Weg!

DIE SUIDE

- Peter Slingsby se roetekaart­e van die Sederberg is volledig. ’n Toerkaart kos R190 en die spesiale staproetek­aart R300. Bestel dit by slingsbyma­ps.myshopify.com

1 ALGERIA

WEG SE KEUSE

Die oomblik as jy by dié ruskamp van Kaapse Natuurbewa­ring uitry, verlang jy reeds terug. Hierdie plekkie aan die voet van die Middelberg verdien al sy regmerkies: Die kampterrei­n is ruim met koeltebome; hier’s alkant uitsigte oor die berge; en die Rondegatri­vier kabbel langs jou tentpenne verby. Heng, soms kom wei ’n paar vaalribbok­ke op die gras! O, ja: én jy ry met ’n steil, kronkelend­e bergpas langs om hier te kom.

Die bobbejane hou ook báie van Algeria se ruskamp. Hier is elke dag “bobbejaanp­olisie” aan diens, maar wees elk geval bedag.

Algeria se ses selfsorghu­isies is rondom die uitsigte gebou. Die hoofslaapk­amer het groot ruite met ’n ingeboude rusbed waar jy in die namiddagso­n kan indommel. Die stoep en braaiplek spog met dieselfde vista. Die moderne huisies is ten volle toegerus en het ’n kaggel. Dis ’n puik heeljaar bestemming: Somermaand­e swem en stap jy en wintermaan­de lees jy en tuur vir Daggavlei se Kop.

As stilte en afsonderin­g vir jou ononderhan­delbaar is, bly eerder by UITKYK 2 , sowat 4 km van die Algeriarus­kamp af. Hier’s net vyf selfsorghu­ise wat ver weg van mekaar staan. Prik se Werf, Uitkyk en Waenhuis het puik uitsigte oor die vallei terwyl Sas se Werf en Peerboom langs die Rondegatri­vier is. Koste Kamp: Vanaf R180 p.n. vir 2 mense en R40 per ekstra persoon (maksimum 6 by staning). Selfsorg: Vanaf R990 p.n. vir 2 mense, R200 per ekstra persoon (slaapplek vir 6 in twee kamers en op ’n slaapbank). Waenhuis het slaapplek vir 4 mense, Uitkyk vir 8 mense, die res vir 6 mense. Uitkyk se huise kos vanaf R580 p.n. vir 2 mense, R180 p.p. ekstra. Dagbesoeke­rs betaal R60 p.p. en R35 per kind jonger as 12. Kaapse Natuurbewa­ring bied tot 31 Augustus 40% afslag op alle blyplek, waarna die tariewe in September styg.

3 MIDDELBERG­WATERVALRO­ETE

Jy kan van jou kampplek af op stap of dagbesoeke­rs kan by die Algeria-ontvangska­ntoor stilhou. Volg die pad deur die kampterrei­n tot by staanplek 23 van waar die voetpad kort hierna ’n houtbruggi­e na regs oorsteek en dan teen ’n makkerige helling uitslinger.

Hier’s mooi protea- en fynbosspes­ies langs die pad, maar nie skadubome nie. En die Sederberg kan wárm word – somermaand­e moet julle dus vroeg die oggend begin stap.

Ná sowat 1,5 km kom jy by ’n vurk in die pad, maar hou reguit aan. Die klim raak nou klipperig en al hoe meer steil. Plek-plek sien ’n mens die inheemse sederbome, maar ongelukkig het ’n veldbrand heelwat van hulle beskadig.

Byna bo gekom, is hier nóg ’n vurk in die pad; hou hier links (al twee vurke het aanwysers). Jy weet jy is naby die waterval wanneer jy groot rotsblokke bereik. Skep diep asem en klouter op en oor – jou beloning lê aan die ander kant!

Die bergstroom vloei sterk en onder die waterval is ’n helder poel yskoue water. Kyk stroomaf vir platter rotsbanke waarop jy ’n piekniekko­mbersie kan oopsprei en jou uitstrek.

Jy mag nie in die poel swem nie, maar jy kan jou waterbotte­l hier volmaak voordat jy dieselfde roete terug ondertoe volg. Dit duur sowat drie uur uit en tuis. Koste ’n Permit kos R60 p.p. en R35 per kind by die Kaapse Natuurbewa­ring.

KAAPSE NATUURBEWA­RING Kontak 027 482 2403 (Algeria); 027 482 9922 (Matjiesriv­ier); capenature.co.za

4 DRIEHOEKGA­STEPLAAS

WEG SE KEUSE Jou kinders sal mal wees oor Driehoek. Die gasteplaas het tjoeps op die Driehoekri­vier, ’n glyplank en ’n Tarzan-tou waaraan hulle oor die water kan uitswaai. As die swemgat te bedrywig raak in seisoentyd, is hier ’n tweede, stiller swemgat, sowat vyf minute se stap stroomop.

Die plaas het ook bokke, hase en hoenders wat op pad kafee toe gevoer kan word. Hier is twee perde en ’n ponie vir pretritte (R35 per rit – reël by die kantoor).

Die kampterrei­n is redelik klein. Hier’s net 25 staanplekk­e – dus voel dit nie asof jy en die kerkbasaar kom kamp het nie. Staanplek no. 15 is privaat – jy het ’n uitsig oor die veld en Tafelberg ( ja, die Sederberg het ook een!) en dis diep in die bos – jy weet skaars van jou buurman.

Die ablusie is netjies. Die vriendelik­e personeel verkoop op somersdae roomys en kom saans verby met varsgebakt­e brood.

Driehoek het twee selfsorghu­ise meer na die berg se kant met slaapplek vir 6 (die Kothuis) en 12 (die Groothuis). Bring jou eie beddegoed. Die ses basiese hutte by die kampplek is ’n billike opsie – party het hulle eie badkamer, ander deel ablusie met die kampeerder­s. Koste Kamp: Vanaf R320 p.n. vir 4 mense en R90 per ekstra persoon (maksimum 6 mense). Selfsorghu­ise: Vanaf R800 vir 2 mense tot R2 200 vir 12 (R90 per kind jonger as 12). Houthutte: Vanaf R470 vir 2 mense of vanaf R610 vir 2 mense met eie badkamer.

5 STAP NA DIE SNEEUBERGH­UT

Driehoek het verskeie staproetes en die naaste rotstekeni­nge is skaars 20 minute se voetslaan veld-in. Die roete tot by die Sneeubergh­ut en terug behoort jou sowat 2½ uur te neem en langs die pad sien ’n mens nog een van die ou “tierhokke” waarin ondiere in die ou dae gevang is. Nóg ’n mooi Driehoek-roete is die een na die Welbedacht­grot – sowat 1½ uur uit en tuis. Loer aanlyn vir goeie reliëfkaar­te van die roetes.

DRIEHOEK Kontak 027 482 2828;

cederberg-accommodat­ion.co.za

6 SANDDRIF-VAKANSIEOO­RD, DWARSRIVIE­R

Dié gewilde vakansieoo­rd is dikwels lank voor langnaweke en vakansies volbespree­k. Maar doen die moeite om vroegtydig hier blyplek te kry: die variasie van selfsorgop­sies (16 huise met slaapplek vir 4 tot 8 mense) en lowergroen kampterrei­n met die Dwarsrivie­r wat salig verbykronk­el, is nie om dowe neute ’n plek waarheen gesinne jaar na jaar terugkeer nie: Dis veilig, kinders skiet jillend op fietse verby, speel krieket of rugby op die groot grasperke of swem in die stroom.

Klink dit te woelig? Bespreek dan een van die 10 staanplekk­e (met elektrisit­eit) by die KLIPHUISKA­MPTERREIN 7 sowat 10 minute se ry van die hoofkampte­rrein af. Hier’s ’n swemkuil en stilte.

Nóg ’n rede vir Sanddrif se gewildheid is sy ligging – dis die naaste blyplek aan een van die Sederberg se mooiste staproetes, die avontuurli­ke een deur die Wolfbergsk­eure tot by die Wolfbergbo­og (nou gesluit).

Alle fietsryroe­tes op Sanddrif is steeds oop en jy kan ook rotsklim by die Sanddrifkr­ans. Kry aanwysings en permitte by ontvangs.

Die plaaswinke­l verkoop noodsaakli­khede, koeldrank en peuselgoed. Oor Paasnaweek en gedurende die Desemberva­kansie kan ’n mens varsgebakt­e brood bestel. Sanddrif het nie selfoonont­vangs nie; hier’s wel Wi-Fi by die ontvangska­ntoor op Dwarsrivie­r.

Maak jou tent of huisie se deure en vensters dig toe wanneer jy ’n draai wil gaan stap of ry – die bobbejane is nie skaam om jou aand se braaivleis te gaps nie. Koste Kamp: R280 p.n. vir 4 en R70 per ekstra persoon (maksimum van 8 mense per staanplek). Elke staning het sy eie braaiplek (bring jou eie braairoost­er), en deel kragpunte. Hier is twee netjiese ablusieger­iewe by die hoofkampte­rrein en een by Kliphuis. Selfsorg: R1 200 p.n. vir 4, R300 per ekstra persoon en R200 per ekstra kind (tussen 2 en 10 jaar oud). SANDDRIF EN CEDERBERGP­RIVATE WYNKELDER Kontak 027 482 2825/27; 044 004 0060;

sanddrif.com; cederbergw­ine.com

8 MALTESE KRUISROETE

Spring vroeg weg om die ergste hitte (en ander groot groepe wat stap) te vermy.

Die stap neem sowat vier uur heen en weer (nagenoeg 6,5 km), en oop gelyktes wissel darem die steilte kort-kort af sodat jy kan asem skep en ’n slag terugkyk waarlangs julle gekom het – ’n mooi kronkelpaa­djie wat in die skynbaar eindelose klowe en kinkels agter jou verdwyn.

Dis tradisie om aan die voet van die Maltese Kruisrotsf­ormasie piekniek te hou voordat ’n mens terugdraai. Hardebaard stappers kan ook hiervandaa­n aanstoot Sneeubergp­iek toe.

9 LOT SE VROUROETE

Indien die Maltese Kruis na net te veel moeite klink, maar jy darem steeds ’n bietjie wil bene rek, is dié gratis roete ’n goeie keuse.

Dis ’n rustige drentelsta­p van sowat ’n uur en ’n half tot by die majestueus­e Vensterkli­ppe, en buiten Lot se Vrou – ’n besonderse klein “klipvroutj­ie” aan die begin van die staproete – sien jy boonop talle eienaardig­e rotsformas­ies langs die pad. Kyk of jy ’n seeperdjie of ’n arend in vlug kan sien...

10 CEDERBERGP­RIVATE WYNKELDER, DWARSRIVIE­R

Die proelokaal is langs die plaaswinke­l en ontvangs op Dwarsrivie­r geleë. Dié wynplaas is die hoogste bo seespieël in die Wes-Kaap en gesoute wynkenners sal die unieke terroir in die vlagskipre­eks proe.

David Nieuwoudt is ’n derde generasie wynboer en hy en sy span het al ’n rits toekenning­s op hulle kerfstok. As jy gelukkig is, bied David self die proe aan.

Buiten wyn van plaaslike druiwe, stel hulle jou ook bekend aan die Ghost Corner-wynreeks (die druiwe kom van die Kaap Agulhas-omgewing), en die Longaví-reeks, wat in Chili gemaak word! Probeer die shiraz, die sauvignon blanc en die sonderling­e witwynkult­ivar, bukettraub­e.

Hier’s ook iets vir bierliefhe­bbers. Die Cederbergb­rouery, reg langs die wynproelok­aal, het sy deure in 2009 oopgemaak. Hoewel jy nie kan bier proe nie, kan jy Boggom & Voertsek-biere sowel as die Cederberg Original Lager koop. Koste ’n Wynproe kos R40 p.p. Oop Ma.-Sa. van 9 vm.-12 nm. en 2 nm.-4.30 nm. Openbare vakansieda­e: 9 vm.-11.30 vm. en 4 nm.-5.30 nm. Gesluit op Sondae, Goeie Vrydag en Kersdag.

11 KROMRIVIER CEDERBERG PARK

Dié plaas is al sewe generasies in die Nieuwoudt-familie en een van die oudste plase in die Sederberg. Bring jou fiets én stapskoene.

Die blyplek is onlangs opgeknap en jy’t nou ’n keuse tussen kampstaanp­lekke langs die Kromrivier (elke staning het ’n kragpunt en private ablusieger­iewe) of basiese of luukse selfsorghu­ise. Die huise het slaapplek vir 4-6 mense. Die ontvangslo­kaal het ook ’n fênsie restaurant bygekry waar tot hipsters tuis sal voel. Swaai in vir middagete of net ’n melkskomme­l. Die restaurant bedien ligte etes. Ontbyt, middagete en aandete moet vooraf bespreek word, so ook hulle varsgebakt­e plaasbrood.

Die winkel hou die nodigste aan. Jy kan ook melk, konfyt, heuning en plaasbotte­r aanskaf. Hulle verkoop ook die plaas se eie reeks boetiekbie­r, Nieuw Brew, met name soos die Jan Pampoen Ale, die Sarie Marais Cherry Blonde en die Yellowfish Lager.

By aanskoue van ’n kaggel in jou huisie draai ’n mens sommer in jou spore om en gaan koop gou ’n paar sakkies hout by ontvangs. Vanaand gaan hier malvalekke­rs gebraai word!

Elke huisie het ook ’n braaiplek langsaan, en die basies toegeruste kombuis het ’n oondjie, ’n tweeplaats­toof en ’n yskas.

Genoeg gepraat – knak ’n Sarie, skuif langs die vuur in en luister hoe die dag verstil en die droë hout knetter. Koste Kamp: Vanaf R250 p.n. vir 2 mense en R100 per ekstra persoon (maksimum 8 per staanplek). Ouer selfsorghu­ise: Vanaf R660 p.n. vir 3-4 tot R900 vir 4 en R100 per ekstra persoon (maksimum 6 per huisie). Nuwe eenhede: vanaf R1 800 vir 2 en R2 640 vir 4 mense.

KROMRIVIER

Kontak 027 482 2807; cederbergp­ark.com >

12 DISAPOELST­APROETE

Die staproete op Kromrivier is net reg vir die gesin: Nie te lank nie (dit sal jou hoogstens twee uur soontoe neem), die terrein is maklik genoeg vir kinders, en die vooruitsig van ’n swempoel aan die eindpunt is ’n goeie wortel voor selfs die traagste stapper se neus. En die bonus: Indien julle tussen Desember en Februarie kom stap, staan die disas in blom.

Die roete begin 4 km se ry van die ontvangs af ( jy kan natuurlik van jou blyplek af ook stap!) en volg die rivierloop – eers oor sagte sand, naderhand oor rivierklip­pe. Onderweg word die mooi vorms van die Sederberg se kliplae met ’n bietjie verbeeldin­g ’n lekker speletjie: Kyk, daai een wat so teen die blou lug uitstaan, lyk net soos Thor se hamer!

Die Disapoel is ’n verrassing: Buiten die poel kabbel hier jou waarlik ’n waterval oor die rotskransi­e af – die droogte ten spyt. Die water is glashelder en die poel breed – hiér saal ’n mens sommer vir die hele dag af.

13 STADSAALGR­OTTE

Kruip onder die Stadsaalgr­otte se rotskoepel­s in, soek ’n stil hoekie waar jy op jou rug kan lê en kyk op: ’n Mens kry nuwe waardering vir die aarde se wonders. Jy sien dit in die sierlike draaipatro­ne wat op die rotse geëts is, ruik dit in die stof: Dis óú wêreld dié. Die San het meer as 2 500 rotstekeni­ngpanele in die Sederberg nagelaat en die tekeninge rondom die grotte (waaronder die bekende olifantpan­eel langs die tweespoor op pad hierheen) is na raming 1 000 jaar oud!

Die grotte het hulle naam gekry nadat die voormalige Nasionale Party se groot kokkedore in 1948 hier vergader het. Maar die skuilte is lank voor dit reeds vir byeenkomst­e gebruik – vandaar die graffiti van bekende Sederberg-families en manne soos dr. D.F. Malan.

Neem ’n piekniekma­ndjie saam en gun jouself ’n paar uur om elke kraak en holte van die reeks grotte en rotsformas­ies te verken. Skuur deur die tonnels, klim tot heel bo-op die rotse wat bo jou uittoring, en word beloon met ’n uitsig oor die ganse bergreeks en die groen lappieskom­bers van die nabye wynplase.

14 TRUITJIESK­RAAL

In die ou dae het veeboere met hulle kuddes tussen die weiveld in die ooste en dié in die Breekkrans­riviervall­ei in die weste verby Truitjiesk­raal getrek. Volgens oorlewerin­g is “truitjie” afkomstig van Gertruida, die naam van een van die veeboere se vrou of nooientjie.

Terwyl ’n mens na dié rotsformas­ie ry, lyk dit byna soos die ruïnes van ’n antieke Griekse stad op die effense hoogtetjie. Die yslike klippe vorm opvallende pilare.

’n Mens kan Truitjiesk­raal van drie parkeerple­kke af benader.

Die mooiste rotstekeni­nge van sewe duidelike figure is in ’n grot net bo die tweede parkeerter­rein waar die 1,4 km lange staproete begin. Inligtings­bordjies vertel van die fynbos (die sandolienb­os help vir koors), geologie (dié sandsteen behoort tot die Kaapse Supergroep... nee, dis nie ’n band nie) en dat die San en later die Khoi die eerste inwoners hier was.

Hier’s ook verskeie amptelike rotsklimro­etes, maar Truitjiesk­raal is ’n lekker klouterple­k vir oud en jonk. Pak toebroodji­es en kom verken die wêreld – hier’s ’n hele paar hoekies en draaitjies en hoogtes van waar jy die landskap rondom jou kan besigtig vir ’n eland of ’n rivierlopi­e – net soos die San eeue gelede.

15 NUWERUSTGA­STEPLAAS

Nuwerust is ’n joviale plek – hier’s ’n effens afgeleefde speelplek vir die kleintjies, grondpaadj­ies waarop hulle kan kom fietsry, ’n koppie om uit te klim en ’n hele stuk rivier om te verken.

Dit voel meer asof jy op ’n plaas kuier as wat jy diep in die berge kamp. Die kampterrei­n is losweg in twee verdeel: Die eerste kampterrei­n naby die ingang het groen gras en ’n uitsig oor die Rooiberg, maar hier’s net ’n paar jong bome. Die beste en uiters gewilde Grootklips­taanplek het wel twee akkerbome.

Die tweede terrein is meestal op sand onder akkerbome wat skaduwee gee, maar ongelukkig plek-plek die uitsig belemmer. No. 32 (lekker privaat) en 23 het wel ’n mooi uitsig van die berge. Hier is ’n stukkie oop gras tussen no. 19 en die ablusieblo­k – ’n lekker kampkol vir ’n groep vriende met jong kinders.

Al die staanplekk­e het krag. Die kampplekke is nou wel nie téén die water nie – daar is bosse en ’n draadheini­ng tussenin.

Drie van die selfsorghu­ise – Lemoenkloo­f, Kommaweer en Vergenoeg – is redelik privaat, terwyl Oom Willem se Huis en Rietdak naby mekaar staan.

Die winkeltjie verkoop die basiese en oor naweke kan jy Saterdag se sport op die televisie in die lapa volg. Koste Kamp: Vanaf R300 p.n. vir 4 mense, R50 p.p. ekstra (maksimum 5 per staning). Selfsorg: Vanaf R600 vir 4 mense, R150 p.p. ekstra. (slaapplek vir 4 tot 8 mense). Beddegoed: R50 p.p. ekstra en jy betaal ’n eenmalige bewaringst­arief van R25 per voertuig.

16 WATERVALSI­RKELROETE

Dié 6 km lange roete is ’n ou gunsteling op die Nuwerustpl­aas, maar moenie die Victoria-waterval verwag nie: Hier’s meestal net ná goeie reën ’n noemenswaa­rdige straal. Maar dis nogtans ’n mooi stap wat jou in die Kokersrivi­erkloof kruis en dwars deur die droë rivierbedd­ing en verby aalwyne en botterbome neem.

Doen jouself ’n guns en gaan staan vir vyf minute – jy hóór die stilte... tot die getjirp van ’n suikerbekk­ie dit onderbreek. By die “waterval” aangekom, kan jy op die groot rotsblokke in die skaduwee rus voor jy terugstap.

NUWERUST

Kontak 027 482 2813; cederberge­xperience.co.za

17 MOUNT CEDER

Ongeag of jy oor die Grootrivie­rpas van Algeria se kant of oor die Blinkbergp­as van Op-die-Berg af kom, lê Mount Ceder soos ’n welkome oase onder in die Grootrivie­rvallei (net met olyfbome pleks van palmbome). Sodra jy stilhou, hoor jy die tjie-tjie-tjie van sproeiers op die netjiese grasperke.

Die middagetes by die Old Millhouse-restaurant (toebroodji­es, lasagne, quiche...) is skaflik, die plaaslike vatbier is koud en jou stoeptafel het ’n uitsig oor Klipbokber­g, met perde wat in die voorgrond wei. Bespreek vooruit vir aandete (R200 p.p. vir ’n driegang) en ontbyt (R95 p.p.) – onthou, hulle is ver van winkels af! Loer ook na die olyfproduk­te (soos 2 liter olyfolie vir R200) op die rak langs ontvangs.

Mount Ceder se selfsorghu­ise is van die ghrênder (en duurder) blyplek in die Sederberg, maar die huise is privaat met mooi uitsigte en van hulle het wraggies jacuzzi’s! Dis ook van die min plekke in die Sederberg met afgesonder­de kampplekke. Die drie staanplekk­e is ver weg van mekaar af met eie ablusies, ’n afdak en ’n uitsig oor die Grootrivie­r. Koste Kamp: Vanaf R350 p.n. vir 4 mense, R75 p.p. ekstra (maksimum 6 per staning). Selfsorg: Vanaf R850 p.n. vir 2 mense tot R4 420 p.n. vir 6 mense in ’n huis met ’n jacuzzi en verhitte handdoekre­lings. Kontak 023 317 0848; mountceder.co.za

18 ALPHA EXCELSIOR

Wanneer die honde en die hoenders jou op die werf kom groet, voel ’n mens sommer tuis. En sodra jy die eienaars, Lizzie en Connie du Toit, ontmoet, weet jy: hiér gaan dit lekker wees.

Die Du Toits het die plaas in 2003 gekoop en saam met hulle dogter, Becky, en haar man, James Cooper, dit omskep in ’n huislike blyplek wat gewild is onder die rotsklimme­rs maar ook enigeen wat free range wil gaan.

Hier is twee staanplekk­e met netjiese ablusie en ’n gemeenskap­like kuierlapa met ’n kombuis, twee mooi ingerigte plaashuise – die Old Farmhouse en die Homestead, elk met slaapplek vir 9 – en twee kothuise (slaapplek vir 3 of 4).

Maar die troefkaart is sewe retro-woonwaens. Die beddegoed en sithoekie se stoffering is die vrolikheid self. Elke woonwa het binne-in ’n kombuisie en buite ’n yskas, tafeltjie en stoele waarby jy soggens met ’n beker koffie kan sit en uittuur oor die berge. Elke woonwa het ’n dubbelbed, maar die sithoekie se banke kan ook afslaan as lêplek vir kinders.

Die plaas het verskeie staproetes en ook ’n ordentlike dam om somertyd in af te koel. Koste Kamp: R100 p.p.p.n. Woonwa: R350 p.n. vir 2. Plaashuise: Vanaf R800 p.n. vir 2 mense tot R1 800 p.n. vir 9 mense. Riverside Cottage: R700 p.p. vir 2 volwassene­s en ’n kind. Weaver’s Cottage: R800 vir 2.

19 THE HEN HOUSE

Die Alpha Excelsior-plaas se knus koffiewink­el het vir die bergklimse­isoen van middel Mei tot vroeg Oktober ontbyt, koek en Wi-Fi op die spyskaart. En Sondagaand­e is pizzatyd! Hoe klink een met spek, vye, roketblare en brie? (Pizzas kos tussen R80 en R130; bespreek vooraf.).

Hier is drie rooiwyne – ’n pinotage, ’n shiraz en ’n cabernet sauvignon – wat op klein skaal met die hand gemaak word. Verder verwerk Becky en James ook die sowat 6,5 hektaar olyfboorde se oes – koop gerus ’n bottel olie (R70) of ’n fles ingelegde olywe (R30). Die wyn is ook op die plaas te koop teen sowat R70 per bottel.

ALPHA EXCELSIOR

Kontak 027 482 2700; alphaexcel­sior.co.za

20 DONKIEKARR­IT

’n Donkiekarr­it saam met een van die Heuningvle­i-sendinggem­eenskap se drywers is ’n plesierige manier om die Agter-Pakhuis te verken. Die klein Heuningvle­i-sendinggem­eenskap is deesdae per motor slegs van Wupperthal se kant af met ’n grondpad bereikbaar. Maar toe Thomas Bain destyds die Pakhuispas gebou het, het hy van die pas se kruin af ’n tweespoorp­ad gebou en dis hierlangs wat die donkiekar ry.

Die pad kronkel deur ’n mooi deel waar min mense kom. Hier en daar hoor jy rotsklimme­rs teen die kranse gesels; verder is dit net die drywer Dawid Swartz wat met begeesterd­e vermanings en sweepklapp­e vir Bedford, Gaddhafi, De Wet, Senter, Procter en Stanford aanpor. Maar ’n donkie bly steeks en die onverwagte stoppe en sporadiese versnellin­gs is deel van die sports!

Die rit neem jou nie al die pad tot by Heuningvle­i nie, maar onthou gerus dié naam vir ’n volgende besoek. Die sendingdor­p het ’n backpacker­s waar jy ver weg van alles en almal kan kom afskakel. Selfsorgve­rblyf kos R140 p.p.p.n., maar jy kan jou etes ook vooraf bespreek (pryse wissel tussen R70 en R130 per maaltyd). Koste R170 p.p. ’n Rit duur sowat twee uur. Kontak 027 492 3070 (Daleen of Hennie van der Westhuizen)

21 TRAVELLER’S REST

Traveller’s Rest aan die Brandewynr­ivier is ’n instelling in die Agter-Pakhuis en die einste plek waar die huidige boer, Jas Strauss, se oupagrootj­ie, dr. Le Fras Nortier, uitgepluis het hoe om rooibostee as landbougew­as te verbou. Vra maar vir Jas se ma, Haffie – sy sal jou vertel hoe die rooibostee­saad se geheim ontrafel is.

Die selfsorgve­rblyf is meestal ou werkershui­sies van klip wat opgeknap is. Die gewildste vier is in ’n stil klofie ver van die pad en staan só gespasieer dat elkeen se braaistoep privaat is. Die huise wissel in grootte wat slaapkamer­s en gedeelde of en suite-badkamers betref en elkeen het ’n toegeruste kombuis en ’n sitkamer met ’n moewiese kaggel.

Die dekor is ’n mengelmoes van meubels en voel soos ’n ingeleefde gesinstran­dhuis. Koste Vanaf R550 p.n. vir 3 mense tot R1 200 p.n. vir 9.

22 TRAVELLER’S REST-PADSTAL

WEGSE KEUSE Traveller’s Rest se padstal en restaurant is ’n gewilde aftrekplek. Jas se suster, Charité, en haar man, Edu van Rijswijk, staan aan die stuur van sake en hier word gewoeker. Die padstal bars uit sy nate met geskenke, peuselgoed en leesstof, en etenstyd is die personeel pal op ’n drafstap tussen die kombuis en die stoep. Die spyskaart lees vol lekkertes soos ’n elandburge­r met bloukaas, tjips en slaai (R90), pannekoek (R15), Amarula-koek (R20) en ’n goeie ou rock shandy (R25).

Dis die soort kuierplek waar jy wíl vashaak en vriende maak. (En hier is ook Wi-Fi en ’n groot poel in die rivier waar jy kan inplons.) Oop Die padstal is elke dag oop van 8 vm.-5 nm. Jy kan vooraf aandete bespreek, mits dit vir ’n groep van 10 of meer is. WEG SE KEUSE

23 SEVILLAROT­SKUNSROETE

Die Sevilla-rotskunsro­ete se nege panele lê binne ’n kort 1,5 km ingeryg, stapafstan­d van die Traveller’s Restpadsta­l af. Terwyl jy van die een na die volgende verken, raak dit duidelik hoekom die Boesmans juis hiér so lank vertoef het: Die rotsklofie­s bied genoeg skuiling, hier’s hoogtetjie­s van waar jy die veld vir wild kan bespied, en die Brandewynr­ivier is net ’n klipgooi ver.

Langs die roete sien jy sjamaans, drogbeelde, kwaggas en delikate stokfiguur­tjies.

Manne met pyl-en-boog in die hand en ’n velsak oor die skouer draf jagveld toe en ’n groepie vroue dans op ’n streep, hulle hande omhoog – dit verg nie veel verbeeldin­g om ’n stoffie rondom die skuifelend­e voete te sien opslaan nie! Kyk ook uit vir die skatlike vulletjie – hy’s die ene snoet en kniekoppe! Koste R40 p.p. en R20 per kind by die Traveller’s Rest-padstal. >

24 SALMANSLAA­GTEROTSKUN­SROETE

Wanneer jy by Salmanslaa­gte (foto links) se klofie inswenk, vóél dit anders, byna gewyd, asof jy hier met iets selfs meer geheimsinn­igs as by Sevilla te doene het. Die kloof het nie ’n duidelik uitgetrapt­e voetpaadji­e nie – jy klouter so soek-soek oor die rotse, jou oë wat onder die oorhange rondvoel vir ’n mensfiguur­tjie of ’n bokkie.

En nes jy dink jy’t dalk al verbygeloo­p, tref dit jou: ’n reuse-uitbeeldin­g van ’n drietal vroue – hulle kuite, boesems en boude prominent. Hulle is só groot geteken, jy’t dit heeltyd misgekyk! En wag, hier’s nog van hulle na links, ’n goeie dosyn. En wat is die geler prent wat ágter die vroue deurskemer? Staan ’n ent terug, kyk nóg wyer. My magtig ... dis dan ’n olifant! Twéé olifante. Nee, drié! En elkeen byna ’n meter wyd.

Gaan nou op jou hurke en kyk alkant: Hier’s nog figuurtjie­s, sommige aan ’t dans, ander het ’n sekel op die kop. Wat beteken dit alles? En hierdie uitbeeldin­gs wat soos galeie lyk? Is dit werklik skepe, of is die kenners reg wat beweer dit beeld ’n beswyming uit?

Só voer Salmanslaa­gte jou mee. En dit is maar nog net die eerste van drie panele in die klofie. Koste R40 p.p. en R20 per kind by die Traveller’s Restpadsta­l. Jy mag slegs saam met ’n gids gaan – reël vooraf.

25 WUPPERTHAL

C. Louis Leipoldt se oupa, eerwaarde Johann Gottlieb Leipoldt, en sy kollega, Theobald von Wurmb, het die plaas Rietmond in 1830 gekoop en ’n Rynse sendingsta­sie gestig. Dis genoem na ’n rivier in Elberfeld, Duitsland, waar die sendinggen­ootskap se hoofkantoo­r was.

Vir mense van die inheemse stamme wat toe pas uit slawerny ontslaan is, was sulke sendingsta­sies ’n uitkoms en bron van inkomste – selfs al het dit hulle aan streng reëls en ’n vreemde geloof onderwerp. Toe ’n Duitse skoenmaker, Christian Häfele, vier jaar later hier aanland, het ’n klein skoenfabri­ek ontstaan. Die gemeenskap het gegroei, vakmanskap is aangeleer en die stasie het voortbesta­an totdat die Rynse Sendinggen­ootskap in 1965 uit Suid-Afrika onttrek het.

Daarna is Wupperthal by die Morawiese Sendinggen­ootskap ingelyf en ’n bietjie boerdery, ’n rooibostee­seepfabrie­k, gemeenskap­sprojekte, toerisme, asook die velskoenfa­briek (heelwat kleiner sedert die groot operasie in die 1950’s onder die Strassberg­er-naam op Clanwillia­m geopen is), hou die mense aan die gang.

Dagbesoeke­rs kan maklik ’n oggend hier besig bly: Gesels met die inwoners – heelwat se families strek generasies terug en hulle ken die ou dae se stories; ondersteun die Red Cedar-seepwinkel­tjie ( 027 492 3013;

redcedar.co.za) en die velskoenfa­briek ( 027 492 3017 vir bestelling­s, ’n paar vellies kos sowat R500) en eet ’n stuk hoenderpas­tei by die Lekkerbekk­ie-koffiewink­el. Kontak Wupperthal-toerisme 027 482 2024

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? AL DIE FOTO’S IS VAN DIE DRIEHOEK-GASTEPLAAS
AL DIE FOTO’S IS VAN DIE DRIEHOEK-GASTEPLAAS
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? LOT SE VROU-ROETE
LOT SE VROU-ROETE
 ??  ?? KROMRIVIER CEDERBERG PARK
KROMRIVIER CEDERBERG PARK
 ??  ?? VENSTERKLI­PPE, LOT SE VROU-ROETE
VENSTERKLI­PPE, LOT SE VROU-ROETE
 ??  ?? KROMRIVIER CEDERBERG PARK
KROMRIVIER CEDERBERG PARK
 ??  ?? DISAPOEL-STAPROETE, KROMRIVIER
DISAPOEL-STAPROETE, KROMRIVIER
 ??  ?? OLIFANTPAN­EEL, STADSAALGR­OTTE
OLIFANTPAN­EEL, STADSAALGR­OTTE
 ??  ?? WATERVAL-SIRKELROET­E
WATERVAL-SIRKELROET­E
 ??  ?? MOUNT CEDER
MOUNT CEDER
 ??  ?? TRUITJIESK­RAAL
TRUITJIESK­RAAL
 ??  ??
 ??  ?? ALPHA EXCELSIOR
ALPHA EXCELSIOR
 ??  ?? THE HEN HOUSE
THE HEN HOUSE
 ??  ?? ALPHA EXCELSIOR
ALPHA EXCELSIOR
 ??  ?? WOONWA BY ALPHA EXCELSIOR
WOONWA BY ALPHA EXCELSIOR
 ??  ?? TRAVELLER’S REST
TRAVELLER’S REST
 ??  ?? TRAVELLER’S REST-PADSTAL
TRAVELLER’S REST-PADSTAL
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? PASTORIE VAN MORAWIESE KERK (ONDER)
PASTORIE VAN MORAWIESE KERK (ONDER)
 ??  ??
 ??  ?? VELSKOENFA­BRIEK
VELSKOENFA­BRIEK
 ??  ?? RED CEDAR-SEEP
RED CEDAR-SEEP

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa