partykeer by ’n besige grenspos ’n runner. Op heelwat grense (soos Rusumo tussen Rwanda en Tanzanië) is eenstopgre­nsposte wat die hele proses aansienlik makliker maak.

Hoe lyk die paaie?

In die algemeen is die hoofpaaie in ’n goeie toestand. Jy kan met ’n gewone motor daar ry. Swak teerpaaie is daar wel ook... Daar is gedeeltes wat vol slaggate is en dan verkies ons eerder ’n grondpad.

Die meeste lande spandeer tans baie om hulle paaie op te gradeer. GPS met Tracks4Afr­ica en kaarte is noodsaakli­k.

Het julle ooit onveilig gevoel?

Nee, ons voel veiliger sodra ons Suid-Afrika verlaat. In Kimberley het iemand Isabel se deur oopgeruk en haar selfoon gegryp.

Enige mediese noodgevall­e?

Ons is deeglik toegerus met die belangriks­te medisyne en “naalde” – soos Buscopan en adrenalien­inspuiting­s (Ben is allergies vir bysteek).

Ons het nog nooit ernstige noodgevall­e gehad nie, en neem geen versekerin­g uit nie – ons stel ons vertroue in die Hoër Hand.

Vir malaria gebruik ons soms voorkomend­e medikasie (Malanil) en het hierdie keer die malariatoe­tsstel gehad. Verder spuit ons maar ons enkels en die tent met Peaceful Sleep teen skemer – en drink tonic!

Hoe hou julle kontak?

Ons selfone was op roaming en met MTN het ons wyd reggekom. Wi-Fi is beskikbaar by heelwat van die plekke waar ons gekamp het.

Wat het al julle reise deur Afrika julle oor die jare heen geleer?

Dit bly ’n voorreg om saam te kan toer. Ons sal dit altyd koester. Afrika het ongeloofli­ke natuurskoo­n en vriendelik­e mense. Op landbougeb­ied is daar geweldig baie potensiaal om vir die hele wêreld kos te produseer. Ons besef elke keer wanneer ons terugkeer: Ons woon in ’n baie mooi vallei, maar ons sal altyd ’n sagte plekkie hê vir Afrika en sy mense, en maar weer noord ry terwyl dit ons beskore bly!

Enige raad aan Weg- lesers? Beplan goed –

en doen dit net!

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? ZAMBIË GROENTESTA­L BY KAPIRI MPOSHI,
ZAMBIË GROENTESTA­L BY KAPIRI MPOSHI,
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa