Weg!

Die dorp wat nie ’n dorp is nie

-

Copperton in die Noord-Kaap staan met een voet in die verlede en een voet in die toekoms. Gaan die myn weer oopmaak? Bied die koms van son- en windplase genoeg uitkoms aan boere, beleër deur droogte op droogte? En wat van die

tyd vóór Copperton – is daar iemand wat dít onthou?

WOORDE EN FOTO’S

Die pad wat my vandag na Copperton lei, is een wat min mense ooit ry. Ek het op Kakamas wakker geword en is van daar grondpadla­ngs na Kenhardt, en toe verby plase met name soos Liefdood, Latrivier, Ysterdorin­gkolk en Droëwater in die rigting van Vanwyksvle­i, waar ek kort duskant dié dorpie links gedraai het – steeds grondpad – tot by Copperton. Behalwe die paar dorpskarre op Kenhardt het ek op die res van die byna 300 km net twee karre teëgekom.

Ek het Copperton dus van agter af bekruip, uit die weste. Die maklikste roete is van Prieska af, in die teenoorges­telde rigting (sien kaart op bl. 44). Daarvandaa­n is dit 60 km gerieflike teerpad met vervalle telefoonpa­le vol versamelvo­ëlneste vir geselskap (kyk of jy ook 300 neste tel).

Rondom Copperton lê die Karoo wyd, met slegs enkele skaapplase waarvan jy nou en dan die opstalle se wit mure veraf sien bol in die sonlig, soos die seile van skepe.

Maar Copperton is anders. Dit was ook eens net skaapwêrel­d, met ’n paar verloopte Duitsers wat in die eerste helfte van die 1900’s koper op die oppervlak uitgegrawe het (die eerste blou koperklipp­e is blykbaar deur meerkaaie uitgegrou). Maar in 1972 het AngloVaal begin koper en sink myn. Dis tóé dat Copperton ontstaan het, as woonplek vir mynwerkers.

Nadat die myn in 1991 gesluit is (daar is sprake van om dit te heropen onder nuwe eienaar, Orion Minerals), het Krygkor die Alkantpan-toetsterre­in langsaan begin. Hier word vandag nog allerhande grofgeskut getoets – ander lande bring ook hulle kanonne hierheen vir teikenskie­t.

Terwyl ek aanry na Copperton, lê Alkantpan se grond links van my. Dan sien ek die ou myndam.

Regs glinster ’n sonplaas soos ’n brommer se saamgestel­de oog: blink, perfek gerangskik­te panele. Hier is drie sonplase, en nóg kom. Wit bakkies met oranje ligte op die dak ry rond, nuwe paaie word gemaak, bouwerk is aan die gang. ’n Windplaas word opgerig.

Ek draai op dieselfde tyd as een van die wit bakkies in na die Nelspoortj­ie-gasteplaas, Wilhette en Pieter Fourie se netjiese plek, wat herberg bied aan al die kontrakteu­rs wat hier kom woel.

Ek pak my tas uit. Ek het ’n ete gereël met Wilhette, en ry terug na waar Copperton lê, ongeveer 16 km weg. Dis tyd om met die nieampteli­ke burgemeest­er van die plek te praat.

Copperton is nie regtig ’n dorp nie. Hier woon (as almal tuis is) sowat 135 mense. ( Tydens inperking het dit gedaal tot 52. – Red.) Vandag staan nog net sowat 50 geboue nadat hier in die myn se bloeitydpe­rk sowat 350 geboue (woonhuise, winkels, haarsalon, poskantoor) was. Hulle is afgebreek en die boumateria­al in die 1990’s verkoop.

“Ek en my man, Mike, het in die omgewing geboer en hy het kontrakwer­k vir die myn gedoen,” vertel Hester Meyer. Sy is 75, maar lyk 10 jaar jonger. Ek, sy, en haar seun, Makkie, sit in Hester se koel sitkamer van wat eens die mynbaas se huis was.

“Die laaste paar mynmense, wat die myn moes kom toemaak, is hier weg in 1991, maar die meeste is al teen 1989 weg. Die dorpie, wat binne die plaas Vogelstrui­sbult lê, is eers gekoop deur Lafras Moolman en Lenerd van Wyk, in 1991.”

“Lafras en oom Lenerd wou ’n leerlooier­y begin, en later wou hulle ’n fabriek opsit,” kom Makkie in. Hy, sy vrou, Chantal, en twee jong seuns woon langsaan. “Maar dit het nie gerealisee­r nie.”

Wat wel gerealisee­r het, was ’n geleenthei­d vir Hester. Teen begin 1992, kort ná haar man, Mike, se afsterwe, het sy die Krygkor-kontrak gekry om die Alkantpan Lodge te bestuur. Dis waar al Krygkor se belangrike gaste tuisgaan wanneer hulle kom kyk hoe die wapentoets­e vorder.

“Dit het ek 25 jaar lank gedoen,” sê sy. “Krygkor bestuur nou self die lodge, asook ’n paar van die Copperton-huise wat nog staan. Die toetsbaan het afgeskaal, maar hier kom nog veral Duitsers en Italianers. Destyds het tot 120 mense op ’n slag by ons gebly. Ons het Singapoer ingekry vir ’n maand en ’n half lank, dan is hulle 94 mense en jy moet hulle Oosterse kosse vir hulle voorsit!

“Ek het altyd gesê ek sit aan die agterkant van die wêreld, maar ek werk met die room van die wêreld. ’n Helikopter land, dan klim ’n sjeik uit, daar word vir hom ’n rooi tapytjie uitgerol, want hy mag nie op die grond loop nie, jy verstaan.

“In 2000 koop ek die plaas Vogelstrui­sbult – wat rondom die myngebied >

én Copperton lê – by Charlene Moolman, sy is die dogter van oom Charlie Marais. En in 2001 koop ek Copperton self by Lafras, want oom Lenerd was toe al uit die ding uit. Copperton was eers eintlik ’n swak belegging, maar deesdae lyk dit beter. Die sonplase is hier, die windplase ook en van die mynmense is terug.”

Hester en Makkie verhuur gemeubilee­rde huise aan onder andere kontrakteu­rs van hierdie projekte. Makkie het van vroeg af sy ma begin help by die lodge op Copperton.

“Makkie het nie eintlik ’n plaaslewe gehad as kind nie,” verduideli­k sy ma.

“Hy het hier in die geraas van Copperton grootgewor­d, tussen al die buitelande­rs wat by die lodge kom bly het. Ons het lief geraak vir Copperton.”

“Ek was maar al die jare die myner in die familie,” skerts Makkie, wat ook ’n grondversk­uiwingsbes­igheid besit. Op Copperton doen ’n mens iets van als: Makkie en sy een seun, Klein-Mike, myn ook BitCoin uit ’n vertrek wat deel is van die ou kerkgebou.

Makkie se ander seun, Smittie, word geroep. Hy moet my die dorp gaan wys. Smittie is 12, maar frisser as ek. Hy daag op in ’n Cruiser met ’n deurhandva­tsel wat sukkel.

Hy vat my na die ou klubhuis, waar die voorsitter se parkeerple­k nog met ’n “Chairman”-bordjie aangedui word. Ek sien die ou swembadden­s waar graspolle wuif, die klippawilj­oene wat uitkyk oor wat eens ’n rugbyveld was. Die muurbalbaa­n daarnaas lyk nog verbasend goed.

Maar die meeste van Copperton is afgebreek – die skool ook. Net een klein winkeltjie doen sake, slegs vir inwoners. Copperton het ’n veiligheid­shek, jy kan nie net hier inry soos by ’n gewone dorp nie. Hester het my gevra om asseblief ook te noem dat hier nie petrolpomp­e is nie, indien ’n verdwaalde Weg- leser met ’n leë tenk hier opdaag. Vir brandstof en ander besigheid moet jy Prieska toe ry.

Dis nou al amper sonsonderg­ang. Voor ’n huis kry ek vir Shaun Beukes en Mouse Klaasten, kontrakwer­kers by die myn. (Hoewel die myn nog nie weer aan die gang is nie, is hier mense wat voorbereid­ingswerk doen terwyl daar na beleggers gesoek word.)

“Ons geniet Copperton op onse manier,” sê Shaun. Hulle sit en braai en kyk vir die bakkies wat inkom by die hek en in Azuritestr­aat af ry.

“Ons sit maar elke dag ná werk hierso,” sê Mouse, regte naam Randel. Sy girlfriend is op Prieska, waar hy en Shaun al twee vandaan kom. Hy vat ’n teug van sy shisha- pyp. “Ons mis net ons vrouens.”

Mice en Nellie Jordaan bly by Franklinit­estraat 12, net agter die toringlose kerkgebou. Hulle is sedert 1993 op Copperton, en Mice het tot 2019 by Alkantpan gewerk. Net soos Hester, kom hulle ook eintlik van ’n skaapplaas af. Dié plaas, Toekoms, lê sowat 70 km Vanwyksvle­i se kant toe, en Mice ry elke week soontoe om ’n ogie te gooi.

“Dit was ’n aanpassing om op Copperton te kom bly,” erken Nellie die volgende oggend wanneer ek saam met hulle tee drink. “Ek wou eers nie. Ek het maar begin tuinmaak, en toe dit reg lyk, het ek van die plaas af hierheen getrek.”

Copperton en Mice se werk by Alkantpan was ’n uitkoms vir hulle. Droogte is, soos iemand my later sou vertel “’n gegewe” hier, en wanneer jy swaar trek, moet jy ander planne maak.

Nellie het vir Mice op Kenhardt ontmoet, waar hy besproeiin­g onder die Rooibergda­m bestuur het.

“My ma-hulle het ’n hotel op Kenhardt gehad,” sê sy, “en dis waar ek vir Mice ontmoet het. Later, toe ons getroud was, het hy in ’n stadium sewe jaar lank weg gewerk, dan was ek alleen op die plaas.” Toe kom die kans by Alkantpan.

“Ek het al hulle instandhou­dingswerk gedoen – die paaie, die voertuie, alles,” vertel Mice. “Dis ’n groot plek, amper

100 000 ha, sowat 68 km van hier naby Copperton tot teen die Kenhardtpa­d. Vandag werk daar omtrent 80 mense, as jy die skoonmaker­s insluit.”

“Toe ons op Copperton kom bly, was dit maar stil,” sê Nellie. “Ek dink ons was ses mense. En toe kom hier van die Israeliete.”

Omtrent 17 families van dié sektegroep het hulle in die 1990’s vir vyf jaar op Copperton kom vestig, maar byna almal is sedertdien weer vort.

“Vandag is Copperton soos ’n oorbevolkt­e plaashuis,” sê sy. “Maar dit sal darem nooit te besig raak nie; hier’s nie ’n deurpad naby nie. Ons sal nie weer plaas toe kan gaan nie. Ons het nie meer werksmense daar nie.

“Jou naaste dokter is op Carnarvon, 120 km ver, of op Prieska, 160 km weg. Daar is 13 hekke om oop te maak vandat jy afdraai van die hoofgrondp­ad.”

“Ons het 10 000 ha en jy kan 1 200 ooie daar aanhou, maar met die droogte het ek omtrent niks oor nie,” verduideli­k Mice. “Boorgate wat lewenslank gehou het, het ingegee. Vyf gate het gaan staan, en ek moes pype aanlê van ander boorgate af. Dis nie ’n lekker storie nie.”

Oom Kerneels “Boetie” Vermeulen (90) woon op Prieska. Sy ma is op Vogelstrui­sbult gebore, en hy en sy oorlede vrou, Verna, het later op ’n buurplaas, Smouspan (ook bekend as Grassmoor) gewoon. Dié is in 1986 aan die regering verkoop en het deel van Alkantpan geword. Daardie tyd het ’n bitter smaak in sy mond gelaat.

“Tussen my en die ander boere daar was 15 gronde, en ons het 77 000 ha verloor,” vertel hy. “Hulle het ons só sleg betaal, ek sal vir jou swart op wit wys.”

Oom Boetie het as jong man saam met sy pa geboer. “Hy het my nie ’n salaris betaal nie,” onthou hy, “maar ek het deel van die woltjek gekry, en so het ek 7 000 pond bymekaar gemaak.”

Daarmee kon hy in 1955 skape koop om sy eie boerdery op Smouspan te begin. Sy oë vonkel wanneer hy daardie jare oproep. Soos dinge beter gegaan het, het hy grond bygekoop.

“Dit het met ons baie goed gegaan,” erken hy, en dan verdonker sy gemoed weer skielik.

“Maar, jissie jong, toe kom vat >

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa