HELP DIÉ WAT KOUD KRY, HONGER LY
Die grys wolke hang vanoggend laag oor Pretoria. Dit lyk en voel nes ’n reënerige dag langs die see. En dit is koud, hopeloos te koud om aktief te wees. Gelukkig kan ons wat nie meer werk nie, dieper onder die warm beddegoed inkruip en so ’n bietjie langer daardie boek lees wat al so lank op die bedkassie lê.
Sommige mense raak terneergedruk van die skemerigheid en huisgebondenheid. Vir my is daar amper iets eteries aan sulke dae, so asof die harde werklikheid vir ’n rukkie versag word, asof dit mense verenig omdat almal noodgedwonge binne moet bly – saam onder ’n kombers televisie kyk, lees of blokraaie invul en lekker warm sop eet.
Dit is nou as jy gelukkig genoeg is om die beskutting van ’n huis te hê en warm sop het om te eet. Want so lekker soos reën, koue en bewolkte dae vir my is, so vreeslik is dit vir dié wat aan die elemente blootgestel is. Ek het nie die vermoë om al hierdie mense se nood te verlig nie,
maar ek kan en gaan ’n verskil probeer maak deur die organisasies te steun wat hierdie mense help. MARIE GEYER