Huisgenoot

VUURVRETER SONDER VOORGEE

-

SY HET die soort grasie wat ’ n mens net by iemand kry wat haarself goed ken en verstaan. Dis dalk hoekom Susan Sarandon nie skroom om te sê wat sy dink nie, al het dit haar al doodsdreig­emente besorg. Ma-wees was ook nie op haar agenda nie, maar toe dit gebeur, het sy dit met oorgawe aangepak – nes alles anders in haar lewe. Katie Glass het kort voor Susan se 70ste verjaardag met haar gesels oor haar nuwe rolprent, The Meddler, en haar avontuurry­ke lewe.

SUSAN SARANDON lyk deksels goed vir 69. Verbasend ontspanne ook, veral vir iemand wat pas van Los Angeles na Londen gevlieg het. Haar hare, lossies op haar kop vasgesteek, lyk eerder rooiblond as rooitapyt-rooi. Sy is informeel aangetrek in ’n los, pienk kaftantop met blinkertji­es. Sy trek daaraan en kla: “Ek is op my vetste.” Tog lê sy weg aan die brood op die tafel en sê sy is honger. “Kom ons bestel oesters!”

Ek erken ek is effens teleurgest­eld. Ek het gehoop om Susan op haar smeulende en verleideli­ke beste te ontmoet. Sy was immers die sexyste feministie­se ikoon nog in Thelma & Louise (1991).

En 25 jaar later is sy steeds ’n verleidste­r. Sy het foto’s getwiet van waar sy by vanjaar se Cannes-rolprentfe­es haar borsgleuf met Salma Hayek s’n vergelyk. Daar het sy in ’n aandpakrok met ’n lae hals (haar “dubbelbors­voorkoms”) opgedaag en op die rooi tapyt die kollig gesteel van sterre 40 jaar jonger as sy.

In 1975 het sy Janet gespeel in The Rocky Horror Picture Show, waar sy Frank N. Furter (Tim Curry) en Rocky Horror (Peter Hinwood) op een aand verlei het. In die regte lewe het sy in die 1980’s drie jaar lank ’n verhouding met David Bowie gehad nadat hulle op die stel van The Hunger ontmoet het.

Jare lank het Playboy haar gesoebat om vir hulle te poseer en ál meer geld aangebied. Nou sê sy sy is spyt sy het dit nie op haar eie voorwaarde­s gedoen nie, op ’n manier wat haar nie sou “ontmenslik” of tot ’n voorwerp verlaag nie. Sy het aangebied om kaal te poseer terwyl sy swanger was, maar hulle het nie belanggest­el nie. Nou kan sy dit nie doen nie, “want ek het twee volwasse seuns”.

Tog sou ek haar vandag dalk nie herken het toe sy by die Claridge-hotel instap nie. Anders as glansmense wat met ’n gevolg reis terwyl hulle groot Pradadonke­rbrille dra en oor die paparazzi kla, vermy Susan ’n ophef. In Hollywood sê sy is sy “’n soort buitestand­er”. Sy verkies om in New York te woon, want “as ek in Beverly Hills agter hekke afgesonder was, wonder ek of ek met die groter prentjie kontak sou kon behou”. Dit is vir haar belangrik.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa