Hoe nou met kunstefeeste?
Ná die beëindiging van Aardklop in sy huidige formaat, is daar vrae rondom die toekoms van ander soortgelyke Afrikaanse kultuurlekkertes
AFRIKANERS is plesierig, lui die ou gesegde . . . en twee dekades lank was dit waar. Mense op soek na Afrikaanse kultuurlekkertes het in hul derduisende na saamtrekke soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) gestroom. Die teaters was stampvol, die oop verhoë gewild, en by die biertente en vetkoekstalletjies het dinge jolig gegaan.
Toe kom die skoknuus: Aardklop in sy huidige formaat is kapoet. Potchefstroom sal nie in Oktober weer die middelpunt van Afrikaanse musiek, toneel en beeldende kunste wees nie.
Dié nuus het baie rolspelers in kultuurkringe omgekrap. “Alle belanghebbendes is nie behoorlik ingelig nie; dis hoekom dit so ’n skok was,” sê Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV. “Dit was verkeerd en almal is nou in die duister.”
Aardklop is tjoepstil oor nuwe planne, maar Huisgenoot verneem die toekoms van Aardklop is teen druktyd tydens ’n geslote vergadering met belanghebbendes by die Woordfees bespreek.
“Wat werkverskaffing betref, is dit ’n tragedie. Maar as dit Aardklop se bestuur noop om met nuwe projekte deur die jaar werk te verskaf, kan ons doen met minder feeste, wat tans meer geld bestee aan die infrastruktuur as aan die kunste,” meen die teaterman Marthinus Basson.
Die Aardklop-debakel het vrae laat ontstaan rondom die voortbestaan van ander plaaslike kunstefeeste. Is Afrikaanse kunstefeeste lewensvatbaar? En het dit nog ’n bestaansreg in Suid-Afrika?
Regmerkies vir Afrikaanse kunstefeeste
Die KKNK is gefokus op die kunste en is ’n fees waar alle Afrikaanses kan tuis voel, sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, wat die KKNK aanbied. “Die feit dat ons op die kunste fokus, maak ons relevant. Die kunste is ’n skeppende voertuig wat kommentaar lewer, weerspieël en kan beïnvloed.”
In navorsing deur die Rhodes-universiteit verlede jaar is bevind 55 persent van KKNK-feesgangers is wit, 37 persent bruin, 6 persent swart, 2 persent van Indiese afkoms, en 83 persent van alle feesgangers is Afrikaanssprekend.
Die bohaai rondom die afskaffing van Aardklop wys daar is nog ’n behoefte aan Afrikaanse kunstefeeste, sê dr. Ricardo Peach, direkteur van die Vrystaat Kunstefees (voorheen die Vryfees).
Kultuur is nie ’n geslote entiteit nie, glo Saartjie Botha, feesdirekteur van die Universiteit Stellenbosch se Woordfees. “Dié fees bied ’n platform waar die diversiteit in taal beoefen en gevier kan word. Dis ook ’n kans om nuwe roetes in te slaan en van onnodige bagasie ontslae te raak.”
Japie meen kunstefeeste het ’n belangrike leemte gevul nadat die vorige bedeling se streekrade ontbind is. Dit het gesorg vir ’n plek waar Afrikaanse drama kan floreer – in so ’n mate dat dié aanbod ook Engelse teatergangers lok.
Hy voeg by Afrikaanses hou van vermaak en is beslis nie feesvoos nie: “Afrikaanse mense is so aanmekaargesit dat hulle lojaal is teenoor taal- en kultuurgoed en baie daarvan hou.”
As iemand wie se brood en botter teater is, glo Marthinus kunstefeeste het werk verskaf, hom in teater gehou en wonderlike geleenthede geskep, maar hy vra die vraag: “Wat het dit gevestig be- halwe ’n feeskultuur met ’n gebrek aan langtermynvisie?”
Die grootste uitdagings
“Ekonomiese druk is ’n globale werklikheid. Dis vir almal ’n uitdaging en beïnvloed natuurlik ook die kunste en feeste,” verduidelik Hugo Theart, ’n onafhanklike vervaardiger en kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk. “Ons moet volgens die huidige omstandighede besluite neem sodat kunstefeeste kan vernuwe en aanpas om ’n gesonde toekoms vir hulle, die kunste en die kunstenaars te verseker.”
Oorlewing is aldus Marthinus die Afrikaanse feeste, wat meestal van borge en kaartjieverkope afhanklik is, se grootste uitdaging. “Verskeie feeste word op universiteitsdorpe gehou, met universiteitsteun. Met die huidige debatte om Afrikaans kan ek nie sien dat dit op lang termyn lewensvatbaar sal wees nie, al maak Afrikaans ’n belangrike bydrae tot
die kulturele debat en is dit broodnodig vir balans en uitdaging.”
Die gesoute akteur Chris van Niekerk (voorheen die Oppiekoffie-eienaar Francois Rossouw in 7de Laan) beaam: “Tye het so ongelooflik verander dat ons nie kan aanhou om net suiwer Afrikaanse feeste aan te bied nie.”
Hy glo kunstefeeste het die teaterlandskap verwater omdat mense nie meer teater toe gaan nie; hulle bestee eerder hul geld aan kunstefeeste. Chris meen kunstenaars het nie genoeg insae in hoe feeste bestuur word nie en hulle is “kwaad” omdat ’n kerngroepie besluite neem. “Ek is nie suur nie – ek is mal oor my werk; ek is net hartlik bekommerd.”
“Daar is nie te veel feeste nie, maar dit het moeiliker en duurder geword vir mense om ver te reis,” sê Andy Lubbe, Innibos-feesbestuurder. “Daar is dus beslis ruimte vir feeste in verskillende geografiese liggings.”
Een van die uitdagings van die Vrystaat Kunstefees is om sy gehore te laat bly groei, verduidelik Ricardo. Dit doen hulle deur vernuwing, soos met die literêre en rimpelfees, wat vanjaar saam met die hooffees aangebied word.
Om agterstewes op sitplekke te kry is volgens Niël Rademan, sanger en uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, hul grootste uitdaging. Dié fees het ’n teaterbywoningsprojek begin waarin individue en sosiale groepe met sekere produksies verbind word.
KKNK (Oudtshoorn)
Die KKNK is die eerste keer in 1995 aangebied en Rhodé glo die fees het nie ’n vervaldatum nie.
“Kyk byvoorbeeld na die National Arts Festival in Grahamstad, wat sedert 1974 bestaan. Myns insiens is dit die vraag na ’n fees se inhoud en die fees se unieke aantrekkingskrag wat sy toekoms bepaal.”
Die KKNK kan nie met sekerheid sê hoeveel feesgangers in ’n gegewe jaar by die fees was nie omdat bywoning by gratis aktiwiteite, soos die RSG-verhoogprogram, nie gemeet word nie.
“Ons het wel rekords van amptelike kaartjieverkope, wat toon in die eerste jaar is net minder as 31 000 kaartjies benut, teenoor 164 000 in 2002, 169 500 in 2010 en 185 788 in 2015.”
Vrystaat Kunstefees (Bloemfontein)
Die Vrystaat Kunstefees is in 2001 in Bloemfontein begin. Dit toon konstante groei, sê Ricardo. “Vier jaar gelede het ons140 000 besoekers gehad en verlede jaar 160 000.” Anders as ander kultuurfeeste is daar nie ’n klomp hoofborge nie. “Ons word hoofsaaklik deur die universiteit (Kovsies) en Volksblad finansieel gesteun, maar dis die steun van plaaslike ondernemings wat ons uniek maak.”
Innibos (Nelspruit)
“Innibos het hom oor die afgelope 12 jaar gevestig as een van die groot rolspelers in die Suid-Afrikaanse kunstefeeslandskap,” meen Andy. Hy sê 25 000 mense het die eerste fees in 2004 bygewoon. “Dit het jaarliks gegroei en die afgelope paar jaar handhaaf ons ’n bywoningsyfer van ongeveer 110 000 feesgangers oor die vyf dae van die fees.”
Verlede jaar het die fees R109 miljoen in die plaaslike ekonomie gestort.
Suidoosterfees (Kaapstad)
Die Suidoosterfees is vanjaar in sy 13de bestaansjaar en waarskynlik die inklusiefste Afrikaanse fees in die land, sê Niël. “Ons hoop om minstens nog 13 jaar te bestaan.” Dié fees is ook geldelik van skenkers en ondersteuners afhanklik. “Die direksie van ’n fees behoort paraat en opportunisties te wees om moontlike skenkers te identifiseer,” sê Niël.
Woordfees
Die Woordfees is vanjaar 17 jaar oud en volgens Saartjie is dit uiters belangrik dat dit voortbestaan.
Volgens haar het die fees tans 20 persent meer geldwaarde as verlede jaar en kaartjieverkope het met 30 persent gestyg. “Ons het ’n lojale gehoor wat dit steun. Ons het wel nog heelwat werk om te doen om ons gehore demografies verteenwoordigend te kry. Volhoubaarheid bly ’n uitdaging.”