MARIE GRIESEL
Nikon D3100 Nikon 70-300 mm-lens
MARIE VERTEL: Ons het in Februarie 2018 sewe dae by Mpayathutlwa (staanplek 2) in Mabuasehube gekamp. Elke dag het begin met leeus wat brul – hulle wou dalk seker maak ons is bewus van hulle.
Een oggend is ons bederf toe dié luiperdwyfie om 9.30 vm. kom water drink het. Wat ’n ongelooflike ervaring en voorreg – die kraan was skaars 12 m van ons kampplek af! Ons kamp al baie jare in Mabuasehube, maar dit was die eerste keer dat ’n luiperd helder oordag kom water drink het.
Die volgende oggend het sowat agt leeus oor die pan na ons aangehardloop gekom. Wat ’n gesig. Hulle het die hele dag in die koelte van die kampplek se A-raamhuisie gelê. Dit was warm – sowat 38 ºC – en hulle het die hele tyd water gedrink. Hulle het gelukkig toe dit donker begin raak, besluit om te gaan jag.
TOAST SÊ: Mabuasehube is die leeus s’n. En naas die leeus die luiperds s’n. Dít moet jy weet wanneer jy daar gaan kuier. Dis wilde, woeste wêreld en jy moet gedurig oor jou skouer kyk, selfs al stap jy net badkamer toe. Goeters met tande is óral.
Tog is dit dié nabyheid aan die groot roofdiere wat hardebaard veldliefhebbers (dis nou julle, Weglesers!) na Mabua lok.
Marie se luiperdfoto is mooi om drie redes: Sy kon dit in helder daglig afneem (als is duidelik), die agtergrond is ongewoon (die see van geel duwweltjieblomme) en dan is daar die oogkontak (wat jou broek effe laat bewe, of hoe?).
Goeie werk, Marie.