PURE PLAAS OP NAMPO!
Dit was ’n miernes van bedrywighede op die jaarlikse oesdag, die grootste SA landbousaamtrek
DIS skaars negeuur in die môre, maar die voertuie kruie al in lang rye na die vyf verskillende ingange. Voor die week verby is, sal minstens 70 000 mense deur dié hekke stroom – baie van hulle in bakkies, want die jaarlikse Nampo-oesdag is immers die grootste saamtrek op die Suid-Afrikaanse landboukalender.
En vanjaar is dié geleentheid, wat oor vier dae strek, selfs groter as gewoonlik. Dis die 50ste Nampo-oesdag en boere en ander rolspelers in die bedryf kom van heinde en ver. Maar daar word nie net padlangs opgeruk hier na die Nampopark-skouterrein tussen Bothaville in die Vrystaat en Orkney in Noordwes nie.
In die lugbeheertoring hou Cliff Lotter, eienaar van die Wes-Transvaalse Vliegskool in Klerksdorp, die lugruim stip dop. Dis vanjaar die vierde keer dat hy in beheer is van lugverkeer, vertel hy. So elke vyf minute land ’n vliegtuig. Die groottes, soos die Beechcraft King Air 200 met 12 sitplekke, behoort aan korporasies en uitstallers. Uit die klein twee- en viersitplekvliegtuie klim boere en sakelui. Die vorige dag het sowat 60 vliegtuie en 15 helikopters geland, sê Cliff terwyl die volgende vliegtuig die landingstrook nader.
Dan land Robey van den Heever in sy tweesitplek-Van’s RV-9. Hy het die langste van almal gevlieg, sê hy toe hy uitklim. “Ja, ’n hele drie minute!” skerts hy. Robey boer so 5 km van Nampopark af, “maar ek vlieg liewer as om in die verkeer vas te sit”, sê hy terwyl hy na die duisende voertuie op die reuseparkeerterrein kyk.
Drie mielieboere en agt uitstallers het die oesdag hier in 1967 begin. Vyf dekades later is daar meer as 650 uitstallers.
Op Nampopark groet ou bekendes mekaar en op ander plekke staan en bespreek mense in groepe die jongste landboutegnologie. ’n Mens kan sommer sien almal is lus om lekker te Nampo . . .
HY WAS nog nie eens op skool nie, toe was hy al op sy eerste Nampo, vertel Pieter Swanepoel, ’n jong boer van die distrik Bothaville. “Daarna het dit ’ n jaarlikse instelling vir my geword.” Hy vertel wat almal sê: Elke keer leer hulle as boere iets nuuts, want elke jaar is daar nuwe tegnologie. “Ons moet op die hoogte bly hiermee.”
Talle landbouskole, asook hoërskole wat landbouvakke aanbied, het hul leerders met busse aangery. Hulle is hier om te leer en praktiese ondervinding op te doen, verduidelik Nathan Godrich, ’n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Erasmus op Bronkhorstspruit, Mpumalanga.
Hulle praat met van die uitstallers, waarna hulle ’n skooltaak moet doen. “Ons moet navorsing oor vier diersoorte doen, soos wat hul eienskappe is, hul eetgewoontes en hoe om hulle te versorg,” gesels sy klasmaat Melanie Raath saam.
Dié jong klomp is passievol oor boerdery. Dit is die toekoms, sê Rainart Joubert beslis. Victor Taute voel die land kort meer boere. Nicolene Botha het ’n