Huisgenoot

SEUN BLY WEG UIT KERK

-

Ek skryf hierdie brief met soveel hartseer oor my kind. Hy is ’n intelligen­te man van amper 30 en was altyd ’n gelowige kind. Toe aanvaar hy ’n pos in die stad. Daar moes hy soveel oortyd werk dat hy nooit by die kerk uitgekom het nie. Nou het hy ’n ander werk in ’n ander stad, maar hy gaan steeds nie kerk toe nie. Hoe kan ek hom help? Hy is nogal eiewys.

Help, asb.

Jy is dalk bang jy het jou kind nie genoeg leiding gegee nie. Maar as ’n volwasse kind sekere besluite – waaroor ook al – kan neem, kan ouers voel hulle het iets bereik. Dit wys julle het hom bemagtig om keuses te maak, dat hy met vertroue vorentoe kan gaan en bereid is om die gevolge te dra.

As ons ons kinders altyd wil red en beskerm, vererger ons net alles. Dan vorm ’n patroon van afhanklikh­eid wat tot almal se nadeel is.

Tog bly dit moeilik as dit by groot lewenskwes­sies soos geloof kom en ons kinders nie aan ons verwagting­s voldoen nie. Dan is dit ons plig as liefdevoll­e ouers om hulle so te help dat ons nie met hul groei inmeng nie.

Die geloof- en lewenspad wat jou volwasse kind moet loop, is sy pad; jy kan dit nie namens hom loop nie. Jy het hom reeds aanwysings gegee en hom daarvoor toegerus. Daarby moet jy jou nou berus.

Dit is makliker gesê as gedaan, want ’n ouer wil bly help. Maar daar is ’n gesonde en ’n ongesonde manier om dit te doen.

Moenie hand bysit omdat jy voel jy wil nodig wees in jou kind se lewe nie. Jou hulp moet onvoorwaar­delik wees. Staan hom by deur te sê: “Ek is hier om te luister, maar neem jou eie besluite.” Respekteer die grense wat hy stel.

Sluit aan by ’n uitreiking­saksie van jou kerk en deel jou geloof, hoop en gebede met meer as net jou eie gesin. Dit sal jou help om op iets anders te fokus, uit die huis te kom en waardevol te voel daar waar jy ’n verskil wil maak.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa