Weg!

Brief uit Windhoek

Somer is nie vir hom nie, skryf Lloyd Zandberg, en dis érg as jy regdeur die lente geslaap het.

-

Sedert ek in 2015 van Swakopmund af terug na my geboortest­ad, Windhoek, verhuis het, gaan dit nog net goed met my. Ek het net ’n verkoue gehad, verdwaal toe ek agter ’n toiletpapi­er- special aangery het en moes op ’n slag vir ’n week lank net mieliepap eet. Soms was daar ’n dingetjie wat amok wil maak, maar dan trap ek dood, draai sy nekkie om en gooi weg. Niks het my nog laat terugverla­ng (ek probeer nog uitvind na watter plek, indien ek wel moes verlang), prokureurs bel, kontantlen­ings maak, verbande inspan of sigarette by die kilogram koop nie.

Dit was eintlik ’n fees tot dusver. Ek het nuwe mense ontmoet én vriende gemaak. Party het kennisse gebly en ander mag nou by my kom koffie drink en oorslaap.

Maar ek het geweet dit kan nie vir ewig aanhou nie. Die lewe werk nie so nie. Hierdie naweek het die eerste slaggat sy kop uitgesteek...

Die somer is vir my ’n straf. Ek mag nie warm kry nie; dit is nie goed vir my geestesges­ondheid nie. As die kwik net effe hoër as 15 °C styg, begin ek soos ’n bees in ’n drukgang sweet.

Dit was die week vantevore nog serpweer en toe onverwags – sonder enige waarskuwin­g – is dit warm. Maar dis hóé die somer my bekruip het wat pla.

Sien, ek is ’n swak slaper. Ek is nie een van daai individue wat tande borsel, water in ’n glas skink, kamer toe loop, die ligte afsit, ’n bietjie vroetel en onmiddelli­k begin snork nie. Nee, om my aan die slaap te kry is soos om met ’n liter verf die hele skoolsaal se dak te probeer bedek: onmoontlik. Die ergste is, terwyl ek aan die slaap probeer raak, dink ek aan al die moontlike maniere waarop ’n mens die dak met daai liter kan verf.

My vriendin se man struggle ook met slaap en het in ’n stadium agt dae aaneen nie geslaap nie. Ek het hom op dag agt gesien, en dit was woes. Hy het gelyk soos ’n melktert sonder ’n kors: vaal en jellierig. Teen dag nege is hy dokter toe, want sy huwelik was op die spel.

Die dokter, sê my vriendin se man, hakkel ’n bietjie, maar weet hoe slaap werk. So skryf die dokter vir hom ’n pil voor wat wérk. Vriendin het genoem dat waar haar man ook al die pilletjie sluk, is waar hy aan die slaap raak. Hulle het deesdae altyd ’n opblaasmat­ras in die kar se kattebak. Hulle kan nie meer kanse vat nie.

Ons is toe die naweek besig met ’n staanvuur en grootmensk­oeldrank by my huis. Ons kuier, die son glip weg, en stadigaan groet die gaste ook. Vriendin se man gaan lê op sy opblaasmat­ras langs my yskas en is spoedig in droomland.

Later is dit net ek en die vuur. Dit was nie lank nie, toe gaan slaap die vuur ook. Toe is dit net ek. Maar ek is nie eens amper moeg nie. Ek lyk soos Usian Bolt ná ’n 100 m. Effens uitasem, maar reg vir meer. Ek is doodmoeg, maar my brein weet dit nie. Ek begin Klaasvakie se spoor sny, maar dié is ook al tussen die vere.

Later staan ek op, soek my vriend se sak pille en lees die voorskrif agterop. Dit lyk nie te rof nie. En as ek gatvol raak, maak ek impulsiewe besluite. Al is die pil hóé erg, ek sal een of ander tyd weer moet wakker word. Met al die slaap wat ek agter is, kan dit eintlik net ’n goeie ding wees.

Woeps! sluk ek hom. ’n Halwe gapie en ek is weg.

Ek word wakker in ’n aardige posisie, tussen die eetkamerta­fel en die skuifdeur. Ek lyk soos ’n gazebo wat nat in sy sak geprop is. Sopnat gesweet, ongemaklik, kwaad en omgekrap. “Het ek lank geslaap?” vra ek vir my vriend. “Dwarsdeur die lente,” antwoord hy.

‘Nee, om my aan die slaap te kry is soos om met ’n liter verf die hele skoolsaal se dak te bedek: onmoontlik.’

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa