4 ’N NOODSAALIKE VUUR-WAPEN
Brandblussers is soos die vullislorrie: ’n Mens neem nie eintlik kennis van hulle nie, maar die dag as daar nié een is nie, is jy kniediep in die gemors.
Almal weet mos daar’s ’n omgekeerde verhouding tussen hoe lank ’n mens sukkel om ’n sakkie nat hout aan die brand te kry en hoe vinnig iets in jou kampplek per ongeluk vlam vat. Dan is dit nie die tyd om te wonder waar jy die brandblusser ingepak het nie. En wanneer jy hom wel in die hande kry, beter hy werk, want niemand gaan dik van die lag wees as jou wa in ligte laaie staan terwyl jy probeer uitpluis hoe om die skuim te laat spat nie.
Die Verkeerswet is duidelik wanneer dit kom by brandblussers en woonwaens: ’n Woon- of sleepwa met ’n tent bo-op móét toegerus wees met een of meer draagbare brandblussers (die soort met droë chemikalieë, minstens 1 kg). En jy moet hom op ’n veilige, maklik bereikbare plek bêre – in die geval van ’n woonwa reg langs die deur.
WATTER BRANDBLUSSER?
Daar is ses algemene soorte brandblussers – elkeen gevul met ’n ander inhoud vir die bestryding van ’n spesifieke soort brand. Dit sluit koolstofdioksied, skuim en water in. Afhangende van die deel van die wêreld waar jy jou bevind, kan brande in tot ses groepe verdeel word, maar ons kyk na drie:
Dit sluit dinge in soos hout, papier en tekstiel – min of meer alles waarvan jou wa gemaak is.
Dit is ’n brand van vlambare vloeistof of gas. Daar is heelwat in jou kampplek – dinge soos kookolie, ghries en LP-gas.
Dit behels brande rondom elektrisiteit. Die meeste woonwaens en boswaens word met ’n 220 V-prop aan die kragpunt gekoppel. Die krag word dan verdeel tot ’n muurprop naby jou, of in die Hellaprop afgeskaal tot 12 V. Dis dus moontlik dat jy met een van dié soort brande te doen kan kry.
Brandblussers wat met droë chemikaliese poeier gevul word, kan vir die bestryding van al drie dié soorte brande gebruik word, en daarom bepaal die wet dat jy een van dié soort blussers in jou woonwa moet saamry.
A-klas. B-klas. C-klas. STOF TOT NADENKE
Raymond Nel van TransFire sê die poeier in brandblussers met droë chemikalieë is eintlik ’n soort sout – monoammoniumfosfaat, afgekort tot MAP. Hoe doeltreffend die poeier ’n brand sal blus, word uitgedruk in ’n persentasie, byvoorbeeld 40% MAP, 70% MAP en 90% MAP. Die 40% MAP-blusser is dus minder doeltreffend as die 90% MAP. Volgens Raymond is die 40% MAP byna in alle gevalle die minimumstandaard in die bedryf.
Droë chemikaliese poeier werk anders as wat ’n mens dink: Dit smoor nie die vlamme nie, koel nie die hitte af nie en verwyder nie die brandstof nie. Dit werk eerder die chemiese reaksie teen wat ontbranding veroorsaak. Dié blussers se blusafstand is 2,5-3 m, wat beteken jy gaan elke hoek van jou Exclusive bereik as jy in die middel staan.
Raymond reken egter kampeerders moet ’n groter brandblusser oorweeg as die 1 kg wat die wet voorskryf, want dié bottel se vermoë is in baie gevalle nie toereikend nie (1 kg is wat die meeste woonwa- en waentjievervaardigers in hulle waens monteer).
HOE WERK HY?
Brandblussers is een van daardie dinge wat ’n mens nie graag wil gebruik nie, want as dit die geval is, praat jy van moeilikheid. Maar dis belangrik om voorbereid te wees op ’n brand en te weet hoe jou blusser werk.
Die inhoud van die bottel is onder ’n druk van 1 400 kPa. Saam met die monoammoniumfosfaat in die bottel is stikstofgas. Stikstof is ’n skoon, droë gas wat op sy beurt sorg dat die fosfaat droog bly. Sodra jy die veiligheidspen van die blusser verwyder en die spuithefboom druk, maak ’n seël na die inhoud van die silinder oop sodat die stikstof kan ontsnap. Die fosfaat is swaarder as die stikstof en lê dus onderin die bottel. Sodra die klep oopgaan, wil die stikstof ontsnap, en die pad uit na die kop toe is deur ’n pyp wat tot onder in die bottel strek – wat dus veroorsaak dat die fosfaat saam met die stikstof uitgeblaas word.
EEN JAAR DIENSPLIG
’n Mens hoor soms om die kampvuur ander mense se staaltjies van hoe een van hulle woonwaens se wiele afgespring het omdat wiellaers jare laas nagegaan is. Van brandblussers wat net skoonveld is of nie gewerk het nie omdat hulle nie gediens is nie, hoor ’n mens (gelukkig) nie sommer nie.
Raymond sê volgens wet moet alle brandblussers minstens een keer per jaar gediens word. So ’n diens neem omtrent 15-20 minute en behoort in die omgewing van R50 te kos. Maar dit verg meer as om bloot by jou naaste ysterwarewinkel in te stap. Om te sien wie jou naaste geregistreerde handelaar is, kan jy op die webwerf van die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-en-sertifiseringskomitee vir die Vuurbedryf (SAQCC) gaan kyk. Gaan na saqccfire. co.za/search_town.asp, tik die naam van jou dorp in, en jy sal ’n lys van kundiges in jou omgewing kry.
Dit is belangrik om seker te maak die ouens wat na jou brandblusser omsien, weet wat hulle doen, sê Raymond. Die blusser is onder enorme druk en dit maak hulle gevaarlik om te diens.
Wanneer die bottel gediens word, word hy eers geweeg om seker te maak daar is