Met my eie oë
OP SOEK NA ’N ‘PICATHARTES’ IN DIE KAMEROEN
Al ooit van ’n picathartes gehoor? Dis een van die ontwykendste Afrika-voëls om op jou lys af te merk. Daar is min bekend oor dié bedreigde voël wat net in die reënwoude van Wes- en SentraalAfrika voorkom. (’n Mens spreek dit uit pieka-thaar-ties en hy word ook soms ’n rotsvoël genoem omdat hy modderneste op rotswande in die woude bou). Daar is net twee spesies in die Picathartidae- familie: die witnek- en grysnek- picathartes.
’n Mens kan die grysnek- picathartes in die Korupnasionale park in die Kameroen te siene kry. Ek was onlangs daar op vakansie om dié voël en ’n hele rits ander ongelooflike spesies wat ek nog net in dokumentêre natuurfilms gesien het te gaan soek.
Die Kameroen het ’n wye verskeidenheid habitatte en daar is nie soveel mensgemaakte druk op die omgewing soos in buurlande soos Nigerië en die Kongo nie. Hier is amper soveel voëlspesies soos in die hele Suider-Afrika tesame! Voeg hierby berge, oerwoude en woestynagtige gebiede en jy het ’n droombestemming vir enigiemand wat betotteld is met voëls.
My reis was ’n wilde drie weke lange tog. Ek het min van die Kameroen geweet voordat ek soontoe gevlieg het. Die avontuur daarvan om per motorfiets
en met openbare vervoer te reis was amper net so opwindend soos die soektog na die picathartes!
Ek het in die stad Douala geland en met twee busse en ’n oornagtrein gereis na die Waza- nasionale park in die Sahel-woestyn in die verre noorde van die land.
In die park het ek spesies soos die swaelstertblouvalk (“scissor-tailed kite”) , swartkopmahem (“black-crowned crane”) , vosvalk (“fox kestrel”) en rooipenssandpatrys (“chestnut-bellied sandgrouse”) gesien. Dit was harde werk: Party dae was dit tot 50 °C!
Hierna is ek na die afgeleë vulkaniese landskap rondom Rumsiki op die grens met Nigerië. Hier kon ek die Kameroen se plattelandse dorpies en die landelike lewe eerstehands ervaar. Van hier af het ek suid geskuif na die hooglandwoude van Ngaoundéré, waar heelwat miombobosveld-spesies soos die “piapiac” (’n soort kraai), witkuifloerie (“white-crested turaco”), Dybowski se kolpensie (“Dybowski’s twinspot”), witbandspreeu (“white-collared starling”), Bamenda-kleinjantjie en bruinborskiewiet (“brownchested lapwing”) voorkom.
Toe stel ek my visier op Berg Kameroen. Ek het ’n oornagtrein van Ngaoundéré tot Yaoundé geneem, maar die trein het tweeuur die oggend gebreek en ek moes ’n motorfiets kry om my reis voort te sit. Ek het uiteindelik by die dorp Buea aan die voet van die berg aangekom – net betyds om later daardie dag my klim na die 4 000 m-bergspits te begin! Daar is verskillende oornaghutte op pad boontoe . Heelwat voëlspesies kom net op die berg voor, soos die Berg Kameroen-speirops (“Mount Cameroon
speirops”, Berg Kameroen-fisant (“Mount Cameroon spurfowl”) en die bergsaagvlerkswael (“mountain sawwing”), en jy kan ook ander wonderlike voëls soos die Kameroense bosduif (“Cameroon olive pigeon”) en bleekborsnigrita (“pale-fronted nigrita”) sien.
Onder gekom het ek weer ’n vinnige draai by die Bakossiberg gaan maak, sowat 160 km noord van Berg Kameroen. Drie van ons het op een motorfiets gery (natuurlik sonder valhelms): ek en al my toerusting, ’n plaaslike gids en die bestuurder. Ons het vir ’n dorpie op die rand van ’n afgeleë wildernisgebied gemik – ’n gebied waar besoekers so skaars soos hoendertande is.
Ná ’n reëndeurdrenkte reis het ons uiteindelik by die dorpie uitgekom. Hier het die hoofman ’n spesiale tradisionele seremonie net vir my gehou. Die meeste van die dorpie se mense was daar om die gebeurtenis te aanskou. Nie lank hierna nie het ek een van Afrika se skaarsste voëlspesies gesien: die Berg Kupe-boslaksman (“Mount Kupe bushshrike”). Daar is net ’n geskatte 20 van dié voëls in die natuur oor.
Van die Bakossiberg af het ek teruggedraai na die grens met Nigerië en die dorpie Mundemba, waar die Korup- nasionale park se hoofkantoor geleë is. Dis waar ek die picathartes wou sien. Die 150 km lange reis soontoe het 14 uur geduur en daar was verskeie plekke waar ons die motorfiets moes dra om deur modderdele te kom – en dít was die droë seisoen! Die motorfiets het ook halfpad gebreek en moes toe eers versien word, maar dit was alles deel van die avontuur.
Die volgende dag is ek saam met ’n gids die park in.
Ons het in die digte oerwoud verdwyn, met honderde onbekende roepgeluide oral om ons. Ons kon egter min van die voëls by wie dié geluide pas te siene kry omdat die woud uiters dig is. Ná baie ure het ons by ’n klein opening met ’n paar lendelam hutte gekom – ons basis vir die volgende paar dae. Daar was geen storte nie, net ’n helder stroompie wat naby verbyloop.
Ons het die volgende dag verder woud-in gestap. Laat daardie middag het ons by ’n hoop rotsblokke onder die blaredak gekom. Die gids was vol hoop en het gesê ons moet onder ’n oorhangrots wegkruip. Ons het ’n paar minute gewag tot ons uiteindelik die geritsel gehoor het van iets wat deur die blare op die woudvloer beweeg. Ek het koud geword en begin bewe van afwagting. Uiteindelik het hy uitgespring tot op die rots voor my – ’n grysnek- picathartes!
Dit het gevoel soos ’n oomblik uit Jurassic Park, want daar is beslis iets prehistories aan hierdie voël. (Wetenskaplikes dink sy “stamboom” strek tot so ver as 44 miljoen jaar gelede.)
My hande het gebewe, maar ek het ’n vinnige foto geneem . Die voël het omgedraai om te sien wie sy gebied betree. Hy het ’n katagtige sisgeluid gemaak (hulle het, sover bekend, nie ’n roepgeluid nie) en tot in die boom agter hom gespring.
Uit die boom het hy toe gehop op wat lyk soos ’n soort beker gemaak van modder wat aan die wand van een van die rotse geplak was – sy nes. Die gids het besluit ons moet padgee en die picathartes los om reg te maak vir die nag.
Dankie picathartes, die reis was fantasties.