KLERE VIR ’N ENGEL
Emma se kop pyn, want haar babakamer bly leeg en haar engel huil en huil van die koue
OPSTAANTYD is daar spikkels bloed. Emma se spoke gaan haar weer bloots ry. Haar kop is seer. Sy sou wou huil, maar Herman duld dit nie meer nie. Eers het hy getroos en moed ingepraat met probeer is die beste geweer, toe begin grappies maak oor gewere wat misskiet en raak skiet, en later ál stiller geword toe hy sien haar lag droog op. Deesdae blaf hy net dat sy moet ophou om berge van molshope te maak.
Genadiglik het die engel gekom om vertroosting te bied.
Die engel huil die afgelope paar dae onophoudelik. Eers het sy gedink dis oor hy die spanning tussen haar en Herman aanvoel, maar toe ontdek sy . . .
Vandag moet sy uitkom, voor sy mal word en tussen hierdie mure versmoor. Of erger nog, haarself met die naaimasjien aan haar naaldwerktafel vasstik. Sy kan nie heeldag hier sit en na ’n hui- lende hemelwese luister nie, nie met so ’n kopseer nie. Winkels toe vir asemskep en ’n skoon kop.
“Hou tog ’n ogie; ek sal gou wees,” prewel sy oor haar skouer vir Herman agter sy rekenaar. So het hulle die afgelope tyd met mekaar leer praat: oor skouers, om hoeke, per SMS en elk met sy eie baba (syne ’n tenderdokument; hare ’n engel).
“Jy sluit jouself ál meer af,” het hy een aand verwyt. “Ek weet nie meer wat in jou kop aangaan nie.”
“Dis oor jy soos ’n wekker afgaan elke keer dat jy jou mond oopmaak,” het sy teruggekap.
Sy is vroeg kamer toe; hy was in elk geval op sy rekenaar besig. “Jammer,” het sy ge- SMS. “Ek slaap min.” Hy het geantwoord: “Ditto. Hou moed – ek hoor Vrydag oor die tender. Uiteet as dit goeie nuus is?” Maar toe het sy reeds geslaap.
Dis moeilik om ’n engel aan te trek; daarvan kan jy Emma ná die afgelope week se aanhoudende gehuil niks vertel nie. Die huilery vreet soos kanker aan haar brein. Vandag moet sy eenvoudig ’n oplossing vir die tameletjie kry. Sy gaan winkels toe om engelklere te soek. Gewone babaklere deug eenvoudig nie, want die vlerke is ’n probleem.
By die eerste babawinkel kyk hulle haar aan asof sy ’n vreemde taal praat. By die tweede sê die vrou sy moet Woolies probeer. Klere wat vlerke in ag neem, bestaan nie, besef sy toe sy by die derde winkel ook onverrigter sake uitstap.
“Mevrou moet by die gaan hoor,” stel die verkoopmeisie voor. “Ons het nie partytjieklere nie.”
Emma sug. Sy het laas nag heeltemal te min geslaap om hoflik te verduidelik wat haar probleem is. Al wat sy soek, is ’n verdomde engeluitrusting sodat sy by die huis kan kom en die bul by die horings pak. Of dan die engel by die vlerke.
“Gôgô,” sug sy. Sy lees die vrou se naam