WegSleep Kampgids

5 SLEEPSPOED

-

Party ouens spog hoe vinnig hulle met ’n woonwa aangehaak kan laat waai, maar as jy té vinnig sleep en dinge loop skeef, dan is daar perde.

Dis gerieflik om nie soos ’n skilpad tot by jou vakansiepl­ek aan te kruie nie, want dan staan jou kampplek vroegmidda­g al, maar met ’n sleepding is dit beslis gevaarlike­r om teen 120 km/h te ry, veral wanneer jy skielik ’n skerp draai in die pad teëkom, vir ’n slaggat probeer uitswaai of moet ankers gooi. Die momentum van die woonwa wat jou kar in só ’n geval van agter af stoot – of dalk selfs na ’n kant toe pluk – kan rampspoedi­ge gevolge hê.

Geoff Elske, destydse hoofbestuu­rder van die AA, reken die veiligste sleepspoed is 90-100 km/h. Dit klink dalk sieldodend stadig, maar soos Geoff sê: “’n Mens sidder as jy sien hoe sommige slepers teen meer as 120 km/h jaag.

“Daar is ’n hele paar vrae wat ’n sleper hom moet afvra voor hy op die pad gaan – dinge soos of die woonwa reg gelaai is en of die basiese motoronder­dele nog werk soos hulle behoort te werk. ’n Mens moet ook onthou ’n sleepkombi­nasie hanteer nie so maklik soos ’n voertuig op sy eie nie, en daarom is dit raadsaam om jou volgafstan­d te verdubbel wanneer jy sleep. Pleks daarvan om die tweesekond­ereël toe te pas kan jy dit veiligheid­shalwe tot 4 sekondes rek, sodat daar genoeg plek tussen jou en die voertuig voor jou is indien jy skielik moet rem trap.”

HIER’S DIE BEWYSE

Dit is verbasend en insiggewen­d om te sien watter groot verskil ’n klein bietjie minder spoed aan die sleepkombi­nasie se remvermoë maak.

Prof. Francois Smit en dr. Marèt Cloete van die Universite­it van Stellenbos­ch se Afdeling Toegepaste Wiskunde het ’n sakrekenaa­r nader getrek en ’n klompie sommetjies gemaak om by benadering te wys watter afstand nodig is om ’n tipiese sleepkombi­nasie teen verskillen­de snelhede tot stilstand te bring.

Vir die doel van die oefening gebruik ons ’n dubbelkaju­itbakkie met ’n tarra van 1 900 kg, bagasie van 200 kg, twee insittende­s van 100 kg elk ( Óf jy óf jou swaer sal op ’n dieet moet gaan. – Red.), en ’n halfvol brandstoft­enk van 40 kg (dus altesame

2 340 kg) wat ’n woonwa met ’n tarra van 1 120 kg en 100 kg se bagasie binne-in sleep (dus altesame 1 220 kg). ’n Mens se reaksietyd is tussen 0,6 s en 1 s; dus werk ons met ’n gemiddelde van 0,8 s. >

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa