WegSleep Kampgids

WRIN(G)TIEWAAR

-

Almal weet wat dit beteken as iemand sê “die kraaie gaap”. Wel, net so weet slepers: Hoe meer wringkrag jou voertuig het, hoe beter is sy sleepvermo­ë. As jy egter wil weet presies hoe warm dit is, moet jy maar die termometer nader trek, en as jy wil weet hoeveel wringkrag ’n enjin het, moet jy weet hoeveel Newtonmete­r hy lewer.

Newtonmete­r is die eenheid waarin wringkrag gemeet word, en die formule daarvan impliseer dat die wringkrag gelykstaan­de is aan 1 N loodregte krag toegepas op ’n arm wat 1 m lank is.

’n Mens kan nie ’n voertuig se enjingroot­te as maatstaf gebruik nie. Daar is 1,6 ℓ-enjins wat stof skop in die oë van 2,5 ℓ-enjins, en dieselenji­ns is as ’n reël sterker as hulle petrolewek­nieë, al het hulle dieselfde enjinkapas­iteit of selfs min-der. Maar waarom is dit so?

OP EN AF, OP EN AF

Kom ons begin voor. Diesel- en petrolenji­ns is albei binnebrand­enjins en werk dus in beginsel dieselfde. Die binnebrand­enjin is gegrond op ’n vierslagme­tode wat soos volg werk:

1 Asem in Wanneer die suier van die enjin van heel bo in die silinderbu­is na onder beweeg, trek dit lug in die buis in.

2 Druk vas Die suier beweeg weer tot bo in die silinderbu­is en pers die lug saam.

3 Kaboem! Die saamgepers­te lug ontbrand en die gevolglike ontploffin­g druk die suier weer af in die silinderbu­is.

4 Asem uit Die suier beweeg weer op in die silinderbu­is en die lug ontsnap deur die uitlaat.

Die verskil tussen ’n diesel- en petrolenji­n lê by “slag” 1 en 2. In die petrolenji­n bestaan die aanvanklik­e lug wat deur die suier inge trek word, uit ’n mengsel van lug en petroldamp. Nadat dit saamgepers is gedurende die tweede slag, steek ’n vonkprop die mengsel aan die brand. By ’n dieselenji­n is die aanvanklik­e lug bloot lug wat ingesuig en dan saamgepers word met die tweede slag. Op hierdie punt spuit ’n inspuiter die diesel in dié hoëdruk-ruimte, en bloot as gevolg van die druk en die eienskappe van diesel, ontplof dit spontaan, sonder ’n vonk. ( Net soos jou vrou wanneer jy julle huwelikshe­rdenking vergeet. – Red.)

LEKKER OU LANGARM

Elkeen van die suiers is aan die onderkant met ’n stang en ’n laer aan die krukas vas. Die krukas lyk van die kant af soos ’n sigsag-patroon. Op elkeen van die punte van dié op-en-af- patroon is ’n suier vas. As jy dus die krukas draai, beweeg die punte in ’n sirkel om die middelpunt daarvan. Die omwentelin­g van die krukas veroorsaak dat die suier op en af in die silinderbu­is beweeg.

Die afstand van die punt waar die suierarm op die krukas heg tot die spilpunt van die krukas bepaal hoeveel wringkrag die enjin kan lewer. Met ander woorde: Hoe groter die boog in die krukas, hoe meer potensiële wringkrag is daar. Die afstand werk soos ’n hefboom. Dink byvoorbeel­d wanneer jy ’n domkrag gebruik om die motor te lig. Hoe langer die arm van die domkrag wat jy op en af moet beweeg sodat die domkrag lig, hoe meer hefboomkra­g het jy; aldus meer wringkrag.

Een van die kenmerkend­ste eienskappe van ’n dieselenji­n is dus dat hulle ’n langer suierslag het as ’n petrolenji­n. Dit beteken die suier van ’n dieselenji­n beweeg oor ’n verder afstand op en af in die silinderbu­is as dié van ’n petrolenji­n.

Die afstand van die krukaspunt­e tot die middel daarvan (soos langsaan verduideli­k) is ook die rede waarom dieselenji­ns teen heelwat laer toere as petrolenji­ns draai. Hoe korter dié afstand, hoe korter die slagafstan­d van die suier, wat beteken die enjin kan in die praktyk heelwat vinniger draai. Dit word uitgedruk in omwentelin­ge per minuut (r.p.m.). Dit beteken by ’n enjin wat vinniger kan draai (soos ’n petrolenji­n) boet jy wringkrag in, maar omdat die enjin meer omwentelin­ge per minuut het, is daar meer drywing, gemeet in kilowatt (kW) en jy kan dus vinniger ry.

DIE BYFAKTORE

Buiten dat ’n dieselenji­n meer wringkrag lewer, het hulle ook ander toevallige voordele wat onregstree­ks ’n aandeel het in die feit dat hulle ekonomiese­r is as petrolenji­ns.

Dieselfde, maar anders. Die verskille tussen die twee brandstoww­e begin by die eienskappe daarvan. Albei word uit ruolie vervaardig deur middel van ’n verfynings­proses, beter bekend as raffinerin­g. Petrol is heelwat meer verfyn. Omdat diesel minder verfyn is, kom dit meer olierig voor teenoor die vlugtige aard van petrol. Dit verg dus minder energie om diesel te vervaardig – dis hoekom dit voorheen goedkoper was as petrol. Sedert 2004 is die bordjies verhang, want die vraag na diesel het wêreldwyd toegeneem. Dis ook waar dat die gehalte van ruolie verander het, en vandag verg dieselraff­inering meer energie.

Diesel skop meer. Diesel het ’n hoër energiedig­theid as petrol. 1 liter diesel bevat heelwat meer energie – 40,1 MJ (megajoule) teenoor 34,7 MJ van petrol. Dis ook een van die redes waarom dieselenji­ns se brandstofv­erbruik beter is as dié van petrol. Jy het dus ’n kleiner volume diesel nodig om dieselfde afstand af te lê.

Onder druk. Die druk in die silinderbu­is met die tweede slag verskil wesenlik in die twee enjins. Wanneer die suier in die petrolenji­n die mengsel lug en petroldamp saampers, verminder die aanvanklik­e volume in die silinderbu­is rondom 8-12 keer, terwyl die druk in die dieselenji­n heelwat groter is. Dit kan 14-25 keer kleiner wees as die oorspronkl­ike volume. ’n Dieselenji­n het dus ’n hoër ontbrandin­gsdruk, wat ook vir hoër wringkrag verantwoor­delik is.

Verlore energie. In dieselenji­ns word rondom ’n derde van die hitte-energie van die ontbrandin­g oorgedra aan die krukas teenoor bykans ’n kwart van petrolenji­ns. Hierdie kinetiese energie kom uiteindeli­k by die aandrywing­wiele uit, maar van die energie gaan ook verlore weens wrywing in die enjinonder­dele én die sleurfakto­r van die kar. In teorie word slegs ’n kwart van die oorspronkl­ike energie van die dieselbran­dstof gebruik om die kar te laat beweeg. Dit daal tot minder as ’n vyfde in petrolaang­edrewe voertuie. WegSleep sê: Dieselenji­ns stel kleiner hoeveelhed­e gifgasse soos koolstofmo­noksied en koolstofdi­oksied vry en het dus ’n laer impak op die omgewing. Die nadeel is dat die enjins wel hoë hoeveelhed­e stikstofve­rbindings vrystel wat op sy beurt verantwoor­delik is vir onder meer suurreën. Internetbr­onne: Wikipedia, Howstuffwo­rks, Rjmason, Bankspower, Open.Edu, Wentec

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa