Weg!

LESER VERTEL

-

Die leser Sunel Botha en haar vriende pak ’n avontuur op die grens tussen Uganda en die Demokratie­se Republiek van die Kongo aan wanneer hulle tot bo-op Weismann se Piek in die Rwenzoribe­rgreeks klim.

Op soek na avontuur? Die Rwenzoribe­rgreeks op die grens tussen Uganda

en die Demokratie­se Republiek van die Kongo bied oorgenoeg hiervan. Sunel Botha en haar vriende klim vyf dae lank tot bo-op Weismann se Piek.

Ons was so opgewonde soos vyf skoolmeisi­es toe die vliegtuig op 14 Desember verlede jaar by Uganda se Entebbe- internasio­nale lughawe land. Dié opwinding word egter effens gedemp deur die lughawe se Wi-Fi wat nie werk nie en ons hotel se bussie wat nêrens te sien is nie... Uiteindeli­k by die hotel hoor ons ons moet laat weet wanneer ons wil stort, want die geiser moet ’n uur voor die tyd aangeskake­l word.

Almal was egter vriendelik en die volgende oggend smul ons aan vars vrugte, effe soet brood en lekker plaaslike tee. (Laasgenoem­de word gou ’n gunsteling – en ons familieled­e sou dié Kersfees almal ’n boksie Ugandese tee onder die boom kry!)

Ons besluit om openbare vervoer te vermy (die busdiens se webwerf is in 2009 laas bygewerk en ons wou nie die kans waag met ’n bus wat dalk nie op tyd vertrek nie). Ons bespreek private vervoer na ons bestemming, die Rwenzoribe­rg in die weste van die land.

Die 409 km van Entebbe na die dorpie Kilembe duur tien uur. Die tien uur is só vol stampe dat ons slimhorlos­ies elkeen 10 000 “treë” opneem (jammer, Discovery Vitality.)

Ons ry deur woelige dorpies waar jy langs die pad enigiets van ’n bed en ’n (lewendige)

hoender tot koffiebone, loodgieter-toebehore of ’n horlosie kan koop. Oral vleg boda-bodas (motorfiets­taxi’s) deur die verkeer, soms met tot vyf passasiers agterop!

Op Fort Portal, die laaste groot dorp voor die berg, sit ons aan vir middagete by die Gardens Restaurant. Ons betaal elk R80 (20 000 Ugandasjie­lings) vir elkeen: Borde vol chapati-platbrood, piesangbla­ar-pikantesou­s, “fried Irish” (aartappel), kassawe (dit lyk soos patat, maar is nie soet nie), meelpiesan­g (’n smaaklose piesang wat fyngemaak en amper soos kapokaarta­ppels geëet word) en ’n verskeiden­heid vleiserige bredies. Als kort ’n bietjie sout, maar ons skep meer as een keer!

Ná middagete neem grondpaaie ons geleidelik al hoe dieper die voetheuwel­s van die Rwenzoribe­rg in, en tot by die beginpunt van ’n onvergeetl­ike staproete tot by Weismann se Piek, 4 620 m bo seevlak.

Ons slaap by die Rwenzori Backpacker­s op Kilembe en op die agenda is ’n kort inligtings­essie oor wat vir ons voorlê, waterstewe­ls aanpas, ons laaste warm stort vir ’n wyle, en hopelik ’n laaste goeie nagrus.

Die volgende oggend vertrek ons effens later as beplan, want daar’s nog ’n laaste gesukkel om reënsambre­le, ’n geskenk van die toeroperat­eurs, en middagetep­akkies in ons dagsakke te prop.

Maar nou ja, begin álle staptogte nie maar ’n bietjie holdersteb­older nie?

Ons stapgroep bestaan uit 20 mense: Ons is 5, dan 3 gidse, 5 rugsakport­iere en nog 7 portiere wat ekstra kos en gereedskap dra. Dis omtrent ’n parade toe ons in Kilembe se hoofstraat­jie afstap. Die gidse en portiere koop vir oulaas versnaperi­nge by winkels, asook lugtyd vir selfone, groet hulle geliefdes en vertaal vir ons grappies en groetwoord­e van omstanders wanneer ons “verward” lyk. Dan stap ons die nasionale park binne.

Eensklaps vou ’n groen tonnel om ons toe. Die humiditeit is hoog – jy voel dit in jou longe wanneer jy inasem, en op jou vel. Die eerste druppels val binne ’n paar honderd meter – ons stap immers in ’n reënwoud!

Ons stop gou om waterweren­de klere aan te trek en is dankbaar vir die sambrele. Al plonsend stap ons verder tot by ’n lieflike – dog klam – middagetep­lekkie wat uitkyk oor die valleie waardeur ons die oggend gestap het. Ná middagete klim ons ’n steilte uit, en word beloon met ’n mooi waterval. Dis net enkele meter van ons oornaghut, Sine Camp (2 596 m), af, waar ’n pot warm Ugandese tee wag.

Later verorber ons borde met bredie en groente en rys, en skerts saam met ons gidse, Rasto, Hunnington en Joy. >

is, maar minder lekker wanneer jy teen ’n berg moet uitswoeg in lug wat met elke tree ál dunner word. Ons lyk soos ’n troppie baba-olifante wat nog leer hoe om te loop terwyl ons oor die moerasagti­ge terrein aanstrompe­l. By ’n ravyn naby ons oornaghut rus ons eers – en rol ons oë vir mekaar se lompheid. Die portiere is natuurlik gewoond hieraan en laat die “modderdans” lyk soos Mariinsky-ballerinas in ’n uitvoering van Swanemeer.

Hierna stap ons deur ’n grasvlakte en sien die eerste keer Bugata Camp (4 062 m) – maar voor ons daar kom, reën ons vir oulaas nat. Die laaste strooi ná ’n reeds uitdagende dag!

Dis maar stillerig toe ons later aan dik toebroodji­es kou by die kamp, maar ons geniet tog die mooi sonsonderg­ang oor ’n meer naby die staphut. In die verte sien ons Weismann se Piek. Die opwinding – én senuwees – is nou tasbaar...

Vandag takel ons die piek. Die majestueus­e silhoeëtte van die pieke van die Rwenzori’s – ook bekend as Mountains of the Moon – troon in die vroegoggen­dlig rondom ons uit.

Die storie loop dat in antieke tye ’n Griekse handelaar aangevoer het hy die bron van die Nylrivier opgespoor het, glo hoog in sneeubedek­te berge in Oos-Afrika. Dié legendarie­se bergreeks is “Mountains of the Moon” gedoop. Kenners meen die Rwenzori’s was waarskynli­k die oorsprong van die legende.

Vandag vertel die Ugandese ’n ander storie. Die naam het eerder te make met die natuurlike skoonheid van die berg wat op sy beste vertoon op wolklose nagte wanneer die berge gebaai staan in die lig van die maan. Dit klink vir my na die beste verduideli­king.

Ons begin klim deur ’n ravyn terwyl die son op ons skyn. Hier groei volop reuse-lobelias. Dié plant kom net voor in die berge in Oos-Afrika. Ons stap, rus, en drink water – dít word die dag se mantra, want só hoog bo seespieël is elke tree wat jy gee inspanning.

Ons stap oor ’n rotsagtige deel. Wes van ons – in die rigting van die Demokratie­se Republiek van die Kongo – sien ons Margherita­piek op Berg Stanley, die hoogste punt van die Rwenzori’s teen 5 109 m.

Stap, rus, drink water. Elke slag stap ons ’n bietjie stadiger en rus ’n bietjie langer... Die gidse hou vol dat ons “amper daar” is.

Vir die laaste treë tot by die baken op Weismann se Piek voel dit asof ons in stadige aksie beweeg. Bo gekom is ons klompie skoon emosioneel – ons het dit gemaak! Die wind gaan lê 45 minute lank én die mis trek oop sodat ons die uitsig kan geniet.

Dis minder romanties op pad terug deur die modder tot by die Kiharo Camp. Ons kom eers ná sonsonderg­ang daar aan – vir die eerste keer verdeel ons groepie in twee, met ’n paar mense wat effens stadiger stap. Maar uiteindeli­k kan niks ons geesdrif demp nie – Weismann se Piek is die hoogste berg wat enigeen van ons nog geklim het!

Dis ons laaste dag op die berg, en ons beweeg op ’n drafstap bergaf. Nou is daar tyd vir grappies maak in die modder en langer talm om al die ongewone plante te bewonder. Ná middagete langs ’n stroom volg ’n afdraande wat die knieë en tone kou, maar hoe nader ons aan die vooruitsig van ’n warm stort en ’n koue Lionbier kom, hoe makliker is die stap.

By die eindpunt ontvang ons ons sertifikat­e en poseer met sweterige lywe vir foto’s – en groet ons wonderlike ondersteun­ingspan van Rwenzori Trekking Services.

Die volgende oggend ry ons om 4.30 vm. en kom betyds in Entebbe aan om die sagte ligspel van die ekwatorial­e sonsonderg­ang oor die Victoriame­er te geniet – met ’n glasie Uganda Waragi, ’n plaaslike jenewer, in die hand! Tjeers!

Met bydraes deur Sonia Kotzé, Leana Spies, Marli du Plessis en Geneke du Plessis.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa