GARETH PINNOCK
Canon EOS 80D Tamron 150-400 mm-lens
GARETH SKRYF: Ek is van Johannesburg en het dié foto in die Dinokeng-wildreservaat geneem.
Die digte gras aan weerskante van die pad het geen uitkomkans vir die arme volstruisies gebied nie. Ek het hulle vir ’n kilometer of twee gevolg en ’n goeie volgafstand handhaaf, maar Ma en Pa het my goed dopgehou. Ek het maar my zoemlens ingespan.
TOAST SÊ: Dis oulik! Volstruiskuikens is so onweerstaanbaar soos bobbejaanbabas en klein vlakvarkies. Ag wat, alle dierebabas is oulik!
Gareth kon uit ’n lae hoek skiet en die kuikens kon mooi teen die agtergrond uitstaan. Fokus was natuurlik ’n probleem, maar dit help dat die kuikens die naaste aan die lens in fokus is. ’n Bonus is dat een van die kuikens wat in fokus is, na die kant kyk – soos die een hier voor links... ’n Mens sien dus die kuiken in profiel, en nie net die agterkant van sy kop nie.
Ek hou van die vorms van die kuikens, en hulle skadu’s op die grond. Dit verskaf ’n patroon in die foto wat, as ek reg tel, sewe keer herhaal word.
Goeie werk, Gareth!
>