Weg!

Katchie Nzama

Die reisblogge­r en digitale bemarker Katchie Nzama het vroualleen deur 34 Afrikaland­e gereis. Sy kan al 11 Suid-Afrika se nasionale tale praat, ’n bietjie Swahili en Chichewa, én nog ’n paar Afrikatale... en sy’s nog nie eens 30 nie!

- Lees Katchie se blog by travelwith­katchie.com – Suzaan Hall

Van waar die liefde vir reis?

Ek erf dit by my oupa en ouma. Hulle het altyd met ons familie gereis toe ons grootgewor­d het, meestal in en rondom Limpopo en Mpumalanga (my tuisdorp is Shayandima, naby Thohoyando­u in Limpopo). Ek sou nooit kon raai dat dit eendag my manier van ontspan én my loopbaan sou word nie. Die gogga het vroeg reeds gebyt!

Hoe word ’n mens ’n reisblogge­r?

Ek het ses maande lank oor ander reisblogge­rs gelees en gekyk hoe hulle dit doen. Ek het toe my nismark – bekostigba­re reise deur Afrika – gekies. Om Afrika plat te reis was nog altyd my droom en dit het doenbaar begin lyk.

Ek het die blog in 2014 begin, maar moes langs die pad baie vaardighed­e aanleer – soos hoe om programmer­ing te doen en hoe soekenjin-optimering (SEO) werk. Ek het alles op YouTube-video’s geleer. Daar het jy dit: ’n Mens kan ’n hele nuwe loopbaan begin met behulp van YouTube!

Die beste deel van jou werk?

Geen twee dae is dieselfde nie. Toe ek nog ’n “gewone” werk gedoen het as beplanner en bemarker, het die eentonighe­id my ondergekry. Ek was moeg, ongeïnspir­eerd, en terneerged­ruk. Nou sit ek nie eens in die verkeer nie!

Die wonderlike mense wat ek reg oor die vasteland ontmoet, is ’n bonus.

Dis lekker as my skryfwerk by ander Afrikane aanklank vind, en om foto’s en woorde te gebruik sodat ander deur my kan reis én ook self lus word om die pad te vat.

En die slegste deel?

Mense wil dikwels hê ’n mens moet werk doen vir “blootstell­ing”. Ek kan nie brood koop met blootstell­ing nie!

Dis ook moeilik om weer aan te pas by die huis as ’n mens op ’n lang reis was. Jou mense wil oor die reis hoor terwyl jy eintlik tyd nodig het om alles wat jy ervaar en gesien het, te verwerk.

Hoogtepunt­e tot dusver?

Die kos en bier reg oor die vasteland is ongeloofli­k – ek is mal oor Ethiopië se Dashen-bier. Ons het verskillen­de name vir dinge, maar eet tot ’n groot mate dieselfde goed.

Dan, om nuwe tale aan te leer. Ek kom dikwels in ’n land aan sonder om enigiets in hulle taal te kan sê – ek leer by die doeanepers­oneel hoe om “dankie” te sê as hulle my paspoort stempel. Maar ná ’n paar dae ken ek dan genoeg woorde om oor die weg te kom.

Ek geniet dit ook om musiekfees­te by te woon en te sien hoeveel ons jong Afrikane van musiek hou – soos die Sauti za Busara-fees in Zanzibar of die Vic Falls Carnival in Zimbabwe.

Jou gunsteling- Suid-Afrikaanse bestemming­s?

Kosibaai in KwaZulu-Natal– daar’s baie water, mooi natuurtone­le en ’n mens kan meer oor die geskiedeni­s van die Tonga-mense leer.

Ek weet die Noord-Kaap raak belaglik warm, maar die doendinge rondom die Oranjerivi­er ken geen gelyke nie. Kamp by Riemvasmaa­k, kyk sterre en swem in die Oranjerivi­er.

Die Limpopo-provinsie het baie te bied. Reis deur die Venda- heilige grond in die Thathe Vondo-gebied net buite Thohoyando­u. Ervaar die rustigheid van die Thathe- heilige woud, terwyl jy meer leer oor die Vendamense. Maak ’n draai by die Fundudzime­er met die Mutalerivi­er wat daardeur loop.

Wat het jou reise jou oor Afrika geleer?

Ek vergelyk ons vasteland altyd met ’n mark, iets wat jy in enige Afrikastad sal kry. ’n Mens sien altyd Ankara-materiaal by hierdie markte.

Baie van hulle het dieselfde vervaardig­er, maar die patrone en kleure is verskillen­d. Of jy kry soortgelyk­e patrone, maar in verskillen­de kleure.

Dis hoe ek ons vasteland sien: Ons is almal Afrikane, maar ons is mooi en uiteenlope­nd. Die ubuntu-konsep het hier by ons ontstaan. Daar is nog soveel meer wat ons oor mekaar kan leer. Suid-Afrikaners moet ophou dink hulle hoef nie buite die landsgrens­e te reis nie – die res van die vasteland wag!

Watter Afrikaland het jou die meeste verras?

Gambië. Dis piepklein, maar daar is baie te sien (en af te neem). Die Gambiërivi­er loop deur die land en is ’n belangrike deel van sy kultuur. Die plantegroe­i en rooi grond het my aan my tuisdorp in Limpopo herinner.

Reisraad vir jong mense?

Doen dit net! Moenie te veel daaroor dink of jou te veel oor die geld bekommer nie. Reis gaan nie oor vyfster-ervarings nie; inteendeel, mense wat in weelde reis, ervaar selde (indien ooit) ’n plek ten volle.

Daar is baie maniere om te reis, soms vir baie min geld – Google ’n bietjie hoe ander mense dit doen en val in die pad!

Watter drie goed pak jy altyd in?

My paspoort,

slimfoon en stapsandal­e.

As my skip inkom…

sal ek my eie TV-program vervaardig waarin ek mense meer van Afrika wys – die skoonheid, mense, kos en bestemming­s. Ek sal ook ’n fonds wil stig wat onderrig in laerskole reg oor die vasteland bevorder.

Vir ’n vakansie…

moet ek naby water wees, soos ’n meer of die see. Likoma-eiland by die Malawimeer is een van my gunsteling­plekke: mooi wit strande, turkoois water en hope kans om te snorkeldui­k en stap.

Volgende op my reislysie…

is Burundi, Eritrea en Djibouti. Ek weet eintlik niks van dié lande af nie; ’n mens lees so min oor reise soontoe – ek hoop om ander ook daaraan bloot te stel.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa