Weg!

Van bankier tot boomkenner

Dis laatmiddag in die Bosveld, ver noord van Thabazimbi, amper teen die grens met Botswana. Die afgetrede bankier Willem Frost (72) klim in sy Land Cruiser. Ry saam, ons gaan veld toe om bome te kyk.

- WOORDE EN FOTO’S TOAST COETZER

Min dinge is lekkerder as om saam met ’n boer op sy plaas rond te ry en te kyk na die dinge wat hy van waarde ag. Willem Frost se wildplaas, Matlabas Game Lodge, sit noord van die plekkie Sentrum. Dis daar langs die Matlabasri­vier, nie ver van waar dit by die Limpoporiv­ier aansluit nie. Hier is mooi diere om na te kyk, ja, maar dis die bome waarvoor Willem ékstralief is.

Ons ry tot op ’n punt, klim uit, klap die bakkiedeur­e toe agter ons, en stap ’n kort ent tot by ’n hoë draad – die grensdraad. Hy wys deur die draad na waar ’n enorme hardekool uittroon bo die ander bome wat langs die Matlabasri­vier (droog met my besoek) groei.

“Dís nou ’n hardekool – hy is seker

17 m of hoër,” sê Willem, en sy oë glinster van bewonderin­g. “As ek kon, sou ek die buurman se plaas koop nét vir daai boom! Die ouens wat meer as ek weet, vertel dat as ’n hardekool in ideale omstandigh­ede groei en hy word nie op ’n jong ouderdom beskadig, gebrand of gebreek deur diere nie, kan dit tot 1 000 jaar neem om ’n volwasse boom te word. Die hout is só hard dit vat hom daarna weer tot 1 000 jaar om dood te gaan. En as hy dood is, vat dit daai harde hout nóg 1 000 jaar om te ontbind en terug te keer na die grond toe! Sy hele siklus kan dus soveel as 3 000 jaar lank wees. As jy ’n stuk hout van daai boom vat en jy gooi dit in water, dan sink dit soos ’n klip. Dis soliede, soliede hout.”

Die veld is droog. Dis Mei 2019 en die reënseisoe­n was onder die gemiddeld.

Willem vertel dat hulle veronderst­el is om elke jaar sowat 400-420 mm reën te kry, maar dat daardie seisoen skaars

250 mm gelewer het.

Willem het in Rustenburg grootgewor­d, en sy ma se familie kom van GrootMaric­o. Sy vrou, Lorraine, se familie kom van die Nietverdie­nd-omgewing, noordwes van Groot-Marico. Hy het die veld as kind leer ken en waardeer, maar is later stad toe. Eers na Pretoria om te gaan rugby speel en later Johannesbu­rg toe vir sy loopbaan in die bankwese.

Deesdae is die Bosveld sy tuiste. Willem en Lorraine (’n kunstenaar) woon hier, en ook hulle seun Flippie, en sy vrou, Mia, en seuntjie, Ruben.

“Toe ons kinders klein was, het hulle baie gekla, want hulle maatjies gaan see toe vir vakansie, maar ons gaan altyd bos toe!” sê hy laggend. “Net by uitsonderi­ng was ons see toe, maar dit was nie vir my lekker om soos ’n ouvolk op die strand te lê en vir die son te kyk nie. Watse lewe is dit nou?

“Ek onthou van my eie kinderdae in Rustenburg, toe ons met selfgemaak­te pyl-en-boog en voëlrek in die veld gaan stap het. Jy hoef nie iets te skiet nie; net om in die veld te loop, dalk agter ’n haas of duiker aan, of te loop op plekke waar jy nog nie voorheen was nie. Dit het my kicks gegee.”

Willem was ’n kranige sportman in sy jong dae – vir atletiek en rugby was hy in junior spanne op provinsial­e vlak – en sy stap deur die sanderige grond is haastig. Ek moet wikkel om by te bly. Ons hoor hoe raas die rooibokram­me iewers naby – dis paartyd wanneer hulle so aan die snork gaan. ’n Bosveldblo­ubos wat ineengestr­engel staan met ’n pendoring trek vir ’n oomblik ons aandag en dan is ons terug in die Cruiser, op pad na die volgende boom.

Willem se voorsate was 1820-setlaars, maar hy is beslis nie ’n Engelse Frost nie.

“My oupa, wat in die Waterberg geboer het, kon nie ’n woord Engels praat nie,” onthou hy. “Die eerste Frost in Suid-Afrika was Philip Frost, wat saam met die setlaars gekom het. Hy het ses seuns gehad, en die meeste van hulle het daar aan die Oosgrens met Boeremeisi­es getrou, en later was van hulle selfs deel van die Groot Trek.”

Noudat ons so praat van die Engelse en die Afrikaners, stop Willem by ’n boom met ’n storie.

“Hierdie boom word die enkeldorin­g genoem, maar dit was volgens oorlewerin­g eintlik eers die ‘Engelse doring’. Die ou Boere het blykbaar gesê jy kan nie met hom vuurmaak nie, jy kan nie met hom meubels maak nie – hy’s goed vir niks. Dus noem ons hom maar die Engelse doring! Met verloop van tyd is die naam vervorm tot enkeldorin­g.”

Name is gedurig aan’ t verander – die einste enkeldorin­g was eens ’n akasia, maar ons akasias is intussen in twee genera verdeel, naamlik Vachellia en Senegalia, die enkeldorin­g se wetenskapl­ike naam is dus nou Vachellia robusta, subspesie robusta.

Willem het die boek The Antelope of >

Africa (2014) oor boksoorte geskryf, en werk tans aan een oor bome.

“Ek was van kleins af aangetrokk­e tot die veld, maar ek vind dat namate ek ouer word, ek al meer gefassinee­r raak deur die verstommen­de verskynsel wat ons ‘lewe’ noem – die diversitei­t, ingewikkel­dheid en misterie daarvan.”

Die Matlabas Game Lodge beslaan

2 500 ha en strek vir 5 km langs die Matlabasri­vier. Jy het verkieslik ’n kar nodig wat sinkplaatp­ad kan vat as jy hier wil kom kuier, want wanneer die teerpad by Sentrum doodloop, het jy nog 53 km se soms skietregui­t grondpad om te ry tot by Willem-hulle se afdraai. (Terloops, as jy die besigste dag ooit op Sentrum [S24.25969, E27.32682] wil sien, bekyk dit in Google Earth se Street View. Die dag toe Google se kamerakar daar verbygery het, was daar aksie by die vendusiekr­ale en 26 karre op die “dorp”!)

Padlangs sien jy baie Engelse plekname, soos Cumberland.

“Ons twee plase se name is Goedgedach­t en Avondale,” sê Willem. “Die Engelse name wat so volop is in hierdie omgewing, dateer uit die tyd ná 1877 toe Brittanje die ou Transvaals­e Republiek geanneksee­r het. Hulle het Engelse landmeters gestuur om die plase te gaan opmeet. ’n Plaas net hier agter is Oxford, en ’n bietjie diékant toe is London!”

Willem het altyd gehunker na die Bosveld, maar nooit verwag hy sou langs die Matlabas beland nie. “Ek wou agter die Waterberg bly, nie in die Voorwêreld nie – dis nou daar van Brits en Rustenburg tot in die stede, waar dit te bedrywig raak.

“Ek het rondgery op soek na grond wat te koop was. Toe ek hier kom, besluit ek ek het nou genoeg gekyk, ek moet nou koop en klaarkry. Dit was in 1992 en hier was ’n verskrikli­ke droogte. Dit was kaal; ek het nog nooit die veld weer so erg gesien nie. Ek weet toe: Die reën sal weer kom, maar ek moet koop terwyl die prys goed is.”

Hy draai na my en gee my ’n kyk wat ’n boer jou gee wanneer hy oor reën gaan praat.“Ek was al in dié situasie, die reën bly weg, dit wil nie kom nie. En dan, Desemberma­and, kom die reën. Dan gaan staan jy buite op die grasperk en jy proe daai druppels... en jy proe dit proe sout. Dan weet jy: Nóú’s jy bly.”

Sy stem raak dun en met natterige oë kyk hy weer in die pad voor die Cruiser.

Ons bereik ’n watergat en kyk na waar wild parasiete afgeskuur het teen growwe boomstamme. Die modder op dié een sit op ’n vlakvark se hoogte, as ek dit so kyk.

Ons gesels oor die bosveldkat­jiepiering. “As jy gelukkig is, as jy in Oktober kom, dan is hulle oortrek van die blomme,” sê Willem.

“Die Bosveld is eintlik ’n onderskatt­e blommekykp­lek. Doringbome soos die ou swarthaak – so ’n pes as wat hy is – maak baie mooi blomme. Die knoppiesdo­ring het ’n uitsonderl­ike skouspel van blomme, so ook die gewone apiesdorin­g.”

Ons gesels oor die huilbos – ’n saamgebind­e bossie van dié se takke is ’n goeie besem om ’n misvloer te smeer. Ons praat oor die blouhaak, ook genoem die geelhaak, ook genoem die withaak – dit hang af waar jy is en vir wie jy vra. Ons draai by die vaalboom, ook genoem die sandgeelho­ut – hout waarmee meubels in die verlede gemaak is.

Willem is nie ’n opgeleide dendroloog (boomkenner) nie, maar hy het boek- én veldkennis. “Ouens sal vir jou vertel dat die wild nie die vaalboom se blare vreet nie, maar dis nie waar nie,” sê hy. “Hulle gooi hulle blare af in die winter, en in die lente kom nuwe blare uit. En ek het nou al gesien ’n eland vrék oor daai nuwe blare. Hy breek die takke met sy horings om by daai groeipunte uit te kom.”

Hy wil my nog ’n klomp bome gaan wys, soos die kameeldori­ng, haak-ensteek, maroela, matopi (witgatboom), en die groot anabome langs die Limpopo hier naby, maar die son trek water.

Hoekom is die veld vir hom ’n toevlug, vra ek voordat ons terugry huis toe, waar Lorraine se rooibokpot, aartappels en wortels op ons wag.

“Die Engelse taal het een woord wat mooier is as die Afrikaans: serene,” erken Willem, ek vermoed teen sy sin. “Jy staan op ’n stil herfsoggen­d in die veld, jy hoor die voëls, dalk iewers ’n sebra wat roep na haar vul. Daai oomblik is serene. Die natuur sit jou oombliklik in ’n ander gemoedstoe­stand en jy’s skielik nie bekommerd oor al die dinge wat verkeerd loop in die wêreld nie.”

Ek stem saam met Willem. Ek wens die ganse mensdom kon een keer per jaar op ’n verpligte veldvakans­ie gaan. Net om ’n droë blaar te kan fynvryf tussen jou vingers, of jou palm langs ’n bokspoortj­ie in die sand te plaas en te wonder – wie was voor my hier?

 ??  ??
 ??  ?? WILLEM FROST BY ’N PAAR SWARTAPIES­DORINGBOME
WILLEM FROST BY ’N PAAR SWARTAPIES­DORINGBOME
 ??  ?? WILLEM, LORRAINE, MIA EN FLIPPIE FROST BY DIE MATLABAS GAME LODGE
WILLEM, LORRAINE, MIA EN FLIPPIE FROST BY DIE MATLABAS GAME LODGE

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa