Jonathan Livingston Seeumeeu
deur Richard Bach (vertaal deur André P. Brink) John Malherbe Edms. Bpk., 1981
Dit is oggend en die vroeë son skitter die ene goud oor die rimpelinge van die rustige see.
’n Myl van die kus af is ’n vissersboot besig om die water te karring en die wagwoord vir die Ontbyttrop trek deur die lug, totdat daar ’n goeie duisend seeumeeue bymekaar is om te skerm en skermutsel oor stukkies kos. Daar lê weer ’n besige dag voor.
Maar eenkant en alleen, ver weg van kus en boot, is Jonathan Livingston Seemeeu besig om te oefen. Vyftig meter in die lug op laat sak hy sy gewebde pote, lig sy snawel, en span hom in om ’n pynlike elmboogdraai met sy vlerke uit te voer. Dié draai beteken dat hy stadig kan vlieg, en nou sweef hy ál stadiger tot die wind net ’n fluistering in sy gesig is en die see stilstaan onder hom. In verbete konsentrasie trek hy sy oë op skrefies en hou sy asem op en probeer nog één... duimpie... draai... inkry... Toe begin sy vere fladder, en hy wankel in sy vlug, en val.
Só begin Richard Bach (82) se wêreldbekende fabel Jonathan Livingston Seagull. Bach was eers ’n vlieënier en later redakteur van ’n vliegtydskrif voordat hy ’n skrywer geword het.
Die manuskrip is destyds deur tot twintig uitgewers afgekeur voordat dit in 1970 deur MacMillan aanvaar is.
Sedertdien het die boek miljoene eksemplare wêreldwyd verkoop, dit is in meer as 30 tale vertaal en ’n rolprentweergawe met ’n Grammy-bekroonde klankbaan het gevolg.
André P. Brink het hierdie inspirerende boek, wat gaan oor ’n ongewone seemeeu wat sy eie hart en reëls volg, in 1981 in Afrikaans vertaal. Ek het Brink se vertaling onlangs in ’n tweedehandsboekwinkel in Johannesburg vir slegs R30 aangeskaf. Hierdie Afrikaanse weergawe bevat ook Russel Munson se aangrypende swart-wit foto’s van seemeeue in vlug wat deel was van die oorspronklike boek.
Jonathan is leergierig en wil al die moontlikhede van vlieg toets en verken. Die ander seemeeue vind sy gedrag vreemd en hy word gou-gou ongewild en afgesonder van die res.
Kyk net hoe geniet hy dit om waaghalsig te vlieg:
Hy vlieg nou loodreg af teen driehonderd en vyftig kilometer per uur. En hy sluk ’n slag, want hy besef dat as hy sy vlerke teen dié snelheid sou oopvou, hy dadelik in miljoene seemeeuflarde uitmekaar sal spat. Maar die snelheid is mag, en die snelheid is vreudge, en die snelheid is suiwer skoonheid.
Nadat die trop hom verwerp het, ontmoet hy twee ander meeue wat ook soos hy dink én vlieg. Later is Jonathan ’n mentor vir ’n ander seeumeeu, Fletcher.
Wanneer Fletcher wil weet hoe Jonathan ’n trop voëls kan liefhê wat hom wou doodmaak, is Jonathan se antwoord vol wysheid en deernis:
“Ag, Fletcher, dit is mos nie wat ’n mens liefkry nie! Jy’t natuurlik nie haat en boosheid lief nie. Jy moet oefen tot jy die ware meeu leer sien, die goeie wat daar in elkeen skuil, dat jy hulle kan help om dit self te ontdek. Dit is wat ek bedoel met liefhê. En dit is heerlik as jy eers die kuns verstaan.”