TJEERS OP ’N DOP MET SKOP!
Op die Kultuurstokersgilde se jaarlikse mampoerfees is gevaarwater geproe, stookmeesters s aangewys, en veteraanenjins en swepe ten toon gestel
DIE oggendson het skaars die nagkoue verdryf, toe staan die motors al tou voor die ingang van die Willem Pretorius-landboumuseum. Vandag is ’n groot kuier-en-partytjiedag, want dis weer tyd vir die gewilde mampoerfees wat die Kultuurstokersgilde elke jaar hier tussen Rayton en Bronkhorstspruit oos van Pretoria hou.
Natuurlik sal geproe moet word aan al die honderde verskillende gestookte produkte van die meesters, maar eers moet hy koffie in sy lyf kry, laat hoor Martin van Wyk, een van die besoekers, met die intrapslag.
Meer as net mampoer is vandag op die spyskaart. Later gaan Suid-Afrika se bobaasstokers aangewys word en nou, voor die groot proe in alle erns begin, drentel feesgangers tussen die sowat 100 stalletjies en tentoonstellings op die vlooimark rond terwyl hulle wag dat die Boeing oorvlieg en dit darem nie meer onbetaamlik vroeg is om ’n dop te drink nie.
Aan die suidekant van die terrein laai lede van die Hoëveld-veteraanenjinklub hul antieke enjinsns van sleepwaens en bakkies af.
Dick Venter draai sy rooi Wolseleyenjin van 1956 wat 5 pk. uitstoot, aan die brand. Hy vee die enjin met ’n lappie skoon en maak seker g’n spatsel olie bly op die blink metaal agter nie.
Hy het 22 gerestoureerde enjins by die huis waarvan die meeste “van ’n skrootwerf gered is”, vertel hy. Dick verstel aan die petrol-inlaat en die enjin dreun vinniger. “Hoor hoe mooi loop hy,” spog hy, sy oë blink van verwondering.
’n Ent verder staan Peter Ponsteen tussen vier van die enjins wat hy vandag