Weg!

GELD

-

Die meeste van die blyplekke se pryse is in pula. Randkoste kan dus afhang van die wisselkoer­s. Tussen Maun en Kasane is daar nie winkelsent­rums nie, maar bring genoeg kontant saam vir parktariew­e en ander dinge.

Die man wat hout langs die pad verkoop, het nie ’n kaartmasji­en nie. Teen druktyd was P1 = R1,50.

Gepraat van hout; pak genoeg hout op jou dakrak voordat jy ’n park binnery. Sommige van die kampplekke binne die parke sal hout te koop hê, maar jy gaan tot vier keer meer betaal. Jy mag nie hout in die veld optel nie.

Moenie dat dorpies soos Khwai, Mababe en Kavimba op ’n kaart jou flous nie; die eerste vulstasie nadat jy uit Maun ry, is die Puma-vulstasie naby Muchenje. Vat vier tot agt jerrykanne saam sodat jy nie net genoeg brandstof het om van punt A na punt B te ry nie, maar ook wild kan gaan soek.

Net soos brandstof gaan jy nie plek langs die pad kry om kos te koop nie. Maak op Maun seker jy het genoeg om te eet vir die res van jou toer. Wees versigtig met vars vrugte rondom jou kampplek; olifante sal dit kom gaps.

Selfs met ’n Botswana-SIM-kaart gaan jy geen ontvangs in die parke hê nie. Die parke is nie só verlate dat jy ’n week moet wag vir iemand om jou te vind as jy iewers vasgesit het nie, maar huur ’n satellietf­oon as jy bekommerd is daaroor. Kontak Louis Milne by Swampland Safaris. Jy kan die foon op Maun kry en op Kasane inhandig. Jy kan Louis ook in ’n noodgeval bel. 00 267 71 23 4300; swampland-safari.com

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa