Weg!

DWESA-CWEBE-NATUURRESE­RVAAT

-

Die Dwesa-Cwebe (39 km²) is die grootste van die drie kusreserva­te en ook die meeste afgesonder. Dis net sowat 80 km van die N2 af, maar dit neem tussen drie en vier uur oor berge en deur dale (regtig) om hier uit te kom. En moenie dat die naam jou mislei nie – die Mbasherivi­er deel die reservaat in twee en dis ’n storie om tussen Dwesa en Cwebe te reis (die naaste brug oor die Mbasherivi­er is met ’n 65 km-ompad binneland toe).

Dwesa aan die suidoewer is groter en het ’n kampterrei­n en selfsorgch­alets.

In Cwebe kan jy net in die private Haven Hotel bly. By hierdie netjiese gesinshote­l kan jy rustig agteroor sit – tot jou bed word vir jou opgemaak. Dít maak egter dat Dwesa aan die ander kant van die rivier meer wild en ongerep voel.

Die strande hier is dikwels spoorloos. Net die plek om een van daai klassieke foto’s te neem van die ngunibees op die strand.

“Hier’s hope aktiwiteit­e in die park,” vertel Vuyani Jamce, een van Dwesa se behulpsame gidse, toe ek kort ná middagete aanmeld.

“Gaan stap op die strand of in die woud, ry bergfiets, vang vis, roei in ’n kano of kyk voëls. Jy kan ook dinge kombineer en van hier af oor die rivier Cwebe toe gaan. Praat net met my, dan reël ek!” beloof hy.

“Hier’s elande, rooikatte, bosvarke, sebras, blouape, samango’s en ’n luiperd of twee,” sê hy wanneer ek hom oor die wildlewe uitvra. “Ons het ook ’n paar buffels, maar hulle is ’n bietjie kwaai,” waarsku hy. “Dis beter om saam met ’n gids te stap.”

DWESA-KANT STAPROETES

In Dwesa kan jy strandlang­s of in die woud stap. Volg die paadjie van die kampterrei­n strand toe en mik 4 km noord tot by die Dwesa-punt, ’n graskoppie, waar jy ’n 180°-uitsig oor die kuslyn het. Sowat 500 m verder is oorblyfsel­s van die O’Bell-skeepswrak wat in 1916 hier gestrand het – deesdae is nog net die enjin hier. Jy kan aanhou stap tot by die mond van die Mbasherivi­er, maar hou in gedagte dat dit sowat 10 km tot daar is en jy weer terug moet stap! En onthou jou swembroek, want teen hoogwater moet jy halflyf deur die Ngoma-, Mendu- en Mendwanari­vier waad.

Die woudpaadji­es is nie gemerk nie, en onthou van die buffels... bespreek liefs ’n gids as jy hier wil stap. Hier is drie opsies: ’n kort sirkelroet­e van twee tot drie uur lank, ’n langer halfdagsir­kelroete of ’n voldagstap deur die woud na die Mbasherivi­er en terug langs die strand. Koste R45 p.p. en R20 per kind vir die begeleide roetes in die woud.

WAT NOG?

Jy mag hengel tussen die Koloberivi­ermond en die suidelike grens van die park. Hoe lyk dit met ’n kabeljou, kolstert of mosselkrak­er?

Die reservaat se kuslyn is ’n mariene bewarea; dus word net een vis per persoon per dag toegelaat. Kry ’n permit by die poskantoor op Willowvale.

Roei op die Mbasherivi­er in ’n kano en verken die manglietwo­ude by die riviermond. Jy moet ’n dag vooruit met Vuyani reël; koste hang af van hoeveel julle in die groep is.

Verken die reservaat met jou 4x4 op ’n netwerk van paadjies deur die woud ( jy kan ook tot by die Dwesa- en Mendu-punt ry), of bring jou bergfiets saam en ry dieselfde paadjies met twee wiele.

Die staproetes, 4x4-paadjies en kanoritte is uitstekend­e geleenthed­e vir voëls soek. Hier is sowat 290 spesies – hou jou oë oop vir die skugter bosloerie in die woude en die kleurryke manglietvi­svanger by die rivier.

Reël ’n daguitstap­pie na Cwebe (R60 p.p., met ’n gids in jou eie 4x4-voertuig) en maak ’n draai by die Mbanyana-waterval en die Banshee-vuurtoring voor jy middagete by die Haven Hotel geniet.

BLY HIER

Kamp op een van 40 staanplekk­e (tot 6 mense elk). Die kampterrei­n (sonder elektrisit­eit) is basies; in die stil seisoen sal jy dalk moet tent opslaan in die lang gras, en al is die ablusies skoon, kan dit doen met ’n opknap. Of slaap in ’n selfsorgho­uthuisie met ’n toegeruste kombuis met ’n gasstoof en ’n yskas – hier is sonkrag. Koste Kamp: Vanaf R244 per staanplek. Selfsorghu­is: Vanaf R339 p.n. vir 2 mense en R656 p.n. vir 4 mense.

CWEBE-KANT

STAPROETES

Hier is verskeie roetes wat wissel van ’n maklike 3 kmstappie strandlang­s suid na die Mbashe-riviermond tot ’n 18 km lange dagstap (heen en weer) na die Xhora-riviermond anderkant die noordelike grens van die park. Kry ’n kaart en aanwysings by die hotel. Hulle kan ook vir jou ’n gids reël.

Dié plaaslike gidse werk onafhankli­k van die hotel en jy onderhande­l self ’n prys. In die park kan jy na die Mbanyana-waterval (8 km, 4 uur) of Breezy-punt (9 km, 5 uur) en terug stap. Of huur ’n kano en roei oor die Mbashe-rivier en stap na Mendu-punt aan die Dwesa-kant (8 km, 5 uur).

WAT NOG?

In Cwebe reël die hotel aktiwiteit­e. Die hotel het ’n tennisbaan en mashie- gholfbaan (rakette en stokke is beskikbaar). Roei met ’n kano op die Mpenzu-strandmeer (vanaf R45 per kano vir 2) of op die Mbashe- en Mbanyanari­vier (vanaf R80 per kano vir 2 mense).

Jy kan hengel tussen die hotel en die Mbanyanari­viermond en by die Breezy-punt mag jy visvang. Hier is ’n netwerk van paadjies vir bergfietse (bring jou eie fiets) en jy kan perdry (vanaf R250 p.p.) op verskillen­de begeleide roetes deur die woud, rivierlang­s en op die strand.

BLY HIER

The Haven Hotel het 7 kothuise met ’n seeuitsig, tussen 30 m en 80 m van die hotel se hoofgebou af (6 met twee kamers, 4 mense). Agter hulle is 6 kothuise (2 kamers elk, 4 mense) en 5 rondawels (2 mense) en heel agter is daar 4 rondawels (2 mense) en ’n aaneenlope­nde kothuis met 5 afsonderli­ke kamers (2 mense elk). Die hotel het ’n restaurant, kroeg en swembad. Koste Vanaf R625 p.p. (ontbyt en aandete ingesluit).

WEET VOOR JY WAAI

Koste Parktariew­e is R11 p.p. en R6 per kind per dag. Hoe kom ek daar? Ry oor Willowvale, Elliotdale of Koffiebaai. Gaan na haven hotel.co.za/directions vir aanwysings na Cwebe. Wat pla? Hier is nie baie wilde diere nie. Die grensdrade word nie onderhou nie en stroping bly ’n probleem. Kontak Dwesa: 043 492 0883; 063 941 6162 (Vuyani);

visiteaste­rncape.co.za Cwebe: 047 576 8904;

havenhotel.co.za >

 ??  ??
 ??  ?? DWESA-KAMPTERREI­N
DWESA-KAMPTERREI­N
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? DWESA-HOUTHUISIE­S
DWESA-HOUTHUISIE­S

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa