WegSleep Kampgids

5 IS ’N BATTERY NET ’N BATTERY?

-

Nie alle batterye is gelyk geskape nie Daar’s die “gewone” battery en dan is daar die battery met ’n indrukwekk­ende naam: Diepsiklus­battery. Dís wat jy behoort te weet oor só ’n battery.

DIE NAELLOPER

’n Gewone loodsuurmo­torbattery is ontwerp om ’n sterk stroom vir ’n kort tydjie te lewer – om byvoorbeel­d die motorenjin aan die loop te kry wanneer jy die sleutel in die aansitter draai.

Die kragleweri­ng is soos dié van ’n McDonald’s-burger: Vinnige energie, maar dit hou nie lank nie. Sodra die enjin aan die gang is, verskaf jou voertuig se alternator die elektriese krag wat nodig is vir die ruitveërs, lugreëling en dies meer. So ’n battery kos tussen R400 en R3 100 en behoort vir ongeveer vyf jaar te hou as jy dit reg geruik.

DIE COMRADES-ATLEET

’n Diepsiklus­battery berg twee tot drie keer soveel krag (RC of reserve capacity) as ’n gewone battery, maar lewer slegs 50-75% van die aanvangskr­ag (CCA of cold crank amps). Anders gestel: Dié battery gee oor ’n langer tydperk ’n standhoude­nde stroom.

Dit kan ook eenmalig ’n sterk stroom lewer, maar dis minder as ’n gewone battery. Gebruik dié battery vir jou yskas. Dit kos tussen R1 500 en R1 900. Jy kan dié battery ’n paar honderd keer gebruik en herlaai.

Lei hom koud

Moenie ’n diepsiklus­battery pap bêre nie. Laai hom eers, anders gaan jy vir jou volgende vakansie ’n nuwe een moet koop.

Jellie, enigiemand?

Daar is ’n nuwe soort diepsiklus-battery op die mark. Dit word met “jellie” gevul en kan vinniger en meer keer herlaai word as ’n gewone diepsiklus­battery. Deur dik en dun

’n Diepsiklus­battery het gewoonlik 14,2 V gelykstroo­m nodig om behoorlik te laai. As die drade van jou motor se dubbele batteryste­lsel te dun is, gaan jou battery moontlik nooit vol laai nie.

HELP ’N PAP BATTERY

Op ’n manier is ’n battery soos ’n huwelik: Dit verg voortduren­de onderhoud. Goed, ons oordryf dalk nou effens, maar behandel jou battery met respek en hy sal jou vleis bevrore en jou bier koud hou.

Dit is nie goed vir enige battery om pap te word nie, en een van die groot vyande is ’n goedkoop batterylaa­ier wat nie voorsienin­g maak vir die drie verskillen­de laaifases nie. In die proses word die battery dus dikwels “oorlaai”.

1 Begin stadig. Koppel die battery aan ’n laaier en sit dit op “stadige laai” ( slow charge) vir minstens 4 uur.

2 Bou spoed op. Skakel dan oor na “gewone laai” vir ’n verdere 5 uur.

3 Maak hom vol. Sit dit laastens op “syferlaai” ( trickle charge) vir ’n dag of twee om die battery weer heeltemal vol te laai. En moenie jou yskas aan die battery koppel terwyl hy laai nie.

EN WAT BETEKEN DIT?

Op elke battery is daar vier syfers wat, as jy verstaan wat dit beteken, jou kan help bepaal hoe lank die battery jou yskas of toerusting aan die gang sal hou.

Volt (V): Dit beskryf die sterkte van ’n elektriese stroom en word bepaal deur die potensiaal­verskil tussen twee pole van ’n kragbron – amper soos die drukking in ’n waterpyp tussen ’n vol en leë tenk. Hoe hoër die vol tenk bo die leë een is, hoe groter is die drukking in die pyp. Motorbatte­rye en diepsiklus­batterye is normaalweg 12 V.

Ampère (A): Ampère is vergelykba­ar met die volume water per sekonde wat ’n pyp deurlaat. Teen 50 ml per sekonde sal dit sowat 3 minute duur vir ’n 10 ℓ-tenk om leeg te loop. ’n Battery van 105 A sal dus teorieties 42 uur hou as jou yskas 2,5 A per uur gebruik.

Aanvangskr­ag (CCA): Die hoeveelhei­d ampère wat die battery teen vriespunt vir 30 sekondes kan lewer. Reserwe-kapasiteit (RC): Dit is die kapasiteit van ’n battery, gemeet in uur, om konstant 25 A te lewer voor hy pap word. ’n RC van 4 beteken dus jou battery behoort vir vier uur te hou.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa