Weg!

Dinamiet kom beslis in klein pakkies!

-

Die bergadder is een van Suid-Afrika se kleiner adders – hulle word gemiddeld tussen 30 cm en 40 cm lank. Soos die naam aandui, hou dié slang van hoogliggen­de gebiede. Hulle kan tot 3 000 m bo seevlak voorkom. . Die enigste plek waar jy bergadders naby die see sal vind, is in die berge by Bettysbaai in die Wes-Kaap. Bergadders is redelik volop in sekere gebiede. Hulle is egter gewild onder reptielsmo­kkelaars omdat hulle in Europa gesog is as troeteldie­re.

Bevolkings word op vier plekke aangetref: die Kaapse Plooiberg, die Drakensber­g (in Mpumalanga en KZN) en die ooste van Zimbabwe.

Genetiese navorsing van dié vier bergadderb­evolkings in Suider-Afrika toon dat hulle al duisende jare geografies van mekaar geïsoleer is. Daar is groot variasies tussen die bevolkings, soveel so dat wetenskapl­ikes hulle as verskillen­de spesies wil klassifise­er.

Stappers kom gereeld dié geniepsige slangetjie teë, wat dikwels op voetpaadji­es of klipperige rantjies te sien is. Die bergadder is berug daarvoor dat hy humeurig kan wees en maklik sis en byt. Tog sal hy veel eerder skuiling (as skoor) soek. Sy prooi is meestal klein knaagdiere, paddas en nesvoëls.

Die bergadder se gif is uniek: Dit veroorsaak pyn en swelling, maar bevat ook neurotoksi­ese eienskappe nes die swart mamba se gif. Pasiënte ervaar dikwels asemhaling­sprobleme ongeveer vyf tot agt uur ná ’n byt. Van die 14 onlangse gevallestu­dies waarvan ek bewus is, moes al die pasiënte ’n week of selfs langer in die hospitaal opgeneem word en aan ’n ventilator gekoppel word.

Een van die opvallends­te newe-effekte van ’n bergadderb­yt is ooglede wat swaarder hang en pupille wat ongewoon wyd is. In een geval het ’n jong seun se pupille twee jaar buitengewo­on wyd gebly! ’n Ander unieke kenmerk van bergadderg­if is dat dit jou sintuie beïnvloed. Sommige mense kan maande of jare lank niks ruik of proe nie. Daar is ongelukkig geen teengif vir ’n bergadder se byt nie – dokters behandel net die pasiënte se simptome.

Johan Marais www.africansna­kebiteinst­itute.com >

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa