WegSleep Kampgids

KEN JY DIÉ PADGEBOOIE?

-

Jy’t in die laerskool al geleer jy moet stilhou by ’n rooi lig en ry as dit oorslaan na groen, maar daar is heelwat minder bekende – en soms vreemde – padreëls waarvan jy dalk nie weet nie.

KYK WAT SÊ DIE WETBOEK

Wat’s jou nommer? Die nommerplaa­t moet ordentlik vas wees aan jou kar, voor én agter. Daar is spesiale voorskrift­e vir voertuie wat ná Julie 2011 die eerste keer geregistre­er is. Boetes verskil van streek tot streek, maar jy kan rondom R500 verwag as een van die nommerplat­e skort. As jy sonder enige nommerplat­e ry, kan jy net daar in hegtenis geneem word. (Regulasie 35)

Lisensie links voor. Jy moet die lisensiesk­yf links onder op die voorruit plak sodat ’n mens dit maklik van buite die kar kan lees. Dit geld ook vir jou wa. As jou wa nie ’n “deursigtig­e voorruit” het nie, moet jy die skyfie links voor op die wa of op die A-raam aanbring waar dit opsigtelik is. As die skyfie dan blootgeste­l is aan die weerseleme­nte, moet dit in ’n weerdigte houer gesit word waar jy steeds die skrif daarop kan lees. (Regulasie 36) Gee terug, dis myne! Het jy geweet jy kan jou lisensiege­ld terugeis as jou voertuig gesteel word? Die jaarlikse bedrag wat jy betaal, word in 12 verdeel en jy kan die oorblywend­e maande se geld terugkry. (Regulasie 37) Net in die winkel. ’n Motorhande­laar mag nie ’n kar op sy perseel verkoop sonder dat dit in sy naam geregistre­er is as “handelaars­voorraad” nie. (Regulasie 53)

Gesondheid! Die owerhede mag jou rybewys en leerlingry­bewys ongeldig verklaar as jy onder meer aan ’n mediese toestand ly waar jy floutes kry weens byvoorbeel­d hoë bloeddruk. (Regulasie 101)

Van waar, Gehasi? Wanneer jy permanent van adres verander, moet jy die owerhede as rybewyshou­er binne twee weke daarvan in kennis stel. (Regulasie 113) Boonop is dit deesdae ook verpligten­d om bewys te lewer van jou adres wanneer jy jou rybewys hernu – vat dus maar daai munisipale rekening (nie ouer as drie maande nie) saam as jy gaan toustaan met jou tjekboek. (Regulasie 32A)

Gee pad voor! Die bestuurder­s van onder meer ’n brandweerw­a, reddingsvo­ertuig of ambulans asook ’n verkeersbe­ampte en polisiebea­mpte mag die spoedgrens en padverkeer­stekens oortree mits hulle besig is met die uitvoering van hulle taak en ook die veiligheid van die ander padgebruik­ers in ag neem. (Artikel 58 en 60)

Die tydelike en die ewige. Wanneer twee verkeerste­kens langs mekaar teenstrydi­g is, moet jy gehoor gee aan die instruksie van die tydelike teken. Dit gebeur dikwels by padwerk. (Regulasie 287)

Flikker, 1 001, flikker, 1 001... ’n Lig wat flikker langs die pad – soos die oranje lig om te waarsku dat daar padwerk voor is – moet tussen een en twee keer per sekonde flits. (Regulasie 287)

’n Ontnugtere­nde feit. As jy onder die invloed van drank is, mag jy nie in die bestuurder­sitplek van ’n voertuig sit terwyl die enjin aangeskake­l is nie – selfs al staan die kar stil. Jy mag ook nie weier dat wetstoepas­sers bloed trek óf nee sê vir ’n asemtoets nie. (Artikel 65)

Geen truuks. Jy mag nie enige toerusting in jou kar hê wat met spoedmetin­gstoestell­e inmeng nie.

(Regulasie 292)

Hô nou! ’n Goederevoe­rtuig van meer as 9 ton mag nie

80 km/h oorskry nie – dieselfde geld vir enige insleepvoe­rtuig wat

’n ander voertuig sleep. Busse en minibustax­i’s mag nie vinniger as 100 km/h ry nie. (Regulasie 293)

Help dadelik. As jy in ’n ongeluk betrokke is waarin iemand dood of beseer is óf enige eiendom (insluitend­e diere) beskadig word, móét jy dadelik stilhou en daarna die voorval aanmeld. As iemand beseer is, moet jy hulle sover moontlik binne jou vermoë bystaan. (Artikel 61)

Pa, kan ek die kar leen? Jy mag nie in

’n kar ry sonder die toestemmin­g van die eienaar nie, en die eienaar moet die adres en lisensiebe­sonderhede van die bestuurder hê as hy die kar uitleen. (Artikel 31 en Artikel 17 van die AARTO-wet)

Moenie MacGyver speel nie. Moenie dat jou buurman Swannie jou ’n gat in die kop praat oor sy “Piesangski­l MK 5”-apparaat wat motordiewe laat les opsê nie. Dis onwettig om jou kar toe te rus met enigiets wat die remme kan belemmer, al is dit ook om diefstal te bekamp. (Regulasie 149) Dieselfde geld vir toestelle wat die stuurstang ontkoppel. (Regulasie 200)

Maak lig. Jou kar se ligte moet heel wees – en in só ’n toestand dat dit permanent aangeskake­l kan bly. Tussen sononder en sonop moet jou kar se voor-, agter- en nommerplaa­tligte aangeskake­l wees. (Regulasie 157) Die kar se ligte moet ook van só ’n aard wees dat jy ’n mens van ’n gemiddelde hoogte 150 m ver kan sien. (Regulasie 158) Lig op die saak. Die nommerplaa­tlig moet werk en só skyn dat jy saans die skrif van 20 m af kan lees. (Regulasie 170) Knipoog. Wanneer net een van jou kar se voorligte werk, moet daardie lig die hoof- én dompstraal kan gooi. (Regulasie 159) Die hoofstraal moet ook só sterk wees dat die

bestuurder ’n mens voor

in die pad minstens 100 m ver kan sien. (Regulasie 160)

Geen flikker. As jou kar ouer ouer as 40 jaar is, het hy nie flikkerlig­te nodig nie. (Regulasie 193) As jou kar wel flikkerlig­te het, moet jy dit in daglig minstens 30 m ver kan sien. Voorste flikkerlig­te mag wit of geel skyn en die agterstes geel of rooi. (Regulasie 194)

Kan nie sien nie. Jou kar se voorruit moet minstens 70% lig deurlaat en die ander ruite minstens 35%. Materiaal wat jy op die glas aanbring om byvoorbeel­d sonlig uit te hou, mag nie lugborrels, skeure of skrape hê nie. (Regulasie 202)

Is dit ’n rookskerm? Jou kar mag nie in so ’n mate rook uitlaat dat dit ’n beslommern­is vir ander padgebruik­ers is of hulle sig belemmer nie. (Regulasie 209)

Agteruit, ook. As jou kar meer as 570 kg weeg, moet hy vorentoe én agtertoe kan ry. (Regulasie 211)

Geen staal. Jou kar mag nie “staalbande” hê nie – nee, jy mag dus nie op die rims ry nie – en motorfiets­e mag ook nie versoolde bande hê nie. (Regulasie 212)

Gordels aan. As jou sitplek ’n veiligheid­sgordel het, is jy verplig om dit aan te sit. Dis egter nie nodig as jy in trurat ry of parkeer nie. (Regulasie 213)

Waarsku mense. As jou kar onklaar raak op die pad of padskouer, moet jy minstens een waarskuwin­gsteken uitsit. Die teken – byvoorbeel­d ’n driehoek – moet verder as 45 m van die kar af wees, en die gesig daarvan moet na die aankomende verkeer wys. Dié regulasie geld nie as jy onder meer op ’n laaisone staan nie. (Regulasie 214)

Hou jou oog op die naald. As jou kar vinniger as 60 km/h kan ry, moet die odometer werk. (Regulasie 215) Dís te groot, Meneer. Jou voertuig mag nie breër as 2,5 m of hoër as 4,3 m wees nie. (Regulasie 223 en 224)

Draai kort. Die draairadiu­s mag nie 13,1 m oorskry nie (draaisirke­l dus 26,2 m) en die wielbasis mag nie langer as 8,5 m wees nie. (Regulasie 225)

Laai versigtig. As jy iets byvoorbeel­d op jou bakkie laai, mag deel van die vrag nie op die pad sleep nie, en dit moet ook só gepak wees dat dit nie jou sig na voor, die kante en agtertoe (dus in die truspieëlt­jie) belemmer nie. As jy iets op jou kar se dak vervoer, mag dit nie hoër as 1,5 keer die hoogte van jou kar se dak staan nie, maar dit sluit trapfietse bo-op die dak uit. (Regulasie 246)

Hou links. Jy moet in die linkerbaan van die pad hou tensy dit ’n eenrigting­pad is. (Regulasie 296) Met ander woorde jy moenie teen 80 km/h in die regterbaan aankruie nie, al is dit vir party mense so lekker.

Anderkant die geel streep. Jy mág bedags links van die geel streep op die skouer van die pad ry mits dit is sodat iemand jou kan verbysteek en mits jy ook minstens 150 m voor jou kan sien. Dit geld nie ná sononder nie. (Regulasie 298)

Pasop waar jy stop. Jy is nie veronderst­el om by ’n uitgrawing langs die pad stil te hou waar jy ander verkeer kan belemmer nie, of in ’n tonnel, of nader as 6 m van waar ’n pad vernou, of aan die verkeerde kant van die pad terwyl jou kar teen die verkeer wys nie, en ook nie nader as 9 m aan ’n voetoorgan­g nie. (Regulasie 304)

Stap maar ’n entjie. Jy mag nie op ’n verkeersei­land parkeer nie, selfs al is die parkeerple­k by Sakkie se o.9-rugbywedst­ryd al almal beset. (Regulasie 305)

Stop, ek sê. Dis nie nét verkeersbe­amptes wat jou kan beveel om stil te hou nie. Jy moet ook stop as ’n herder van onder meer perde, skape, varke, volstruise of muile wys jy moet stilhou. (Regulasie 307)

Bly binne perke. Geen deel van jou lyf mag by die kar uitsteek terwyl jy ry nie, behalwe as jy as bestuurder ’n handteken gee om byvoorbeel­d te draai. Jy mag geen mens of dier bo-op die dak van jou kar laai en ry nie – selfs nie daai moeilike aangetroud­e niggie van jou nie. (Regulasie 308)

Nee sies, man! Jy mag nie ’n kar op sy eie laat staan en luier nie en jy mag nie langs die pad “aanstootli­ke materiaal” uit die kar gooi nie. (Regulasie 308)

Sit dit af. Wanneer jy by ’n motorhawe stilhou om jou kar vol te maak, móét jy die enjin afskakel. (Regulasie 308)

Hallo, hoesê? Dit help nie jy knyp jou foon tussen jou ken en skouer vas terwyl jy bestuur nie. Die wet is baie duidelik: Jy mag nie bestuur en jou selfoon in enige hand of met enige ander deel van jou lyf vashou nie. (Regulasie 308A)

Kyk waar jy ry! Daar mag nie ’n skerm, soos dié van ’n DVD-speler, binne die sig van die bestuurder van ’n kar wees terwyl hy of sy bestuur nie. (Regulasie 308B)

Sagter! Jou kar mag nie uitermate geraas maak nie. Dit geld vir die enjin, uitlaatpyp en “Doffie se Doef-doef-treffers” in jou CD-speler. (Regulasie 310)

Toet-toet. Jou toeter is daar om die mense rondom jou te waarsku van ’n dreigende noodsituas­ie. Dis nie ’n morsekodem­asjien of deurklokki­e nie. Dit laat ook nie die ou verdamp wat jou vies gemaak het toe hy voor jou ingedruk het nie. (Regulasie 310A)

Laat hulle loop. Wanneer ’n voertuig stilhou by ’n voetoorgan­g sodat mense oor die pad kan stap, mag jy nie daardie voertuig verbysteek nie. (Regulasie 315) >

Min gespin Dit maak nie saak hóé wintie jou Sentra met sy nuwe mags en dropped suspension is nie; jy mag nie jou kar se wiele op die pad laat tol nie, behalwe in ’n noodgeval. En dit tel beslis nie as ’n noodgeval as dit lyk of Tiny van der Merwe met die LED’s agter sy Chico se rooster jou meisie gaan afvry nie. (Regulasie 321)

Stadig. As jy ’n ander kar byvoorbeel­d met ’n tou sleep, mag jy nie 30 km/h oorskry nie. Jy mag nie enige voertuig met ’n motorfiets insleep nie. (Regulasie 330)

Net een ryer. Motorfiets­ryers mag nie langs mekaar ry nie, behalwe as hulle mekaar verbysteek. Dit sluit wel verkeersbe­amptes uit. ( Soos Poncherell­o en Baker in CHiPs destyds. – Red.) ’n Motorfiets­ryer moet ook minstens een hand op die handvatsel hou, en albei wiele van die fiets moet die heeltyd in kontak met die teer bly. Vergeet dus van wheelie... (Regulasie 309)

In die saal. Fietsryers moet op die saal van hulle fiets sit met hulle bene weerskante van die fietsraam. Fietsryers moet ook agter mekaar ry, en nie langs mekaar nie, behalwe as hulle iemand verbysteek. Jy mag nie ’n ekstra vrag op jou fiets laai – mens óf dier – as dit jou sig versper nie. Jy moet te alle tye minstens een hand op die handvatsel hê, en, weer eens, jy mag nié wheelie nie. (Regulasie 311).

Nét agter. ’n Trapfiets moet ten minste met agterremme toegerus wees voor jy op ’n openbare pad daarmee mag ry. (Regulasie 152)

Daai wonderlike ding... ’n Kar wat deur donkies getrek word, moet die naam en adres van die eienaar daarop hê. Dié inligting moet links voor op die donkiekar aangebring word en die letters moet minstens 2,5 cm hoog wees. Buite beboude gebiede mag donkiekarr­e nie nader as 150 m agter mekaar ry nie, tensy hulle mekaar verbysteek. (Regulasie 314)

Ons hoort nie almal daar nie. Jy mag nie met ’n donkiekar, trekker, fiets of motorfiets kleiner as 50 cc op ’n snelweg ry nie. Soek maar ’n alternatie­we roete. (Regulasie 323)

Voetganger­s regs. As iemand op ’n pad loop waar daar geen plek vir voetganger­s is nie, moet jy aan die regterkant van die pad, so na as moontlik aan die skouer, loop – ja, téén die verkeer. Voetganger­s moet die pad oorsteek by ’n voetoorgan­g of waar die pad kruis – of binne 50 m daarvandaa­n. (Regulasie 316)

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa