Vir die voëls
Ornitoloë sien katlagters as ’n taksonomiese vullisdrom en gooi enige spesie waaroor daar onsekerheid is, in dié familie. Maar met DNS-ontleding het ons nou begin om sekere raaiselagtige spesies na ander families te “herwin”.
Katlagters kom hoofsaaklik in Asië voor. Uit die 145 spesies kom net 21 in Afrika voor, en net 5 in Suider-Afrika. Hier in Suid-Afrika het ons twee spesies: die pylvlekkatlagter, met pylvormige wit vere op sy bors; en die witkatlagter (foto). Die twee word gewoonlik onderskei deur hulle habitatvoorkeure, maar waar hulle oorvleuel, veroorsaak dit chaos.
Katlagters is die voëlwêreld se weergawe van die TV-reeks Modern Family. Hulle bly in hegte uitgebreide familiegroepe van sowat 6-10 voëls. Daar word onderling geredekawel en gestry, maar daar’s ook liefde en samewerking. Elkeen doen sy deel, soms met ’n gemor, en soms met skreeusnaakse gevolge.
Ek het eenkeer ’n straatgeveg tussen twee spesies dopgehou in die bosveld naby Brits. Met ’n kakofoniese gekwetter het die twee groepe ’n rowwe kring gevorm. (Pritchetts aan die een kant, Dunphys aan die ander – vir dié wat Modern Family ken.) Elke kant het ’n verteenwoordiger aangewys en dié twee het mekaar in die middel die stryd aangesê. Die twee vegters het mekaar getakel, op die grond rondgerol en na mekaar gegryp met hulle pote. Uiteindelik het al twee gevoel hulle het nou hulle punt gemaak en die twee groepe is uiteen.
’n Bietjie later daardie oggend sien ek die witkatlagterfamilie se nes in die digte blaredak van ’n swarthaakboom. Die drie kuikens in die nes hoef skaars te bedel voor een of ander insek in hulle bekke geprop word. Almal in die groep help om die kuikens te voer – dit staan bekend as samewerkende teling, waar ander voëls die biologiese pa en ma help om die babas uit te broei, te voer en te beskerm.
Ek laat hulle toe in vrede en stap verder die bos in. Kort hierna kom ek op nog ’n groepie van drie witkatlagters af – twee volwassenes en ’n jonger voël wat kos op die grond soek.
Ek het doodstil gesit en hulle het my gou aanvaar. As bewys van hoe stil ek was: ’n Muishond het op ’n boomstomp geklim naby my sodat hy ’n paar sonstrale kon vang.
Die katlagters het ’n paar keer oor hom gevlieg voordat hulle hom raakgesien het – en die luidrugtige gekla wat hierop gevolg het, was byna meer uit skaamte.
Hulle was egter nie te veel gepla deur die muishond nie, en het kort weer begin kos soek.
Maar wat volgende gebeur het, was ongelooflik. As een van die volwassenes ’n wurm kry, sou hy tot in ’n bos spring en ’n paar spesiale roepgeluide maak. Die jonger voël het dadelik gereageer, reguit op my afgepyl en by my voete geland. Hy het die volgende paar minute daar rondgeskrop met sy oranje oog heeltyd op my.
Toe die twee volwassenes besluit het die menslike bedreiging is deur die jong voël “geneutraliseer,” het hulle teruggevlieg nes toe – sowat 120 m weg.
Sodra die kos afgelewer is, sou die ouers terugvlieg en verder soek. En sodra hulle terug was, het die jong voël weggehop om hom weer by sy familielede aan te sluit.
Wat op aarde was aan die gang? Ek het die indruk gekry die volwassenes het die jonger voël gestuur om my aandag af te trek sodat die ligging van hulle nes ’n geheim bly. Lees ek te veel hierin? Dalk. Maar dit het ses keer in minder as ’n uur gebeur.
Hoe ook al, as jy lus is vir ’n skeut drama waarop ’n TV-sepie trots sal wees, hoef jy nie verder as katlagters te soek nie!
Faansie Peacock