Weg!

Een, twee, vyf op ’n slag!

- – Willie Koorts

Met Venus wat binnekort in die gloed van die Son gaan verdwyn en Mercurius wat vinnig kom gesig wys, kry ons in die eerste twee weke van Oktober die geleenthei­d om al vyf die planete wat met die blote oog sigbaar is, gelyktydig te siene te kry.

Mense het al sedert antieke tye opgelet dat die patrone wat deur die sterre gevorm word, onverander­d bly, maar dat daar vyf “swerwers” (die Griekse woord vir planete) is wat langs ’n strook rondbeweeg. Vandag weet ons dié strook, bekend as die ekliptika, is dieselfde pad waarlangs die Son en Maan ook beweeg.

Die afgelope maand of wat al kon ’n mens Venus, Jupiter, Saturnus en Mars sien (sien “Sterreweg”, Weg #166), maar vir ongeveer twee weke in Oktober is daar die geleenthei­d om al vyf met die blote oog te sien.

Rondom 6 Oktober word Mercurius ook sigbaar wanneer dit laag op die westelike horison uit die Son se gloed verskyn. Venus is vinnig besig om af te beweeg na die horison terwyl Mercurius elke aand hoër sit. Hulle steek mekaar op 15 Oktober verby en teen die 20ste verdwyn Venus in die Son se gloed.

Jupiter is ook vinnig op pad af ondertoe en teen die einde van die maand steek Mercurius hom ook verby. Mars is steeds redelik helderrooi en maklik om te kry, byna reg bo jou kop. Saturnus sit sowat halfpad tussen Mars en Jupiter en is effe geel van kleur.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa