Weg!

H

-

ier kreun die aarde van die dors, en die mense is taaier as Wilson-toffies. Maltahöhe se hoogtepunt­e behels: ’n Bier kap by die hotel, ’n week oue broodjie by die kafee koop, ’n paar sokkies by Pep Stores aanskaf, en bevrore aartappels­laai en ’n bos uitjies by Die Pappot trek.

Maar ek is nie op Maltahöhe vir enige van dié aktiwiteit­e nie (hoewel ek nooit die dorp sonder Die Pappot se aartappels­laai verlaat nie). Ek is op pad na my broer-hulle op die Neuras Wine and Wildlife Estate. Dis een van die droogste wynplase ter wêreld. ’n Mens moet deur Maltahöhe ry om daar uit te kom. Hiervandaa­n na Neuras moet jy seker maak jou kunstande is vasgegom, want die pad is skurf.

Ek besit ongelukkig nie ’n motor wat dié grondpaaie kan baasraak nie. Ek ry dus tot op Maltahöhe en dan kom haal Boetman my met sy bakkie. Dié is ruim genoeg vir ’n grootdoopp­legtigheid én al die gaste. Dis ’n Cruiser met enorme bande en tronktrali­es.

Een van die dinge wat ek altyd op Maltahöhe doen, is om by oom Sout en tannie Miems te kuier. Ek sê kuier, maar dis meer ’n inloersitu­asie. My kar staan altyd onder hulle afdak vir die tydperk van my plaasbesoe­k. Hier brand die son enige ding stukkend, en daar sal net ’n uitlaatpyp oorbly as die kar in die straat moet staan. As beloning bring my broer vir hulle ’n slagding en skaapstert­vet vir worsmaak wanneer ek my kar weer kom haal.

Platter op die aarde as Miems en Sout gaan jy nie kry nie. Hulle is tevrede met al hulle niks. Of die bietjie wat hulle besit, wat in ’n groterige jacuzzi sal pas.

Hulle woon in een van die oudste huise op Maltahöhe, direk langs die munisipale swembad (dis dolleeg – die dorp se enigste rebel ry naweke skaatsplan­k in die diepkant). Die huis lyk asof dit die kaartjiesk­antoor op ’n sirkusterr­ein kan wees.

Dis klein, boksagtig en bloedrooi met net twee vierkantig­e vensters wat op die straat uitkyk.

Ek onthou my broer het iewers genoem dat oom Sout sy bynaam sonder enige bybedoelin­gs gekry het, en Miems was destyds een van Namibië se voorste sangers en het amper ’n duet saam met Patricia Lewis opgeneem. Buiten dit weet ek nie veel meer nie.

Ons besoek duur gewoonlik sowat sewe minute. Ons rook ’n sigaret en dan gly ons. Die plaas lê anderkant die blouberge.

Verlede Dinsdag daag ons daar op. Die Namibiese president het pas aangekondi­g ons gaan vir 21 dae gehok word. Die virus ruk handuit. Besluit, het ek besluit: Gooi suid voordat hulle Windhoek se voorhekke sluit.

Laatson is ons by die kaartjiesk­antoor. Oudergewoo­nte maak oom Sout die hek oop en gil vir Miems binne sy moet die ketel aansit. Snaaks genoeg drink ons nooit enigiets nie. Dis seker die idee wat tel.

Ek ry my kar na agter tot langs die piesangboo­m. Laai my kamera, driepoot en ander goedjies oor in Grootdoop (my broer is gewoonlik voor my hier) en stap binne.

“Wat sê julle van die virus, Oom?” vra my broer nes ek die sit-slaap-eetkamer binnekom. Tannie Miems karring met ’n bol kameelbrui­n wol en twee pienk breipenne. Sy luister booor haar bril.

“Ai, ou seun,” antwoord oom Sout. “Dis nou ’n kwesskoot. As jy klaar op jou knieë is, kan jy nie lood in die kortrib bekostig nie. Dié een gaan ons seker laat val.”

Ek het ’n halwe sigaret oor.

“Nee, Pappa, ons gaan nie dat dié ding ons kom omkrap nie. A-nee-a!” Tannie Miems laat haar nie onderkry nie. “Oor twee maande kom Willem en Hanja se pienkvoet. Dan is ons Ouma en Oupa. Ons moet opgewonde daaroor wees.”

“Ek wou nog altyd Oupa gewees het,” erken oom Sout. “Geluk,” sê ek, “dis wonderlik!” My sigaret is klaar. Dis tyd. “Kom, laat ons in die pad val.”

Ons groet en ry. Net voor die Neuras Blik-pas val dit my by. “Ons het baie om oor dankbaar te wees,” sê ek vir my broer. “Virus en al. Ons kan darem veilig voel hier in die vlaktes. Ek hoop maar oom Sout en tannie Miems sal oukei wees. Die oumense se lywe kan nie daai virus handle nie.”

“Hulle gaan okei wees. Dis in elk geval te warm vir enige virus om hier te oorleef,” sê hy.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa