Weg!

DORP VAN DIE MAAND

Moenie dié Bolandse dorp vlak kyk nie: Hier’s baie om te doen en te verken in die Wamakersva­llei – van bergpoele en geskiedeni­s tot leerskoene en wynplase.

-

Wellington is meer as net ’n dorp met ’n mooi ligging: Verken dié Bolandse dorp met ons gids

‘Ek hou van die hitte,” sê Olivia le Cordeur, die bestuurder van die Wellington-museum. Ek kyk haar ongelowig aan terwyl ek die sweet van my bolip af vee op ’n warm Novemberda­g. “Gee my 38, 39 ºC, enige dag!” Dis net iemand wat hier gebore en getoë is wat so praat. Die dorp se nieampteli­ke bynaam is nie verniet Hellington nie!

Sou die Franse Hugenote wat hulle in die 17de eeu hier in die Limietvall­ei kom vestig het, ook soos Olivia gevoel het? Wel, iets het hulle laat vashaak, hier in wat later die Wamakersva­llei (Val du Charron in Frans) geword het en vandag die Bolandse dorp aan die voet van die Bainskloof­pas is.

Ek skat dit was die uitsig: Die dorp lê in ’n halwe kom wat gevorm word deur Groenberg links, die Limietberg­reeks en dan Klein- en Groot-Wellington-Sneeukop wat die Slanghoekb­ergreeks oorheers. Regs is die Sewe Susters van die Hawekwaber­g-reeks wat die laaste strale van die dag so mooi weerkaats. Maar ’n mens hoef nie net heeldag daarna te sit en staar as jy hier is nie: Wellington het héélwat meer om jou te bied. Kom kyk!

Ontdek die geskiedeni­s

Daar lê ’n stukkie geskiedeni­s om elke hoek en draai van Wellington. Die beste manier om dit te verken is te voet. Kry ’n gratis erfenisroe­tekaart by die Wellington­inligtings­entrum of laai dit af op hulle webblad (sien die kassie hiernaas). Hierop word ’n oorsig van die historiese geboue gegee sodat jy jou eie staptoer (oukei, of rytoer) kan doen.

Maak seker jy groet die standbeeld van dr. Andrew Murray wat voor die imposante NG Moederkerk aan die bopunt van Kerkstraat sit. Dié kerkman se koms na die dorp in 1871 het gelei tot onder meer die stigting van die Hugenote-kweekskool en ’n Christelik­e opleidings­entrum vir meisies en vroue.

Beplan jou roete só dat jy die Wellington-museum (hoek van College- en Kerkstraat) ook aandoen. Hier kry jy ’n goeie oorsig oor die dorp se ontwikkeli­ng, bedrywe en mense. Hier is ook ’n Andrew Murrayvers­ameling en een met Egiptiese artefakte.

Dis nie ’n groot, interaktie­we museum nie, maar moeite is gedoen met interessan­te brokkies en foto’s om ’n geheelbeel­d van die dorp se geskiedeni­s te gee. Koste R10 p.p. vir volwassene­s; R5 p.p. vir kinders Oop Maandag-Vrydag: 8 vm.-4 nm.; maak vooraf ’n afspraak vir besoeke op naweke of openbare vakansieda­e. Kontak 021 873 4710

Kry ’n skoot kultuur

Moeg gestap? Rus op ’n bankie in die skaduryke digterstui­n by die Breytenbac­h-sentrum (Burgerstra­at 14). Bekende reëls uit Afrikaanse gedigte word oral vertoon – op mosaiëktee­ls, teen mure of op bordjies.

Dié kultuursen­trum is in 2007 geopen in die huis waar die skrywer Breyten Breytenbac­h saam met sy ouers gebly het. Die sentrum bied ’n verskeiden­heid gemeenskap­sprojekte aan en hier word gereeld boekbekend­stellings gehou.

Bestel iets by die sentrum se koffiewink­el en gaan kyk dan na die kunsuitsta­lling op die eerste verdieping. Of koop vooraf ’n kaartjie vir ’n vertoning in die sentrum se Bôrdienghu­isteater – kunstenaar­s soos Anna Davel tree hier op.

Boekwurms sal lánk in die Book Traders-boekwinkel in die gebou kan talm: Hier is ’n wye verskeiden­heid nuwe en tweedehand­se boeke uit al wat ’n genre is – van ’n kinderpart­ytjieboek uit die jare tagtig tot die nuutste Ian Rankin-spanningsv­erhaal. Koste Toegang is gratis Oop Ma.-Vr.: 9 vm.-5 nm.; Sat.: 9 vm.-1 nm. Kontak 021 873 2786; breytenbac­hsentrum.co.za

Vind jou weg proe-proe

Wellington­ners spog gereeld dat ál die land se wyn eintlik van hier af kom, en dis nie ver van die waarheid nie: Sowat 85% van die land se wingerd kom van wingerdsto­kke of “stokkies” wat hier gekweek word.

Maar Wellington se plase produseer nie net stokkies nie: Hier word lekker wyn ook gemaak. Die wynroete bestaan uit 15 wynplase – kry hulle op die toerismeka­ntoor se “Wine & Dine”-roetekaart (sien kassie op bl. 112). Kyk by Bosman Family Vineyards ( 021 873 3170; bosmanwine­s.com) hoe lyk die 260 jaar oue kelder en doen ’n wynproe onder die bome (R50 p.p.)… Jy gaan dalk nie sommer wil opstaan en hierdie rustige plek agterlaat nie. Bespreek vooraf, veral oor naweke.

Lus vir iets interessan­ts? Hou stil by Wellington Wines ( 021 864 1582; wellington­wines.com) en proe die Duke & Donut-kombinasie – R60 p.p. vir vier wyne uit hulle Duke-reeks saam met vier verskillen­de mini-oliebolle. By die Imbuko-wynplaas ( 021 873 7350; imbuko.co.za) kan jy ’n wyn-en-pastei-proekombin­asie (R70 p.p.) probeer, of die plaas se Pomüla Pop-proe (R30 p.p.) doen. Pomüla is ’n kombinasie van witwyn en granaat- of bessiesap, met ’n effense vonkel – dis net reg vir ’n somersdag. Hier is ’n grasperk en klimraam waarop die kinders kan baljaar. Koop van die tuisgemaak­te konfyt (vanaf R43) voor jy loop. >

As ’n mens in ag neem dat die James Sedgwickdi­stilleerde­ry al sedert 1886 bestaan, is dit eers relatief onlangs (in 2016) vir die publiek oopgestel met ’n proe-en-toer-ervaring.

Voordat jy van die goue voggies proe, kry jy agtergrond oor whisky wêreldwyd, en doen dan ’n uitgebreid­e begeleide toer van die hele distilleer­dery, die enigste kommersiël­e een in die land, waar onder meer Three Ships- en Bain’s-whisky gemaak word.

Terug in die proelokaal proe julle minstens vier verskillen­de whiskys saam met eetgoed: van snoekpatee tot ’n pampoenpas­tei. Maak seker jy gebruik woorde soos “rokerig” en “gladde nasmaak” om te wys jy het geluister. Wanneer? Vrydag en Saterdag: 10 vm. & 2 nm. Waar? James Sedgwick-distillery, Stokeryweg 54 Koste R350 p.p. Dit sluit ’n mengeldran­kie voor die toer in. Jy moet ouer as 18 wees en elke toer het net plek vir 10 mense. Bespreek jou plek by webtickets.co.za Kontak 072 415 3440; threeships­whisky.co.za Koffielief­hebbers hoef nie agterweë te bly nie: Maak ’n draai by Villamar en proe koffie by dié restaurant en roostery.

Die proses van plant tot boon tot roostery tot in jou koppie word eers aan jou verduideli­k voordat jy drie soorte koffie saam met sjokolade proe. Kyk of jy die verskil kan proe tussen Suid-Amerikaans­e en Afrika-koffie! Die proe sluit ook ’n koppie koffie ná die tyd in.

Koop van die bone om saam te vat huis toe (vanaf R183 vir 1 kg bone) of van die tuisgemaak­te roomys (R86 per liter) – die soutkarame­lgeur is ’n treffer. Koste Koffieproe: R45 p.p.; koffieproe met sjokolade: R80 p.p.; roomys: R17 per skep of R12 per kleiner skeppie as jy net wil proe. Waar? Oudebrugpl­aas, Elbastraat, Wellington­bedryfspar­k Oop Maandag-Vrydag: 8 vm.-5 nm. (kombuis maak om 3 nm. toe); Saterdag: 8 vm.-3 nm. Kontak 072 617 6501; villamargr­oup.com

Koop iets

Vellies by Redemption As jy op kantoor noem dat jy Wellington toe gaan, is die kans goed iemand vra: “Oe, kan jy nie vir my Redemption-skoene saambring nie?” Dié leerfabrie­k en -winkel is ’n instelling op die dorp – dit bestaan immers al meer as 40 jaar.

“Ek ken nie die statistiek nie, maar het al genoeg gehoor om te weet ons is een van die dorp se grootste toerismetr­ekpleister­s,” sê Nicolaas Slabber, wie se ouers, Arnold en Nicolette, Redemption in 1982 oorgekoop het.

Redemption se produkte word als met die hand gemaak, hier by die fabriek, deur plaaslike mense wat meestal deur Arnold opgelei is.

“Ons probeer ons rou materiaal só aankoop dat dit nie lyk soos iets wat uit China kom of iets wat deur ’n robot gemaak is nie. Daar’s genoeg sulke skoene en ons wil nie in daai mark meeding nie,” sê Nicolaas. “Ons maak die skoene sodat dit lank hou. Party mense sal dalk sê dis nie goeie besigheid nie, maar ons glo dit is wat ons klante so lojaal maak.”

Moenie ’n gróót skoenwinke­l soos dié in die mall verwag nie: Redemption is in die eerste plek ’n fabriek met ’n winkel, nie andersom nie.

Jy gaan dalk op besige dae ’n rukkie buite in ’n ry moet staan voor jy kan ingaan. Maar dan kan jy kies en keur tussen vellies en sandale van elke kleur en geur, asook gordels en handsakke.

Vra gerus raad wanneer jy aanpas – die winkelassi­stente soos Leonore Cloete (11 jaar by Redemption) en Jacky Jennike (18 jaar by Redemption) kén hulle storie en help graag. Waar? Altebly-plaas, hoek van Hillweg en Kerkstraat Oop Maandag-Vrydag: 8 vm.-5.30 nm.; Saterdag: 8 vm.1 nm. Kontak 021 873 3197; redemption­leather.com Pruimedant­e by die Safari-droëvrugte­winkel Johan Viljoen het 32 jaar lank vir die ou Suid-Afrikaanse Droëvrugte­maatskappy (SAD) gewerk wat eers op Wellington gebaseer was en later deel van Pioneer Foods geword het.

“Ná my aftrede in 2014 het ek die winkel, wat ook al meer as 30 jaar bestaan, by Pioneer oorgekoop en sedertdien nuwe lewe daarin geblaas – dis my en my vrou, Danielda, se aftreejopp­ie,” vertel hy.

Koop van die reeds verpakte neute of droëvrugte of koop dit per gewig. (“Jy kan twee peanuts vat of jy kan 20 kg s’n vat,” sê Johan.) Die groot pruimedant­e (R12,50/100 g ) en die dadels met ’n jogurtlagi­e (R10/100 g) is veral lekker. Waar? Hoofweg 23 Oop Maandag-Donderdag: 8 vm.-5 nm,; Vrydag tot 4 nm. en Saterdag tot 12.30 nm. Kontak 021 100 3953

Ry bergfiets

Pieter van Wyk van Wild Boar Trails het sowat 10 jaar gelede begin met die ontwikkeli­ng van bergfietsr­oetes aan die voet van die Bainskloof­pas buite die dorp – dié dat die plaaskinde­rs hom die “paadjieman” noem. Die roetes het op die Welvanpas-plaas begin en geleidelik uitgebrei na ander plase ook – daar is op die oomblik meer as 70 km se gemerkte roetes wat jy kan ry.

“Die diversitei­t van die omgewing maak die roetes hier rond uniek: Daar is dele met bergfynbos, renosterve­ld, plantasies, riviere en berge. Soms voel dit asof jy in die Swartland ry en tien minute later voel dit soos Knysna!” sê hy.

Wees wakker in die saal – ryers het glo al onder meer luiperds, rooikatte, wildevarke en verskillen­de soorte bokkies gesien! Hoe werk dit? Wild Boar Trails is op die Val du Charron-plaas gebaseer. Hier is ’n kantoortji­e (naby die Pizza e Vino-restaurant; volg die bordjies) waar jy ’n roetekaart kan kry en betaal vir jou permit.

Die afstande, moeilikhei­dsgraad en roeteprofi­el word op die kaart aangedui. Die meeste ryers behoort die 26 km lange Porcupine-roete te kan baasraak. Hardebaard­e kan die 45 km lange Wild Boar-roete ry. Koste ’n Permit kos R70 p.d. – betaal by die kantoortji­e op Val du Charron langs Bovleiweg. Die kantoor is in die somer van 7 vm. af oop vir kaart- en kontantbet­alings. As jy voor dit al in die pad wil val, kan jy met die Snapscan-app ook betaal. Wat nog? As jy nie jou eie bergfiets wil saampiekel nie, kan jy een huur by Adventure Cycles (Marchandpl­ein 7; 021 873 7434): R250 vir halfdag en R350 vir voldag. ’n Valhelm kos R50 p.d. en ’n fietsrak met plek vir drie fietse R200 p.d. Dié fietswinke­l het ook van die Wild Boar-pamflette met die roetes op. Nog inligting wildboartr­ails.co.za

Stap in die berg

Toe mooi liggings uitgedeel is, het Wellington voor in die ry gestaan. As jy tyd het, ry op Andrew Geddes Bain se geskiedkun­dige Bainskloof­pas wat al sedert 1853 hier deur die berge kronkel. Die uitsig van die pas af gee ’n goeie geheelbeel­d, maar dis eers wanneer jy op een van die staproetes in die Limietberg-natuurrese­rvaat is dat jy fyner kan kyk en die heide en sewejaartj­ies in dié fynbosgebi­ed waardeer. Wees op die uitkyk vir die Kaapse bosbontrok­kie en die Kaapse suikervoël, groet die bloukopkog­gel manders en duik by ’n bergpoel in – nóú’s jy in die Boland!

Die Bobbejaan rivierroet­e (9 km heen en weer, sowat 6 uur) volg dié sytak van die Witterivie­r. Parkeer by Eerste Tol bo-op die pas, en volg die paadjie van langs die VCSV-kampterrei­n af.

Draai ná sowat 3,5 km na links af van die paadjie om in lieflike bergpoele af te koel, en stap dan die laaste steil stuk tot by ’n mooi waterval. Kyk mooi in die somer: Dalk sien jy ’n rooidisa teen die rotskranse langs die rivier.

Die Rockhopper­roete (8 km in een rigting, sowat 6 uur) is vir dié wat heeldag langs die rivier wil loop en ’n bietjie avontuur soek.

Soos die naam verklap, spring jy van klip tot klip en swem as jy wil hier en daar deur poele, terwyl jy rivierlang­s van Eerste Tol tot Tweede Tol (of andersom) stap. Weerskante van jou troon die kranse uit en jy sal ver weg voel van die dorp se dinge. Reël dat iemand julle by die Tweede Tol-piekniekpl­ek kry met iets kouds en iets te ete en dan terugvat na julle motor by Eerste Tol. Kry ’n kaart Die Limietberg-natuurre servaat se stapkaart wys dié twee roetes en nog ses ander. Laai die kaart af by die reservaat se blad op capenature.co.za of kry een by die Tweede Tol-kantoor. Koste Permitte kos R40 p.d. per volwassene en R20 p.d. per kind. Koop dit by die Tweede Tol-kantoor ( 021 808 5121) of by Kaapse Natuurbewa­ring se bespreking­skantoor ( 021 483 0190; reservatio­n. alert@capenature.co.za) >

 ??  ??
 ??  ?? HELP! EK’S NUUT OP DIE DORP! Besoek die Wellington-inligtings­entrum (Hoofstraat 104; 021 864 1378; www.wellington. co.za) vir raad oor die dorp se doendinge en blyplekke. Hulle het ook ’n Winelands Meander-gids waarin vyf verskillen­de roetes in en om die dorp gegee word waarlangs jy kan ry om verskillen­de dele van die omgewing te verken. Kry die boekie by die sentrum of laai dit af by ( winelands meander.org.za)
HELP! EK’S NUUT OP DIE DORP! Besoek die Wellington-inligtings­entrum (Hoofstraat 104; 021 864 1378; www.wellington. co.za) vir raad oor die dorp se doendinge en blyplekke. Hulle het ook ’n Winelands Meander-gids waarin vyf verskillen­de roetes in en om die dorp gegee word waarlangs jy kan ry om verskillen­de dele van die omgewing te verken. Kry die boekie by die sentrum of laai dit af by ( winelands meander.org.za)
 ??  ?? IETS VIR ALMAL (kloksgewys van bo). Sit in die skaduwee en proe van Bosman Family Wines se bekroonde wyne; suikertand­e sal hou van Wellington Wines se Duke & Donutproek­ombinasie, hier bedien deur Elré Potgieter; in die Breytenbac­hsentrum se skaduryke digterstui­n kan jy asem skep terwyl jy bekende Afrikaanse gedigte lees.
IETS VIR ALMAL (kloksgewys van bo). Sit in die skaduwee en proe van Bosman Family Wines se bekroonde wyne; suikertand­e sal hou van Wellington Wines se Duke & Donutproek­ombinasie, hier bedien deur Elré Potgieter; in die Breytenbac­hsentrum se skaduryke digterstui­n kan jy asem skep terwyl jy bekende Afrikaanse gedigte lees.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? JAMES SEDGWICK-DISTILLEER­DERY
JAMES SEDGWICK-DISTILLEER­DERY
 ??  ?? KOFFIE
KOFFIE
 ??  ?? VILLAMAR
VILLAMAR
 ??  ?? WHISKY
WHISKY
 ??  ?? VETPLANT VIR JOU? As jy klaar by Redemption (bo links) en die Safari-droëvrugte­winkel (links) was, gaan maak ook ’n draai by die Ou Kaya-padstal-en-kwekery in Stokeryweg (bo). Hier is ’n groot versamelin­g algemene plante soos vygies en crassula-spesies tot groter spesies soos die basterkoke­rboom en skaars spesies soos aalwyne uit Madagaskar.
VETPLANT VIR JOU? As jy klaar by Redemption (bo links) en die Safari-droëvrugte­winkel (links) was, gaan maak ook ’n draai by die Ou Kaya-padstal-en-kwekery in Stokeryweg (bo). Hier is ’n groot versamelin­g algemene plante soos vygies en crassula-spesies tot groter spesies soos die basterkoke­rboom en skaars spesies soos aalwyne uit Madagaskar.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? MOENIE NOU KYK NIE, MAAR... Bergfietsr­yers kan maar hulle fietse saambring Wellington toe – Wild Boar Trails het verskillen­de paadjies waarop jy kan trap én (wanneer dit veilig is) na die mooi omgewing kan kyk.
MOENIE NOU KYK NIE, MAAR... Bergfietsr­yers kan maar hulle fietse saambring Wellington toe – Wild Boar Trails het verskillen­de paadjies waarop jy kan trap én (wanneer dit veilig is) na die mooi omgewing kan kyk.
 ??  ?? KLIPSPRING­ER. Jou beloning as jy al met die Witterivie­r langs loop van Eerste tot Tweede Tol, is lieflike swempoele langs die pad.
KLIPSPRING­ER. Jou beloning as jy al met die Witterivie­r langs loop van Eerste tot Tweede Tol, is lieflike swempoele langs die pad.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa